Nuuskommentaar: Riooletiek

Betogings gedurende ‘n die toiletsage in Khayelitsha in 2011. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die uitdrukking “rioolpolitiek” het nie uit die lug geval nie. Dit beskryf die laagste vlak van vuil politiekery waartoe ‘n mens kan daal. Tog het lede van die ANC-jeugliga in die Wes-Kaap daarin geslaag om nog laer te daal, in wat ‘n rubriekskrywer in Engels “poolitics” noem en wat seker in Afrikaans met “poefietiek” vertaal kan word.

Dit is om letterlik menslike afval as politieke wapen in te span. Eers is die Wes-Kaapse wetgewer onder skoot geplaas, en toe die bus waarin premier Helen Zille onderweg was.

Die probleem waarmee die ANC te kampe het, is dat dit volgende jaar weer algemene verkiesing is. Die ANC het reeds sy groeiteikens gestel – iets wat glad nie te rym is met die omvang van diensleweringsproteste nie. Pas het pres. Jacob Zuma weer ‘n groepie buitelandse diplomate verseker: “Ons het ons belofte behou om vir almal ʼn beter lewe te skep. Ons het die kwaliteit van ons mense se lewens verander.” Lees volledige berig hier. Die kritiek op Zuma se maanskyn-aansprake stroom in, met die algemene strekking dat die land nou nog swaarder gaan kry deurdat Zuma sy geloofwaardigheid net weer in die voet skiet.

Die Wes-Kaap is vir die ANC in meer as een opsig ‘n klip in die maag. Nie alleen is dit die enigste provinsie wat nie in die ANC se beheer is nie, maer is dit boonop ‘n provinsie wat in baie opsigte beter vaar as dié wat wel deur die ANC beheer word.

Die ANC wil dit “regstel” deur ook dié provinsie te “bevry”. Die ANC het egter self ‘n dinamika aan die gang gesit wat bykans verseker dat die provinsie buite sy bereik sal bly, wat in die Solidariteit – DKD-saak goed saamgevat word. Dit lei tot ‘n groot mate van vervreemding van die bruin kiesers in die Wes-Kaap. Eerder as om die regte ding te doen, word hard gewerk om Solidariteit verdag te maak.

Die Wes-Kaap het benewens toerisme, nie onbeperkte hulpbronne nie. Van werklik mynwese is daar byna geen sprake nie, en danksy uitgeloogde berggrond en die berge self is landbougrond beperk. Die sandvlaktes skep weer eiesoortige probleme, soos dat daar min geskikte plek is om stortingsterreine en rioolplase te ontwikkel wat nie die gevaar inhou om grondwater te besmet nie. Die periodieke voorkoms van cholera, onder meer in Soweto, die baie hoë E.coli-tellings wat gereeld in groot dele van die land gemeet word, en die tifoïdesterftes by Delmas toon duidelik wat gebeur as waterversorging nie behoorlike aandag geniet nie.

Hoewel E.coli self nie sommer tot sterftes lei nie, behalwe soms waar die moeders van pasgebore babas Vigs oorgedra het, is E.coli ‘n klikbek dat daar “dinge” in die drinkwater dryf. Dieselfde “groeimedium skep ‘n gunstige teelaarde vir meer gevaarlike bakterieë, virusse en swamme waaronder  cholera en tifoïde.

Met die grootskaalse invloei van mense uit veral die Oos-Kaap het die Wes-Kaap ‘n opdraande stryd om dienste soos spoelgeriewe aan almal te voorsien. Tog staan die Wes-Kaap op 90,5 % bo-aan die lys. Die ander se syfers lyk soos volg: Gauteng:  86.5%, Vrystaat:  67.7%, Noord-Kaap:  66.5%, KZN:  53.2%, Noordwes:  46.2% , Oos-Kaap :  46% , Mpumalanga:  45.2% en Limpopo:  22.7%. Die Wes-Kaap is ook veel beter daaraan toe as die nasionale gemiddeld van  62.6%.

Daar is geen manier waarop die ANC-beheerde provinsies voor volgende jaar se verkiesing by die Wes-Kaap sal kan kers vashou nie. Die enigste uitsondering is Gauteng, en dié loop die ANC volgens sommige waarnemers gevaar om te verloor.

Nou span minstens sommiges “poefietiek” in om te probeer toon dat dit in die Wes-Kaap nie so watwonders gaan nie. Maar telkemale kry die ANC weer eier in die gesig, want nou is die syfers bekend gemaak dat die Wes-Kaap die ander voor is. Min of meer dieselfde het gebeur oor die Wes-Kaap se planne om enkele skole te sluit, en dit toe aan die lig gekom het dat van die ANC-beheerde provinsies, waaronder Zuma se tuisprovinsie, veel meer skole sluit.

Om nog vinniger plan met die oorblywende emmerstelsel en longdrops te maak, stel Kaapstad mobiele spoelgeriewe beskikbaar. Dit is hierteen wat nou protes aangeteken word.

Dit ruik (en verskoon die woordspel) na opportunisme van die laagste soort.

Die onbeperkte voorsiening van standaard spoelgeriewe skep in feitlik alle lande van die wêreld ‘n probleem. Klimaatsverandering (wat na verwagting die Wes-Kaap binne die volgende vyftig jaar erg gaan raak) is een probleem, maar ook bevolkingsgroei plaas druk op die beskikbaarheid van water om soos in die verlede eenvoudig net nog en nog nuwe uitbreidings hiermee te kan voorsien. Ook die sekretaris-generaal van die VN, Ban ki-Moon het onlangs tydens ‘n konferensie oor biodiversiteit gewaarsku dat watertekorte binnekort groot probleme kan veroorsaak.

Juis om hierdie redes werk wetenskaplikes wêreldwyd aan modelle om riool verwerk en veilig te kry sonder om die enorme hoeveelhede water te moet benut soos wat nou die geval is. Stelsels wat ontwikkel word sluit in die gebruikmaking van die metaangas as neweproduk om water in ‘n geslote stelsel te suiwer.

Teen dié agtergrond staan die mobiele spoeltoilette wat Kaapstad aanbied veel meer in die konteks van internasionale verwikkelings.

Om die standaard-rioolstelsels te bou en onderhou is ontsettend duur. Daar is talle tegniese aspekte soos die geskikte helling waarteen pype moet loop, en om reguit slote te graaf deur onbeplande nedersettings is so te sê onmoontlik. Swellende kleigronde en wortelindringing tel onder die probleme, terwyl baie munisipaliteite menslike verdigting in sekere gebiede aanmoedig om so te bespaar op nuwe infrastruktuur – maar die bestaande infrastruktuur is nie altyd ontwerp om ‘n groter belading te kan dra nie. Korrupsie met die goedkeuring van sulke nuwe ontwikkelings op bestaande oop ruimtes soos parkies dra tot die probleem by.

Baie munisipaliteite beskik eenvoudig nie oor die fondse om toepaslik gekwalifiseerde mense by rioolplase aan te stel nie.

Minister Tokyo Sexwale het onlangs na die kern van die probleem verwys oor waarom die regering nie aan sy behuisingsdoelwitte gestalte kan gee nie – die aanwas is eenvoudig te vinnig om te kan byhou.

Dié probleem moet dringend aandag kry, as die land ooit voor wil kom. “Poefietiek” is nie die antwoord nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Annatjie ·

Ek sou kon verbeter op die afrikaanse vertaaling maar hoekom moet ek sooooooo laaaaaaaag daal.
Die ANC moet net besef die ANC jeugliga is aan hul gekoppel en dit is om die minste te se baie slegte smaak wat hul oopenbaar.
Zuma se uit sprake oor see is leuns, maar alles wat in die donker is sal aan die lig gebring word.
Ons kan net bid vir ons regering en kie dat God hul genadig sal wees.

Ger ·

Uitstekend! Herman Toerien slaan weereens die spyker op die kop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.