Nuuskommentaar: Rubrieke: Wat wil lesers lees?

Afrikaners is plesierig, dit kan julle die internetterugvoer glo.

Enige kommunikasiemedium wil presies dit doen – kommunikeer. Hoe meer lesers of luisteraars, hoe groter is die aandeel in die advertensiekoek gewoonlik. Daarom word die gewildheid van omroepers, rubriekskrywers, programme en rubrieke gereeld gemonitor.

Maar wat wil die mense lees of hoor?

Dit is uiteraard nie so eenvoudig nie. Word die internet geraadpleeg, blyk dit byvoorbeeld dat ‘n rubriek van Dana Snyman in Beeld op die oomblik die opiniestuk is wat meeste trefslae het, meer as 10 000, oplewer. Hierteenoor is die hoofartikel – dws die hoofredaksie se kommentaar – wat die meeste trefslae oplewer dié van 16 Mei, met minder as 600. Tog, in koerantterme is die hoofartikel die vlagskip, en is ‘n koerant daarsonder ondenkbaar.

Al word die hoofartikels nie so baie soos die rubrieke van ander bydraers gelees nie, dien dit tog ‘n doel. As dit van hoë gehalte is, dra dit prestige na die publikasie, en bou dit die ondersteuning oor die langer termyn. Mense vertoef langer in ‘n omgewing wat gehalte uitstraal. Dit is die fondament waarop die res bou.

Om die gewildheid van rubriekskrywers uit die internet af te lei is vol slaggate. Dit is byvoorbeeld onbillik om die trefslae van ‘n rubriek wat pas verskyn het te vergelyk met een wat al ‘n rukkie te lese is. Verder lyk die profiel van internetlesers heelwat anders as diegene wat verkies om ‘n gedrukte koerant onder oë te neem. Selfs die elektroniese vraelyste wat koerante soms op die internetweergawes laat kom, is erg misleidend. Selfs in die internetweergawe van Afrikaanse koerante is die vraelyste gewoonlik in Engels, wat baie lesers laat verbyhou. Voorts word die rassevraag gereeld gevra, en om dié vraag oor te slaan, word gewoon nie deur die elektronika toegelaat nie. Die vraelys word dan half ingevul gelos. Boonop dui baie studies daarop dat mense een ding sê, maar ‘n ander doen.

Die een gemeenskapsradiostasie na die ander probeer gereeld ‘n tydjie vir ‘n jongmensrubriek en “hul” musiek afstaan, want hulle sê dis wat hulle luister. Maar as die Amps bekend gemaak word lyk die prentjie heelwat anders, met minstens een geval waar so ‘n program nie eens een luisteraar geregistreer het nie. Dus, so gebrekkig soos dit mag wees, is die trefslae van rubriekskrywers se bydraes waarskynlik die beste waarmee ‘n koerant oor die weg kan kom.

Op die oomblik het ‘n rubriek van Dana Snyman die meeste trefslae in Beeld, gevolg deur Blouwillem Theron met byna 7 000 trefslae. ‘n Rubriek van Henry Jeffreys wat al ‘n rukkie loop, en waarin hy onder FW de Klerk oor sy CNN-onderhoud inseil, lê baie ver terug in die derde plek, met 1 471 trefslae. Jan-Jan Joubert se rubriek oor die uitreik van die ANC het 846 trefslae. Die gereelde rubriekskrywer, Cecile Cilliers het 146 trefslae. In Die Burger lyk die volgorde soos volg: Willem Pretorius (1 551), Rhoda Kadali (1 180), Murray la Vita (619), Leopold Scholtz (557) en Amanda Gouws (484). ‘n Rubriek deur die gereelde skryfster, Martie Retief-Meiring het 4 trefslae.

In Beeld het die onlangse bydrae van die gevierde Wilhelm Jordaan 185 trefslae. ‘n Tweede manier van beoordeel sou wees om die hoeveelheid leserskommentaar in berekening te bring. Beeld het egter die kommentaarfunksie gesluit, terwyl dit uit Die Burger se kommentare duidelik is dat daar dikwels ‘n georkestreerde aksie is om veral sekere rubriekskrywers vitrioel toe te slinger. Nogtans, sommige rubriekskrywers wissel juwele met donkievye af, en dit is belangrik dat die hoofredaksie ‘n idee vorm van die lesersreaksie. Bedoeld of onbedoeld, ‘n rubriekskrywer se bydrae help bou aan die beeld van ‘n koerant, en die koerant kan skade ly as ‘n bydraer toegelaat word om te veel donkievye aan die lesers op te dis.

Veel kan ook afgelei word deur die gewone webweergawe se reaksie met dié op Facebook en Twitter te vergelyk. Is ‘n rubriekskrywer gewilder onder die jonger garde as onder die ouer garde?

Omdat appels met pere vergelyk word, is hierdie die soort oefening wat gereeld gedoen moet word, en ook dieselfde rubriekskrywers se trefkrag in die verskillende publikasies gemeet moet word, alvorens werklike afleidings gemaak kan word. Dana Snyman staan byvoorbeeld nou ook bo-aan die Volksblad se lys van mees gelese rubrieke. Dana en Blouwillem kompeteer gereeld vir die boonste posisie in die publikasies wat hul rubrieke gebruik.

Ander, wat werklike hoë gehalte werk lewer se trefslae is deurgaans min.  ‘n Oppervlakkige afleiding sal dus wees dat die leserspubliek ‘n groter affiniteit het vir ‘n satiriese aanslag op die werklikheid.

‘n Koerant wat die blinde oog werp op daardie rubriekskrywers wat met ‘n kwinkslag die silwer randjie raaksien en nog blinker poets, neem waarskynlik nie ‘n goeie sakebesluit nie. Wat sou Landbouweekblad byvoorbeeld sonder Duwweltjie gewees het? Selfs ernstige sake-publikasies het hierdie tong-in-die-kies-kommentators.

So weet die publiek baie mooi as die boere se moermeter in die rooi loop, dat ‘n skeidsregter met sy wit kierie op die veld gedraf het, dat die president ‘n lae hou weg het, dat ‘n paar “kunstenaars” besluit het om te verbeter op ‘n skildery wat reeds internasionaal opslae gemaak het, dat daar ‘n sterk band tussen ‘n sekere politikus en ‘n stortkop is…

Sonder die satiriese kommentators sou die rubriekwese in Suid-Afrika nou maar baie aan skoonma se volgende kuier herinner het.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae