Nuuskommentaar: Semi-staat, volbloed moeilikheid – mag daar nog baie Mandy Rossouws wees

Mandy Rossouw.

Die week was nog jonk, toe het verskeie gebeurtenisse wat Die Burger in sy  hoofartikel vanoggend ‘n  narrespel noem, die aandag getrek.  Die week se narrespel is ingelui deur die bedankings van die SAUK-raad se voorsitter, dr. Ben Ngubane, en sy adjunk, Thami ka Plaatjie. Dit volg op die peperduur, onwatwonderse webwerf van die Vrystaatse premier en wat  blyk net die oortjies van die seekoei te wees, maar het weer self as inleidende hoofstuk gedien vir nuus oor semi-staatsinstellings se gespartel.

Vir nagereg het die ouditeur-generaaal (al weer) ‘n verdoemende verslag oor die owerheid ingedien.

In die proses moet die hoed ook vir die koerante afgehaal word. Met die onweerswolke wat weens die beoogde snoerwet oor hul koppe saampak, probeer verskeie koerante – ook hulle met ‘n lustelose geskiedenis op dié terrein – mekaar nou oortref met die onthullings oor lelike slange wat oral kop uitsteek. Hoewel dit nog vroeg is om te sê, lyk dit of die kuberruim wat eens die toon aangegee het met die aanpak van die politiek-inkorrekte sake, nou betreklik stil geword het. ‘n Vlugtige Google-soektog toon dat waarskynlik nie ‘n enkele Engelstalige Suid-Afrikaanse webwerf eens iets oor gister se internasionale dag teen kubersensuur geskryf het nie, en slegs een Afrikaanse webwerf. Boonop maak daardie webwerf op die oog af ruim van roofjoernalistiek gebruik met inligting wat van die gedrukte media se webwerwe gelig word.

Die sake wat so op ‘n streep deur die media na die oopte geruk word, toon hoe belangrik dit is dat die land moet walgooi teen ‘n verdere terugsak van Suid-Afrika op die persvryheidsindeks. Sonder behoorlike persvryheid is die demokrasie onvolledig, en is dit oningeligte of geïndoktrineerde kiesers wat hul kruisies gaan trek. Dit verg natuurlik dapper en kundige joernaliste om die speurwerk te doen en neer te pen. Gister het die nuus gekom dat die bekende joernalis, Mandy Rossouw, jonk gesterf het. In haar 33 jaar het sy diep spore getrap. Sy was, volgens ‘n huldeblyk van die Mail & Guardian, die eerste om oor Nkandla te berig.

Hoe het die land gelyk toe Rossouw haar pen finaal neergelê het?

–       In wat die ouditeur-generaal sê “stadige vordering” is en dat daar ’n algemene “neiging van stagnerende uitslae” onder nasionale en provin­siale departemente is, toon heelwat van die syfers dat daar in werklikheid agteruit geboer is. Altesaam 50 departemente en entiteite wat verlede jaar skoon oudits gekry het, kon dit nie weer vanjaar vermag nie. Onreëlmatige uitgawes van R17 miljard in 2009/10 tot R46 miljard in 2010/2011 tot meer as R60 miljard in 2011/12 gestyg. Stadige vordering? Die verslag is nog ‘n hoofstuk van die Suid-Afrikaanse tragedie.

–       Terwyl feitlik die hele land duime vashou dat Ngubane en Ka Plaatjie se bedankings nie gestuit word nie, voer die minister van kommunikasie na berig word samesprekings met hulle om die bedankings terug te trek. Die minister word wyd as ook een van die swakste kabinetslede beskou, en word nou ingespan om twee van die ANC se grootste propagandiste vir ‘n instelling te probeer behou wat veronderstel is om ‘n openbare uitsaaier te wees.

–       Solidariteit sê die telekommunikasiereus Telkom se finansiële probleme is die direkte gevolg van die regering se noue betrokkenheid en inmenging by die semi-staatsinstelling. Volgens Solidariteit kom Telkom se aanbod van vrywillige skeidingspakkette of vroeë aftrede-pakkette aan sy hele werksmag van 21 000 werknemers op emosionele en finansiële afpersing neer.

–       Solidariteit het ʼn skriftelike versoek aan Pravin Gordhan, minister van finansies, gerig waarin geëis word dat die nasionale tesourie, die aandeelhouer van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (OBSA), moet toesien dat afleggings by dié bank gestaak word en sy huis in orde moet kry. OBSA wil teen einde Maart reeds sowat die helfte van sy werknemers aflê, terwyl daar in die tesourie se begroting aangedui word dat die getal werknemers by die bank oor die volgende drie jaar konstant sal bly.

Bykans nie ‘n enkele semi-staatsinstelling, van Eskom tot Denel tot die SAL is nie konstant om die verkeerde redes in die nuus nie.

Die regering probeer uiteraard die fokus laat wegval van hierdie en ander probleme, en die kollig skuif na dit wat as suksesse aan die kiesers opgedis kan word. Die Vrystaatse webwerf blyk maar die oortjies van die seekoei te wees van ‘n omvattender strategie om publikasies en ander media wat onder die premier se invloed staan, te finansier. Wakker joernalistiek het reeds vasgestel dat van die optredes in ‘n forensiese verslag as onwettig aangetoon is, en tog word die direkteur-generaal wat die kontrakte geteken het nou die LUR van finansies. Vrae is selfs gevra, en nie beantwoord nie, oor ‘n buite-egtelike verhouding wat tot die voortrekkery sou bydra. Telkom en ander semi-staatsinstellings word betrek by die finansiering van peperduur ontbyte…

Dis nie ‘n mooi prentjie wat geskets word nie, maar ons kan ons kwalik indink hoe die werklikheid sou lyk as dit nie vir Mandy Rossouw en haar kollegas was wat nie geskroom het om die bastions van toesmeerdery te bestorm nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.