Nuuskommentaar: Sensus

Die landswye sensusopname begin vandag en sal drie weke duur, en steeds lees ons in sosiale netwerke dat sommige mense botweg weier om saam te werk om getel te word. Dié houding spruit uit die persepsie dat ‘n sensus bloot gehou word om mense te tel.

Nee, niemand is weg dat die regering dit nou nodig het om almal te tel nie. Sensusse word wêreldwyd in ontwikkelde lande gehou om ‘n wye front broodnoodsaaklike inligting te bekom wat die owerhede nodig het om vir die toekoms voorsiening te maak. Om hierdie rede moet ook onwettige immigrante en vlugtelinge getel word, want hulle plaas ook ‘n las op sekere owerheidsdienste soos gesondheidsdienste, water- en elektrisiteitsvoorsiening.

Wanner die data verwerk is kan navorsers ‘n wye reeks inligting uit die data onttrek, soos die gemiddelde ouderdom en inkomste in ‘n sekere gebied. Waar lande dit kan bekostig, word elke vyf jaar ‘n sensus gehou. Dit is ook die mikpunt in Suid-Afrika, maar die vorige sensus is tien jaar gelede gehou. In ‘n land soos die VSA is die foutfaktor van ‘n sensus ongeveer 4 %, wat vir die Amerikaners skokkend hoog is. In Suid-Afrika was die foutfaktor tien jaar gelede meer as tien persent, en die ouditeur-generaal het die sensus ook ‘n rooi kaart gegee. Internasionaal word die foutfaktor reggestel deur ‘n verteenwoordige steekproef deur professionele mense te doen. ‘n Foutfaktor van 17 persent is egter onaanvaarbaar, en laat ook ‘n slegte smaak in die mond omdat dit beteken dat baie sensusopnemers en hul toesighouers belastingbetalersgeld misbruik het deur te kierang.

Een van die maniere om ‘n gekierang aan die kaak te stel, is juis om te rapporteer as die huishouding deur sensusopnemers oorgeslaan is. Hiervoor sal ‘n tolvrye nommer voorsien word. Hoe gouer na die sensus oor drie weke verstryk het dié nommer gebel word, hoe gouer sal die onreëlmatighede aan die kaak gestel word, en sal help verhinder dat skelm opnemers se werk as bevredigend verrig afgeteken word en hulle hul vergoeding ontvang.
As ander foute bemerk word, soos dat daar glad nie ‘n sensusopnemer in ‘n gebied werksaam is nie, is dit uiteraard wenslik dat dit gouer onder die owerheid se aandag gebring word.

Wêreldwyd geld die beginsel dat sensusopnemers uit die gebied waar hulle die opname moet doen, aangestel word. Dit verhoog die kanse dat die opnemer die huistaal van die mense wat besoek word sal verstaan, en selfs in die gemeenskap bekend is en vertrou word. Aanvanklik, soos met die vorige sensus, is aangekondig dat dié beginsel ook vanjaar sou geld.

Sensusopnemers is soos alle amptenare gebind deur die protokol vir plaastoegang, maar dié feit word selde aan die sensusopnemers gekommunikeer. Die gevolg is dat plase gereeld betree word – iets wat in die lig van die veiligheidsituasie uiters ongewens is. Boonop word baie geld gespandeer om plase te bereik, bloot om te vind die boer en sy gesin is nie tuis nie. Agri SA het daarom weer ‘n beroep op die Statistiekdiens gedoen om afsprake vir besoeke te maak.

Dit is vreemd dat die staat dit steeds nodig ag – meer as twintig jaar na die bevolkingsregistrasiewet geskrap is – dat mense hul ras aantoon. Daar is reeds weerstand van hierdie vraag, en baie mense sal na verwagting weier om hierdie vraag te beantwoord.

Die weiering van deelname is egter nie ‘n opsie nie en is strafbaar.
(Die opsteller was ‘n publisiteitsbeampte van die vorige sensus).

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Arthur ·

In die kleiner dorpe word daar oor gegis oor die sensus en dit die ANC se manier is om uit te vind hoeveel ANC stemme hulle moet invoer om die volgende verkiesing te wen in daardie spesifieke DA geheerde streek.

Dawid ·

Net jammer die sensus mense dink terwyl ek ‘n breek vang, kom ek gaan beroof die res van die mense… Die sensus is ‘n bogspul. Word wakker. Alreeds Maandag is die eerste mense beroof deur mense in sensus uitrustings in Johannesburg. Moenie my vertel dat dit nie sensus beamptes was nie… Dit was darem te vinnig dat ander mense die sensus beamptes kon besteel en hul identifikasie materiaal / uniforms wat ookal jy dit wil noem kon steel.  http://www.ewn.co.za/Story.aspx?Id=75496

Anoniem ·

Dawid, daardie mense het nie sensus-uitrustings gedra nie. Hulle het groen baadjies gedra. Die sensusmense dra heldergeel “bibs”.
Die persone wat beroof is, het ook erken dat hulle glad nie eers die mense se identiteit probeer nagaan het of vir identiteitskaarte gevra het nie.

Hoe gaan dit iemand help as hy ‘n sensusbeampte se identifikasiekaart steel, en die foto op die kaart stem nie ooreen met sy gesig nie? Die kaarte word beskerm met ‘n hologram en is bestand teen wysigings, m.a.w., om enige wysigings aan die kaarte aan te bring, moet dit kaart beskadig word, wat duidelik sigbaar sal wees.

Die sensus is verseker nie ‘n “bogspul” nie. Hulle het baie goeie maatreëls getref om veiligheid en sekuriteit so goed as moontlik te hou. Statistieke Suid-Afrika self beklemtoon in al hul kommunikasiemateriaal dat mense hulself eers goed moet vergewis van die sensusbeampte se identiteit, voordat hulle enige hekke oopmaak.

Mense hoef ook nie eers hekke oop te maak nie. Die vorms kan deur ‘n hek ingevul word, of die vorms kan ontvang word, self ingevul word en dan later aan die sensusbeampte terugbesorg word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.