Nuuskommentaar: SKA – die toekoms en die verlede in

Te midde van ‘n oordosis slegte nuus het die SKA-besluit vir Suid-Afrika soos manna uit die hemel gekom. Of die waarde hiervan na behore neerslag gevind het, is ‘n ander vraag.

Vir Jan Publiek klink byna elke brokkie inligting oorweldigend. Aan die een kant gaan dié teleskoop ongelooflike tegnologiese eise stel, met net die rekenaarstelsel wat daagliks ongeveer soveel inligting moet verwerk as waaroor die ganse internet nou beskik. Boonop moet hierdie rekenaars ook in staat wees om hulself te leer, en sodoende die massas inligting outomaties in kaarte te kan omskep.

Die projek is voorts ‘n voorbeeld van hoe ineengeweef die wêreld geword het. Terwyl die vierkante kilometer skottel-antenas hoofsaaklik in die afgeleë Karoo by Carnarvon en in die Wes-Australiese woestyn gaan wees, word poste vir die projek geadverteer met mense wat in Brittanje, Kaapstad en elders, baie ver van die antennas af, gesetel gaan wees. Dit is ‘n tegnologie ligjare verwyder van sterrekundiges wat fisies by die ou optiese teleskope dikwels in afgeleë gebiede moes wees en wag vir skoon nagte sodat hulle hul waarnemings kon maak.  Intussen het rekenaars van die werk begin oorneem, en het Hubble en die ander ruimte-teleskope reeds getoon dat ‘n mens met ‘n ander orde volume elektroniese data gaan werk as wat nog ooit selfs net ingedink kon word.

Die vreemde skynbare teenspraak is dat met al dié tegnologie, die teleskoop nie in staat is om te sien hoe dinge in die heelal nou daaruit sien nie. Dit gaan letterlik in die verlede inkyk. Soos alle skottel-antennas, vang ook die SKA en  Meerkat  allerlei golwe, stralings en bestralings op wat teen die spoed van lig trek, en van dié opgevangde data kon van bitter ver af, selfs miljarde ligjare weg. Dit beteken ons sal nou deur die SKA sal kan sien hoe dinge gelyk het en wat gebeur het toe dié golwe op hul ruimtereise vertrek het. Van die ruimteverskynsels waarvan die golwe ons nou gaan “vertel”, sou dus al miljarde jare opgehou bestaan het.

Dit is ondenkbaar dat die mens ooit daardie verre plekke kan besoek – die mens kon nog nie eens sy naaste buurplanete bereik nie, laat staan nog die naaste buur-sterre. En die gelowige mens sal bloot weer tot die besef kom van sy eie nietigheid teenoor die grootheid van God wat dit alles beskik het.

Dit moet ook die regering laat besin. ‘n Regering moet na die toekoms onderweg wees, en kan na die verlede kyk vir lesse om die toekoms sinvol aan te pak. Die verlede mag egter nooit ‘n vashaakplek wees om die toekoms te verpas nie, en dit is tragies hoe die ANC juis nou, ook uit eie geledere, gestriem word oor die wyse waarop dit verskeie bates wat hy van die verlede geërf het verslons – van die infrastruktuur tot die landbou tot die indiensmeningsektor. Beeld het onlangs selfs die opskrif “ANC bly vasgevang in verlede” in ‘n hoofartikel gebruik.

21 jaar na die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder is, word apartheid nog min of meer vir alles wat onlekker is geblameer. Stemme uit selfs eie geledere wat die vinger wys na die impak van kader-ontplooiing, die herhaalde herontwerp van die wiel in die onderwys en opvoedkunde, ‘n geflikflooi met uitgediende konsepte soos kommunisme, word gou geïsoleer of verdag gemaak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae