Nuuskommentaar: Skaakspeel op die politieke slagveld

Skaakspeel op die politieke slagveld – ruimte vir Satre en Fanon in die aanslag teen Zuma

Daagliks is daar berigte van motoriste en padverbruikers wat groot voertuigskade weens slaggate opdoen. Dis skaars nuus, maar pas is die land geruk deur die nuus dat ‘n Potchefstroomse akademikus sy eie moeder se begrafnis misgeloop het na sy motor in ‘n slaggat beskadig is.

Die Vrystaatse LUR vir paaie het ook erken dat 75 persent van die paaie in daardie provinsie in ‘n haglike toestand is. Die rede wat verskaf word is tenderbedrog. Gebalanseerde mense moet in hul gemoed walgooi om nie deur ‘n gevoel verswelg te word dat alles besig is om tot niet te gaan nie.

Die media lyk of dit nou ontwikkel in kontrolelyste waarin die sake wat verkeerd loop afgemerk word; hetsy of dit munisipale rekenings is wat in chaos verkeer, diensleweringsprobleme, rou riool wat in riviere loop, kragtekorte en vele meer.

Om die media stil te maak vergelyk daarmee om ‘n hartmonitor se klank af te draai wanneer die pasiënt ‘n hartaanval kry, in plaas van om die hartaanval self aan te spreek.

Die Openbare Beskermer het nou pas ook na aanleiding van rou riool in strate toegetree om diensleweringsprobleme as gevolg van korrupsie in die bek te ruk. Pas is berig dat die Tesourie gaan ingryp om 66 spartelende munisipaliteite kop bo water te laat hou. Gaan dit werklik nou erger as ‘n jaar of wat gelede, of sien ons ‘n herhaling van die aanloop na Polokwane?

Destyds het Tim du Plessis, voor Polokwane, vol bewondering die name van verskeie swart redakteurs neergepen wat die bande van politieke korrektheid afgeskud het, en kaalkop die toestand in die land begin stel het. Voorheen-beskroomde wit redakteurs het gevolg.

Kort na Jacob Zuma egter sy voorganger, Thabo Mbeki, uit die pad geveeg het, het sommige van dieselfde name wat Tim genoem het, opgeduik onder name saam met onder meer dr. Nico Smith wat gewaarsku het dat ‘n bloedbad kan volg sou wit koerante voortgaan om die ANC so genadeloos te looi. Kortom, die indruk is geskep dat daardie swart redakteurs in die eerste plek nie so filantropies was oor die oopkrap van onreëlmatighede nie, maar dat dit in werklikheid deel van die veldtog was om Mbeki die trekpas te gee. Wit redakteurs, wat dit nie gesnap het nie, het hul nuutverworwe vryheid bly geniet, en is toe verkwalik.

Nou is die lang assegaaie weer vir Zuma uit, en weer word gesien dat die pen magtiger as die swaard is. Skielik skyn die lig weer waar die korrupsieverrotting al dik aangepak het.

Kan hieruit afgelei word dat die aanslag teen Zuma reeds betreklik gestruktureerd is? Is daar byvoorbeeld reeds ‘n skaduleier met ‘n skadukabinet wat heimlik gereedmaak om die oorgang naatloos te laat geskied? Die tekens is wel daar, maar juis hierin lê die knoop – dit lyk te opvallend wat beteken dat Zuma ook sal weet wie sy vyfdekolonners is en hulle sal begin rysmier – in die politiek kan ‘n dag ‘n baie lang tyd wees, en ongeveer nege maande vir Zuma om voor Mangaung met opponente af te reken is amper ‘n ewigheid. Of offer adjunk-president Kgalema Motlanthe bloot homself tydelik op as die strooipop, sodat die werklike uitdager, byvoorbeeld Cyril Ramaposa, ‘n meer verdoeselde aanslag kan loods? Of het daar bloot te veel boeke verskyn wat die langmes-politiek van die Kremlin in die Stalin-era as agtergrond gebruik het?

Min van die Zuma-veldtog teen Mbeki kan nou as bloudruk gebruik word. Destyds was Zuma effektief in die politieke duisternis, en met ‘n wavrag korrupsie-aanklagte oor sy hoof. Hy het min te verloor gehad, en alles om te wen. Hy kon dus sy veldtog in die oopte dryf. Boonop het Mbeki, wat as ANC-kroonprins grootgemaak is, die bedreiging heeltemal onderskat – ‘n fout wat Zuma nie sal maak nie.

Indien die aanslag teen Zuma deur die jaar gaan ontplooi soos wat dit nou lyk of dit die geval gaan wees, kan die volgende verwag word:

  • Zuma-lojaliste wat hulle aan korrupsie of enige vorm van ongerymdheid skuldig maak gaan ‘n moeilike tyd onder die vergrootglas beleef. Inligting lek reeds soos deur ‘n sif na die media.
  • Diensleweringsproteste sal in alle waarskynlikheid toeneem, ook in gewelddadige aard. Die onderliggende voeding hiervan begin al hoe meer die kenmerke van Frantz Fanon se geweldsfilosofie hê – nou geregverdig sodat ‘n politieke toekoms bereik sal word vry van geweld. Om dit nie na anti-Zuma-aksies te laat lyk nie, sal die Wes-Kaap ook geteiken word. Vyf gevalle van halssnoermoorde of gepoogde halssnoermoorde is binne enkele dae in die Wes-Kaap aangemeld. Vir Zuma se aspirant-koppesnellers is dit immers belangrik dat beide die Zuma-administrasie en die Wes-Kaapse se DA-administrasie die indruk moet skep van beheer verloor, en dat die nuwe leiers as redders na vore moet tree.
  • Die werklike seisoen van stakings lê nog voor, en vanjaar kan verwag word dat die regering se dunnerige beursie maar steeds matelose luukse uitgawes soos duur hotelverblyf, goed gestook sal word om te sorg dat baie van die stakings nie te mak sal wees nie. Denkpatrone geskoei op dié van Jean-Paul Satre, gebaseer op skeptisisme in gesag en “geregverdigde vuil hande” om anargisties ‘n nuwe politieke bedeling te bewerkstellig, kan gedy.
  • Zuma en sy heimlike teenstanders sal mekaar in populistiese retoriek probeer oortref om  seker te maak dat die breë massa minstens neutraal, maar verkieslik positief oor ‘n statutêre staatsgreep sal wees. Verwag dus dat Zuma, Motlanthe en ander gereeld sal praatjies maak oor versnelde grondhervorming, oor die kwessie van vrywillige koper, vrywillige verkoper, oor transformasie en SEB. Trouens, die woord “revolusie” gaan tydig en ontydig opklink.
  • Suid-Afrika gaan in alle waarskynlikheid verder op internasionale indekse soos die persvryheidsindeks, korrupsiepersepsie-indeks, beleggersvertroue-indeks, die innovasie-indeks en die menseregte-indeks daal, omdat die onderliggende faktore so ineengestrengel is. Dit transkribeer in verdere gordel-intrekkery omdat dit moeilik is om die ekonomie reg te ruk wanneer die indekse die kreeftegang gaan.

Maar Zuma se opponente durf hom nooit onderskat nie. Baie water het in die see geloop sedert hy ‘n veewagtertjie was.

Kan die Afrikaner ‘n heilsame uitwerking op die proses hê? Dit gaan hom immers raak. Of is dit ‘n gawe plek om heeltemal te makeer?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae