Nuuskommentaar: Skip vol gate

Stakende werkers tydens verlede jaar se betoging by Anglo American se platinummyn in Rustenburg. Foto: Mike Hutchings/Reuters

Die nuus dat Anglo Platinum 14 000 werkers gaan afdank om lewensvatbaarheid vir die ander 45 000 werker te verseker, is nie net ‘n hou in die wind van vakbonde wat op hoër en hoër lone aandring nie, maar vir die land wat reeds onder ‘n reuse werkloosheidsprobleem gebuk gaan.

Die harde werklikheid behoort nou ook na die Wes-Kaap met sy landbouonluste deur te dring, maar dit is meer waarskynlik dat die wingerdgriep oor die wyngordyn sal spring en oor die land sal versprei.

Politieke retoriek en aanhitspraatjies het die neiging om persepsies te vorm, en as die persepsies is dat ‘n handvol skatrykes die welvaart van die massas steel, is die vet in die vuur.

Teenargumente soos dat die herverdeling van die rykes se welvaart aan elke arme kwalik ‘n toebroodjie sal besorg en die werksgeleenthede boonop dan daarmee heen is, gaan net nie op as die land die hoogste inkomstegaping ter wêreld het nie. Nie net ekonomiese kragte bepaal die gang nie, maar ook sosiologiese kragte, en die sosiologiese model van relatiewe deprivasie speel eenvoudig gunstiger op ‘n honger maag en die politieke oor in as komplekse ekonomiese realiteite.

Met die versteurde persepsies gevestig en onderling tot kookpunt warmgebroei, is geweld en sedisiepraatjies soos buitelandse boikotte van Suid-Afrikaanse produkte net die regte resep om werksgeleenthede heeltemal verlore te laat gaan.

Ethiopië is ‘n onlangse voorbeeld van wat gebeur as ‘n land om die een of ander rede sy voet in die deur van uitvoere tydelik uithaal. Daar het droogtes en roofbou in die landbou, saam met politieke onrus, kragonderbrekings en selfs ‘n sosialistiese ekskursie die land se karige uitvoerbedryf tydelik uit die internasionale handel gedwing. Toe sake weer stabiliseer, is gevind dat ander lande se uitvoerders die plek ingeneem het, en meer stabiele voorsieners geblyk het te wees.

Dit is nie die tipe vermanings wat te gereeld van Cosatu en Amcu-leiers gehoor word nie.

Trouens, met pres. Jacob Zuma se onlangse verklaring oor grondhervorming is ook weinig aandag gegee aan die harde werklikhede, selfs na jare se blootstelling aan argumente deur Agri SA en TLU SA.

Anglo Platinum se aankondiging het gekom op dieselfde dag dat die platinumprys sy hoogste vlak in 60 dae bereik het, en nie veel laer is as die hoogste vlak die afgelope twaalf maande nie. Die prys van $1 697 is egter veel laer as die hoogste prys die afgelope vyf jaar van $2 252 in die begin van 2008. Dié hoogtepunt was egter ‘n piek en het kort daarna tot onder die $800 per fyn ons gedaal.

Hoewel hard probeer word om platinum ‘n groter aandeel in die juweliersbedryf  te laat speel, bly die platinumgroep van metale primêr  nywerheidsmetale, wat onder meer in motors se uitlaatstelsels gebruik word om besoedeling te keer. Platinum, anders as goud, se pryse neig dus af as die wêreldekonomie afwaarts neig.

Suid-Afrika beskik volgens sommige bronne oor tot 90 persent van die wêreld se platinumreserwes en lewer sowat 80 persent van die produksie. Die koste om platinum uit die Bosveldstollingskompleks te myn is egter oor die algemeen hoog vergeleke met byvoorbeeld die ryk Zimbabwedyk.

Suid-Afrika kan dus tegnies die wêreldprys beheer deur produksievlakke gelyk aan die wêreldvraag te hou, maar mededinging tussen produsente sorg vir ‘n dempende invloed, sodat myne dikwels teen verliese produseer. Minder produksie, al is dit net tydelik, veroorsaak raffineringsprobleme wat die produksiekoste verder opjaag, en dit is dus soms meer lonend om tydelik onder produksiekoste voort te gaan tot pryse herstel.

Maar juis omdat Suid-Afrika die wêreldproduksie so oorheers, beïnvloed gebeure in Suid-Afrika die prys. Die Amcu-staking in Februarie verlede jaar word mooi op die prysgrafiek weerspieël toe die prys bo die $1 700 gaan draai het, om hierna weer tot onder die $1 400 terug te sak, en weer na die Marikana-voorval skerp tot bo $1 700 te styg.

Na Anglo Platinum se verdoemende verklaring gister berig die Wall Street Journal  dat die platinumprys tot $1,706.80 gestyg het, hoër as die goudprys. Goud was die afgelope paar jaar feitlik konstant duurder as goud, na platinum lank oorheers het.

Die ekonomiese realiteite beteken egter nie dat werkers uitgebuit mag word nie. Al hoe meer argeologiese getuienis kom na vore dat volke wat hul slawe swak behandel het en selfs permanent honger gehou het, nie lank bestaan het nie. Hierteenoor het volke met voorskrifte wat die goeie behandeling van slawe vereis, oorleef.

Hoewel slawerny na berig word nog betreklik algemeen in Mauritanië voorkom, en ‘n regter self gespog het oor sy 25 slawe, en die VN gekla het oor die Noord-Koreaanse strafkampe waar moontlik tot 200 000 mense slawe-arbeid moet verrig, is slawerny formeel afgeskaf.  En die arbeider is sy loon waardig.

Maar ‘n arbeider is net ‘n arbeider as hy werk het, en hard werk, of soos die Bybel dit stel, in die sweet van sy aanskyn sy brood verdien. Die gaping tussen Noord-Europese  en Suid-Europese lande op die mededingingsindeks stem verskeie ekonome mismoedig oor die kanse dat die Eurosone sy kinkels gaan uitskud. Suid-Afrika beklee die 52ste posisie teenoor Portugal se 49ste, maar darem veel beter as Griekeland se 96ste.

Mededinging op die internasionale mark word egter ook deur faktore bepaal soos ‘n land se ligging ten opsigte van die wêreldmarkte, en die land se posisie op die korrupsiepersepsie-indeks, asook die land se posisie op die indeks vir vrye ekonomieë. Suid-Afrika het op laasgenoemde ook agteruitgeboer, hoofsaaklik weens korrupsie en oorregulering.

Eskom se beplande verhogings van 16 persent per jaar oor vyf jaar, se uitkringeffek in ‘n ekonomie wat spartel om mededingend te wees, kan heel moontlik die laaste strooi wees wat die kameel se rug breek.

Die tirade van die minister van Mineralebronne teen Amplats, help ook nie om die land se probleme af te skud nie.

Die regering se volgehoue volstruispolitiek oor plaasaanvalle en plaasmoorde wek ook die indruk van ‘n regering wat voeling met die werklikheid verloor het, wat verder versterk word deur die Nkandla-sage te midde van armoede en werkloosheid.

Voor 1994 het die wêreld begrip gehad vir oproepe vanuit Suid-Afrika dat die land geboikot moet word en gedisinvesteer moet word. Dié selfopofferende selfsabotasie het egter gevolge. Dit is soos om self in die boot ver van die kus te wees en die boot se boom vol gate te moker. Om steeds sulke praatjies te maak en terselfdertyd bloed uit ‘n klip te probeer tap, is meer as net onrealisties. Dit gaan die brood uit nog baie mense se monde ruk.

Uit veral internetkommentaar is dit duidelik dat baie Suid-Afrikaners erg swartgallig raak. Optimisme is egter ook noodsaaklik vir ekonomiese herstel en groei, en dit is dus nodig om die silwer randjie raak te sien. Die prag van die melkweg word egter ook ten beste gesien as dit donker is en die kyker met sy voete stewig op moeder aarde staan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Philip P Koch ·

Dit is duidelik uit die berigte dat geen logiese denke by SA – meerderheid werknemers bestaan nie en dat hulle besig is om die “boot ” verder te beskadig. Hulle gebruik bore wat ‘n groter gat boor dag na dag. Maar die vraag wat niemand probeer beantwoord nie is:
WAAROM GAAN DIE WERELD VOORT TENSPYTE VAN AL DIE SKADE WAT IN AFRIKA LANDE, NOORD VAN ONS, VIR JARE DIE VERNIETIGING VAN HUL EKONOMIE SIEN EN VOORT GAAN OM HULLE TE STEUN?
Of het julle al ‘ antwoord gesien?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.