Nuuskommentaar: Snoerwetsontwerp se advertensies deel van aftakeling van skeiding van mag?

Betogers teen die Wetsontwerp oor die Openbaarmaking van Inligting buite die parlement. Foto: Leon Lestrade

Suid-Afrikaners moes die afgelope paar dae aanhoor hoe die departement van staatsveiligheid die wetsontwerp op die openbaarmaking van inligting oor die senders van die openbare uitsaaier bemark. Verskeie kommentators, soos Max du Preez, het ook reeds die  mond goed uitgespoel oor die inhoud hiervan, wat as  uiters onjuis beskryf word.

Maar is dit die hoofprobleem?

Die afleiding is, dat die advertensies geskied op belastingbetalerskoste. Wat, presies, is die beginselverskil vir hierdie klaarblyklike wanaanwending van staatsfondse vir partypolitieke doeleindes, en die destydse sogenaamde inligtingsskandaal?

Al is die wetsontwerp deur die ANC deur die nasionale vergadering gestoomroller, word dit eers wet na die Raad van Provinsies ook so gemaak het, en die president dit geteken het. Dié proses is nog nie afgehandel nie, en vind wye teenkanting onder die opposisiepartye, burgerlike gemeenskap en selfs die ANC se alliansievennoot, die, Cosatu. Ook ‘n regsgeleerde uit die ANC-dampkring, George Bizos, het probleme met die inhoud van die wetsontwerp.

Om te toon hoe sensitief die beginsel is dat ‘n wetsontwerp nie op belastingbetalerskoste bemark behoort te word nie: In die aanloop tot die referendum vir die driekamer parlementêre bedeling, het die staat ‘n inligtingstuk opgestel oor hoe die stelsel sou werk, en dit sou deur die destydse Buro vir Inligting versprei word.

Dié boekies het egter in die Buro se kantore opgestapel en stof staan en vergaar. Die destydse opposisie het aangedui dat, sou daardie boekies, met enkele sinne wat positief oor die komende bedeling geklink het, versprei word, sou ‘n interdik teen die uitslag van die referendum verkry word.

Die bemarking, op staatskoste, van ‘n wet kan as deel van die staat se uitvoerende funksies vertolk word. ‘n Wetsontwerp is egter nog in die domein van die partypolitiek, en wie daar iets wil bemark, moet dit volgens konvensie op die rekening van die party self plaas.

In ‘n grondwetlike demokrasie kan selfs geargumenteer word dat die belastingbetalers se fondse buite perke behoort te wees tot iets, wat so duidelik grondwetlik is, se grondwetlikheid ook eers getoets is.

In die praktyk is die lyn nie altyd so duidelik te onderskei nie. Toe die wettiging van aborsies in Suid-Afrika deur die grondwetlike hof getoets is, het die staat se Kommissie vir Geslagsgelykheid as party vir die wettiging daarvan toegetree. Hiervoor is staatsfondse gebruik, al toon peilings steeds dat die meeste burgers gekant is teen die wetgewing.

Die vraag bestaan dus nou: Sou die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe reeds bestaan het, sou hierdie kommissie dan ook staatsfondse kon inspan om die publiek se godsdiens- en kultuurbelange teen die Kommissie vir Geslagsgelyheid se standpunt te argumenteer?

‘n Wye oorsig wêreldwys wys daarop dat dit nie vreemd is dat wetsontwerpe bemark word nie, maar dit geskied in die vorms van individuele parlementslede, soos een wat miskrame as gevolg van nalatigheid strafbaar wil maak met dieselfde erns as moord. Politieke partye, lobbies, burgerlike groepe en aktiviste is ou bekendes in die bevordering of teenkanting van wetsontwerpe. Dit is uiteraard vir hul eie rekening. Maar regerings in demokrasieë wat staatsgeld vir bemarking van omstrede wetsontwerpe inspan, is so skaars soos hoendertande.

Enkele gevalle word wel aangetref, soos in Brasilië, waar omgewingsgerigte mynwetgewing as ‘n kwessie van nasionale belang, en as saak van dringendheid bemark word. Dit is egter duidelik tegnokratiese aangeleenthede.

In die VSA is juis nou ‘n toetssaak om te bepaal of pres. Barack Obama se nie in die implementering van dele van sy nasionale gesondheidsplan, sy eie magte oorskry en magte van die Kongres steel nie. Altesaam 26 deelstate het die wet voor die “Supreme Court” gesleep en voer aan met dié wetgewing word individuele vryhede aangetas. Hoewel slegs dele van die lywige wetgewing getoets word, is die jongste aanduidings dat die kanse goed is dat die ganse statuut in die slag kan bly.

Intussen het die staat nou die bemarkingsadvertensies van die snoerwetsontwerp laat uitsaai. Dit dui daarop dat daar by die uitvoerende gesag ‘n vasbeslotenheid is om die wetgewing deur te voer, maar dat die einste mense wat so gekant is daarteen se geld vir die advertensies gebruik word. Dis soos om die inwoners van ‘n stad te verplig om gif te drink, maar boonop self vir die gif te laat betaal.

Beteken dit dat die betrokke ministers en senior amptenare die geld uit hul eie sakke sal moet terugbetaal wanneer die grondwetlike hof dit ongrondwetlik verklaar? Of dra dié aanwending van openbare fondse bloot daartoe by om die hele aangeleentheid ongrondwetlik te verklaar?

Intussen betaal die publiek reeds duur vir die pogings om die wetsontwerp op die wetboek te plaas – nie net in die vorm van openbare verhore en uiters selektiewe advertensies van hierdie verhore nie, maar in die vorm van skade wat dit aan Suid-Afrika se beeld en sy posisie op indekse soos die persvryheidsindeks, korrupsiepersepsie-indeks en beleggersvertroue-indeks aanrig.

Een van die belangrikste hoekstene van ‘n grondwetlike demokrasie is dat die wetgewende, uitvoerende en die juridiese geskei moet wees. Die ANC maak die afgelope aantal jare onheilspellende geluide hieroor, en die opposisiepartye reageer met ontsteltenis. Die afgelope jaar was daar reeds verskeie uitsprake oor groenskrifte wat deur die Kabinet aanvaar is, en hoewel dit in ‘n juridiese sin eintlik slegs besprekingsdokumente is, word dit aangebied asof dit nou die amptelike beleidsdokumente is.

Wetgewing en soortgelyk word deur die parlement goedgekeur, en boonop moet die parlement oorsig uitoefen oor die kabinet – die kabinet is nie veronderstel om Lethulihuis se uitvoerende arm te wees nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae