Nuuskommentaar: Sondaars, e-tollenaars en die sondebok

Nazir Alli

Hoewel die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) formeel aanvoer dat sy uitvoerende hoof, Nazir Alli, om persoonlike redes bedank het, is die algemene gewaarwording dat hy na die hofuitspraak in sy eie swaard  geval het.

Suid-Afrika ervaar te min dat die leierskap verantwoordelikheid neem vir dit wat in hul departemente en organisasies verkeerd loop. Suid-Afrikaners staan soms verstom oor die redes waaroor ministers oorsee die tuig neerlê, soos ʼn minister van vervoer wat bedank na ʼn lughawe-ongeluk wat op geen logiese manier voor sy deur gelê kan word nie.

Sulke bedankings word nie altyd aanvaar nie, maar die beginsel is duidelik dat mense bereid is om pa en ma te staan vir dinge wat verkeerd gaan. Dit dra boonop by daartoe dat die regeringshoof die ongemaklike taak het om ʼn minister af te dank. Die prentjie in Suid-Afrika lyk baie anders. Die lysie van ministers wat onder ekstreme omstandighede afgedank is, raak wel langer, maar die lysie van hopeloos onbekwame ministers wat as lojale kameraad tot nadeel van die land in die amp gehou word, raak nog vinniger langer.

Dit strek verder terug as die Manto’s en Bengu’s, tot waar beloftes gemaak is, lapa-diëte “voorgeskryf” is ʼn grensbasis glo so dronk soos ʼn spook besoek is, en die derdespan se reserwes as Kemptonparkse onderhandelaars ingespan is soos ʼn bekende rubriekskrywer dit in ink verewig het.

In Alli se geval is daar konsensus dat hy moes bedank, of so nie die trekpas moes kry. Die lys “aanklagtes” teen hom is ellelank, waaronder ʼn groot afwesigheid van deursigtigheid en al hoe meer goggas wat nou uit die geroeste blikkie begin kruip oor beweerde onbehoorlike bevoordeling. Met die ondersoek na die omstrede wapentransaksie wat pas begin het, word nou bewerings gemaak dat maatskappye met bande met van die wapenmaatskappye weer mildelik bakhand-ontvangers is.

Op die oog af lyk dit of daar dié keer nie weer so ʼn uitgerekte stryd gaan wees om agter die kap van die byl te kom nie. Volgens die hofbevel moet relevante inligting aan die aansoekers beskikbaar gestel word, en behoort ʼn fyn kam minstens sommige distels uit die wol te kan kam. Maar hiervoor het die burgerlike organisasie wat die aansoek voor die hof gebring het, Outa, nou met ʼn regsrekening van miljoene rande.

Alli, as uitvoerende hoof, het op die oog af alles in sy vermoë gedoen om die deksel op die skynbare heksebrousel te hou. En dit lei nou tot ʼn reeks vrae:
–       Het hy in sy swaard geval, of verlaat hy bloot die skip voor die eintlike bom bars?
–       Wat van die verantwoordbaarheid van die betrokke ministers? AfriForum meen die minister van Vervoer, S’Bu Ndebele en sy voorganger, Jeff Radebe, het in hul politieke oorsigrol misluk en moet ook verantwoordelik gehou word.
–       Deur nie die ministers af te dank nie, of ten minste tot na die ondersoeke afgehandel is te skors nie, sal die vraagtekens oor die spesiale taakspan onder die leiding van die adjunk-president onder ʼn wolk van wantroue verkeer. Gaan dit werklik oor die vind van die beste weg uit die tameletjie, of gaan dit oor die verdoeseling oor bande tussen Sanral en persone met bande met Chancellor House?

Die onopgeloste tameletjie word goed deur adv. Anton Alberts van die VF+ saamgevat: “Mnr. Alli se bedanking laat die vraag ontstaan oor watter inligting hy beskik aangaande die e-tostelsel se kontrakte wat aan internasionale maatskappye toegeken is en wat ook betrokke was by die wapenaankope-transaksie van die regering in 1999. Die feit dat hy nie meer die uitvoerende beampte van Sanral sal wees nie, onthef hom nie van die verantwoordelikheid om alle inligting oor die e-tolstelsel se kontrakte bloot te lê nie. Daar kan ook met reg gevra word of mnr. Alli nou deur die regering opgedis word as die enigste persoon wat aanspreeklik gehou kan word vir die e-tolstelsel-probleem.”

In dié stadium lyk sake nie belowend oor in hoe ʼn mate die ANC bereid sal wees om die sluier te lig nie. Die parlement se komitee vir finansies se vrae aan die tesourie oor die geldelike implikasies, is deur die voorsitter kortgeknip, en moet nou deur geskrewe vrae vervang word. Die DA en ACDP het ongelukkigheid uitgespreek oor die parlement verhinder word om sy oorsigrol te speel.

Verskeie kommentators wys daarop dat die opstand teen die e-tolstelsel ʼn simptoom van ʼn burgerlike belastingopstand is. Terwyl die burgery raap en skraap om liggaam en siel aanmekaar te hou, is daar geen einde aan berigte oor reuse bedrae wat vermors word, deur korrupsie in bodemlose putte verdwyn en van selfverryking nie. Die Ontvanger is bekommerd dat hierdie berigte tot weerstand teen die Wet van Transvaal sal lei. Rhoda Kadalie het pas in ʼn rubriek geskryf beheer oor die ANC is “gelyk aan beheer oor die ekonomie en toegang tot kitsrykdom”.

Alli se bedanking is slegs ʼn nietige ratjie in die ʼn groot masjien wat onklaar geraak het. Met sy bedanking gaan alles nie oornag in maanskyn en rose omgetower word nie. Iemand is nog besig om die land van sy toekoms te beroof, en so die bevolking tot ʼn eietydse ekonomiese slawestand te verlaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.