Nuuskommentaar: Sondaars en tollenaars – die e-tol

Die regering het sy les geleer en sal voortaan meer oorleg pleeg en groter aandag aan prosedures skenk voor iets soos die e-tolstelsel geïmplementeer word, volgens die minister van vervoer, Sibusisu Ndebele. Dit is die jongste regeringsuitlating in die lang, onverkwiklike proses tot waar die regering sy voet dwars neergesit het en gesê het daar sal voortgegaan word met die implementering, kom wat wil. Van einde April af geld die Wet van Transvaal vir die Gautengse Deurroete-verbeteringsprogram.

Van die “slagoffers” wat hul sommetjies gemaak het bereken dat dit hulle ‘n R1 000 aan bykomende vervoer uitgawe uit die sak sou jaag indien hulle daagliks tussen Pretoria en Johannesburg gependel het. Daar is egter verlede week aangekondig dat daar ʼn maandelikse perk van R550 sal wees. Maar dit is nie al nie. Die “verlies” wat die verlaagde tariewe te weeg bring, word nou landswyd versprei deur ‘n bykomende brandstofheffing. Sowat 40 % van die land se voertuie is in Gauteng geregistreer, wat beteken sestig persent motoriste elders, waarvan baie selde of ooit in Gauteng kom, gaan help betaal hieraan. Vebruikersgoedere soos brood en melk, sal deur die e-tolstelsel tot sewe keer belas word voor dit op die winkelrakke verskyn.

Die ekonoom, Mike Schussler, het bereken dat die produksiekoste van die Gautengse e-tolstelsel tot 228 % duurder is as soortgelyke stelsels oorsee. Die berekening van sy syfer is egter ook betwis, en ‘n nuwe studie is gedoen wat aandui dat Schussler te ruim bereken het. Schussler se aanvanklike berekening het egter gehelp om die algemene weersin in die stelsel te verhoog. Boonop is ‘n Oostenrykse firma ‘n meerderheidsaandeelhouer in die konsortium wat die e-tolstelsel gaan bedryf, wat ‘n uitvloei van valuta en dus werksgeleenthede gaan beteken, terwyl nog ‘n firma in die konsortium, GijimaAST, voorheen in ‘n regsaak teen die Departement van Binnelandse Sake betrokke was – en volgens die VF Plus beteken dit bewyse van gehalte-dienslewering is hierdeur in die voet geskiet.

Teen dié agtergrond, skep die regering se volharding met die stelsel die indruk van beskermde belange, selfs waar sy vernaamste alliansievennoot, Cosatu, dit ten sterkste teenstaan. Tolpaaie in die meer onlangse Suid-Afrika is dikwels in sonde ontvang en gebore, en berigte oor tolhekpersoneel wat hulle vergryp was amper so algemeen soos toe tollenaars in Bybelse tye as sinoniem met korrupsie beskou is. Dié berigte het na 2008 gelukkig afgeneem. In die jongste voorval het inwoners van Brandfort wat geld op hul tolkaarte vir die nuwe tolhek gelaai het, gevind die geld verdwyn van die kaarte so vinnig soos wat dit gelaai is. Dit het groot mediadekking gekry. Toe die operateur erken dat daar ‘n beweerde stelselfout was, en die klaers vir hierdie verliese vergoed is, is dit skynbaar suksesvol uit die media geweer, wat bloot die vrae laat toeneem.

Die owerhede se optrede is ook nie altyd konsekwent nie. Die Wes-Kaapse regering is baie traag om bykomende tolpaaie in te stel – lynreg teen die regering se beleid van die uitbreiding daarvan, maar in Kaapstad self word rug styfgemaak oor die tolhek op die herstelde Chapmanspiekroete. In die moderne era is tolgeld nie soseer as inkomstebron vir iemand bedoel nie, maar om die lenings wat aangegaan is te diens en af te betaal. ‘n Goeie voorbeeld is die tolgeld wat aanvanklik op die kanaal gehef is wat die Noord-Amerikaanse Groot Mere met die Hudson, en uiteindelik New York verbind het. In daardie stadium was die VSA na ‘n opvolgoorlog teen Engeland erg verarm. Na die lening afbetaal is, is die tolgeld opgehef. Die gevolg was onder meer dat New York van ‘n betreklike onbeduidende stad tot wêreldstad ontwikkel het.

Die bedoeling is om veral in groot lande die algemene vervoerkoste so laag as moontlik te hou, sodat ontwikkeling landswyd optimaal kan geskied. Weens die hoë instandhoudingskoste van paaie is die wegdoen van tolgeld na die finansiering afgelos is wensdenkery, maar vrae kan tog gevra word oor hoekom toltariewe daarna aanhou styg in plaas van afneem. Murasies van ou woestynstede soos Petra, getuig van eras toe heersers die handelsroetes wat in die eerste plek die stede laat ontstaan het, onlonend gemaak het en die roetes gewoon verskuif het.

Hoewel daar geen gevaar is dat die e-tolstelsel Gauteng se stede in spookdorpe sal laat verval nie, is die grondliggende beginsels dieselfde. Gautengse motoriste sal wel deeglik alternatiewe moet oorweeg, soos saamryklubs, of oos sommige kommentators meen, toegee aan regeringsdruk om meer van openbare vervoer gebruik te maak. Vrystaters wat reeds erg deurloop onder kameraspoedboetes wat hul sleepwaens, trekkers en voertuie wat hulle nie besit nie, in Gauteng opgelê word, sal binnekort ook sulke e-tolrekenings danksy voertuie met vervalste registrasienommers te wagte kan wees. Dit is tyd dat die regering so optree dat suspisies oor tenderpreneurskap en verdoeselde korrupsie oor die e-tolstelsel nie verskerp word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae