Nuuskommentaar: Speel op Avbob se stoep met persvryheid

Nkandlagate van die lug af

Die opdrag van die SAUK se waarnemende nuusbaas, Jimi Matthews aan nuusspanne om onder meer nie meer na Zumaville, Nkandlagate en ander terme wat met Nkandlagate verband hou te verwys nie, kon nie op ‘n slegter tyd vir die land gekom het nie. Matthews word al lank as ‘n politieke kommissaris van Luthuli-huis beskou, en die jongste optrede sal min doen om dié persepsie te versag. Die opdrag val min of meer saam met vraelyste wat die internasionale mediawaghond, Verslaggewers Sonder Grense (VSG), aan mense in die mediawêreld dwars oor die wêreld gestuur het. Die doel hiervan is om die lande se posisie op die internasionale persvryheidsindeks te bepaal.

Impak op 2013 se persvryheidsindeks

Om die stand van persvryheid te bepaal is veel komplekser as om bloot te kyk na wetgewing en selfs regeringslui se optrede wat inhiberend op persvryheid inwerk, maar selfs al is dit al wat ‘n rol sou speel, het Matthews se optrede nou sy land enorme skade berokken.

Die vraelys bevat byna 90 vrae wat verskillende aspekte op verskillende tipes media uitoefen. Hierdie ander faktore verklaar moontlik waarom ‘n media-akademikus soos prof Anton Haber en baie joernaliste die land as meer persvry ervaar as wat die land gegradeer is. Daar is immers nie joernaliste in die tronk oor hul mediawerk nie. Trouens, tot 2009, maar veral tot 2006 het Verslaggewers Sonder Grense gereeld die Suid-Afrikaanse media gehaal.
Sedert 2009 haal VSG glad nie Volksblad se elektroniese argiewe nie, en bitter selde die argiewe van Beeld en Die Burger. Juis in hierdie tyd het VSG die ANC tydens ‘n kongres in Durban in geen onduidelike terme nie gewaarsku om planne oor die snoerwet en ‘n mediatribunaal te laat vaar.

Op die jongste VSG-indeks beklee Suid-Afrika die 42ste posisie uit 178 lande wat gemeet is. Daar is twee kommerwekkende aspekte hieraan verbonde – eerstens dat verskeie Afrikalande soos die Kaap Verde (9), Namibië (20ste saam met België), Mali (25), Niger (29), Tanzanië (34), en Ghana (41) beter as Suid-Afrika vaar. Die tweede is dat Suid-Afrika minder as ‘n dekade gelede nog die 21ste plek beklee het en die mees persvrye land in Afrika was, maar sedertdien die kreeftegang gegaan het.

Faktore wat vir die persvryheidsindeks gemeet word

Faktore wat ‘n rol speel anders as regstreekse owerheidsinmenging of dreigende inmenging soos die beoogde snoerwet wat VSG by die naam noem, is beperkings op aanstellings weens ras, redaksionele blindheid of eenogigheid weens politieke voorkeure, redaksionele knievalle voor privaat en openbare adverteerders, versuim om die politieke diversiteit weer te gee, versuim om nie teen iemand op grond van godsdiens te diskrimineer nie en die gebrekkige opleiding van joernaliste.
Afhangende van watter kant van die draad iemand staan, sal sy ervaring van baie van hierdie faktore verskillend wees. ‘n Nuusredakteur wat self bekend is vir sy politieke voorkeur, sal moontlik heel objektief oordeel sekere partye is te klein om relevant te wees. So ‘n party mag dit egter heel anders ervaar, veral as die party ‘n e-pos van die nuusredakteur gekry het met die versoek om van die verspreidingslys vir mediaverklarings gehaal te word. VSG se vraelys sal dus heel verskillend deur die betrokkenes ingevul word, hoewel beide ewe sterk oor mediavryheid voel.

‘n Redakteur wat in ‘n hoofartikel verklaar dat “aborsie nie meer deel van die openbare debat is” en sy koerant en die koerant se gemeenskapskoerante dus die openbare verhore om Suid-Afrika se aborsiewetgewing van die ingrypendste ter wêreld maak ignoreer, sou ook op die persvryheidsindeks boemerang. Die redakteur het intussen afgetree en dy opvolgers het die onderwerp weer oopgestel.

Donkie-ore met Marikana aangesit?

Na die ergste kruitdampe van die Marikana-skietery gaan lê het, het mediakenners oor ‘n wye spektrum erg krities geraak oor die mate waarin die media, volgens hulle, in hul beriggewing aan die neus gelei is, en die publiek dus in wese verkeerd ingelig is. In ‘n artikel, The Selling of a Massacre: Media Complicity in Marikana Repression, vat Ben Vogel die kritiek wat teen die media gerig is, goed saam. Hy put onder meer uit die navorsing van Jane Duncan van Rhodes se departement Joernalistiek.
Dit kom daarop neer dat die media, om agter die kap van die byl te kom, slegs drie persent van hul onderhoude met die stakers gevoer het, en min of meer alles wat die mynbase, NUM en die polisie gesê het, vir soetkoek opgeëet het.

Onder die joernaliste op die toneel is van die land se mees senior nuusmanne, en ook van die wat dalk nog nie behoorlike hardebaard het nie, maar deur hul hoofde baie hoog aangeslaan word. Weens die grot omvang van roofjoernalistiek en sindikatering het hierdie weergawe ‘n hele ruk die persepsies gedomineer. Hoewel die media erg onder kritiek deurloop oor hierdie insident, sal die amptelike ondersoek na die skietery eers bepaal in hoe ‘n mate die media met ondersoekende, onafhanklike joernalistiek verbrou het, en scoops onder hul neuse toegevee is, indien hoegenaamd.

Freedom House

Opsommend is dit dus nie vreemd nie dat ook ‘n ander instansie, Freedom House, Suid-Afrika se media as slegs gedeeltelik vry klassifiseer nie. Die persvryheidsindeks is dikwels die klikbek oor hoe ‘n land op ander indekse vaar, en saam met Suid-Afrika se agteruitboerdery op hierdie indeks, het die land ook die kreeftegang op bykans elke ander saakmakende indeks gegaan, soos die korrupsiepersepsieindeks, die indeks vir mislukte state (piesangrepubliekindeks), medingedheidsindeks en die geweldsindeks.

‘n Vrye media is ‘n integrale deel van demokrasie, nie net omdat dit die regering as waghond op sy tone hou nie, maar kiesers inlig sodat ingeligte keuses gemaak kan word wanneer die kruisies getrek word.

Selektiewe media praat met selektiewe gehore

Die opkoms van nismarkmedia frustreer egter hierdie doel as die verskillende media hul eie agendas dryf. In ‘n artikel, America Is Two Countries, Not on Speaking Terms, beskryf Michael Barone hoe dit gebeur. Ook die Christian Science Monitor skryf hieroor: ” Increasingly, the public consumes media that reinforce personal views rather than give actual information about the world, says University of San Francisco political scientist Corey Cook.”
Suid-Afrika verskil nie veel van die model nie – terwyl een deel van die bevolking hulle kwalik die situasie kan indink dat pres. Jacob Zuma ‘n tweede termyn kan dien, is hy danksy die persepsies van sy ondersteuners skynbaar onkeerbaar daarheen op pad.

In Suid-Afrika is die keuse van media eens die beskikbaarheid en die bekostigbaarheid van toegang tot betaalopsies veel kleiner as in die VSA. Massa-saamtrekke, mense wat met busse aangery word en persoon-tot-persoon-kommunikasie sis heel doeltreffend, maar helaas nie objektief nie. Vir baie is die SAUK in wese die enigste massanuusbron. Matthews het sy land geen guns bewys nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae