Nuuskommentaar: Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die gewildste in die land?

In ‘n opname onder mXit-gebruikers jonger as 35 jaar is adjunk-president Kgalema Motlanthe twee keer so gewild as pres. Jacob Zuma. Motlanthe is die eerste keuse van 28 persent van die deelnemers, Julius Malema met 20 persent is in die tweede plek, die DA-leier Helen Zille is derde met 18, en Zuma die ongewildste met sowat 15 persent steun.

Dit is geen wetenskaplike peiling nie, en is hoogstens interessant oor hoe ‘n deel van die jonger mense wat die sosiale netwerke gebruik, oor die saak voel. Dit is kwalik die teikengroep op wie Zuma tradisioneel sal kan steun. Dié peiling staan egter nie in isolasie nie.

In ‘n onlangse peiling deur TNS het Zuma se gewildheid van 55 % in Februarie na 46 % gedaal. In September 2010 was sy gewildheid egter net 42 %, wat toon dat Zuma ‘n vermoë het om terug te bons. Wat vir Zuma egter kommerwekkend behoort te wees, is dat verskillende peilings bykans voor die voet aandui dat sy gewildheid die kreeftegang gaan.

In Februarie het Markinor nog bevind dat 57 % van die bevolking vertroue in Zuma het, en hoewel dit effen op die vergelyking van appels en pere neerkom, lyk dit tog vreemd teenoor TNS se bevinding oor sy gewildheid. Ook Gallup het bevind dat die vertroue in Zuma verlede jaar nog op 57 % gestaan het, maar dit was maar een persent beter as die Swazi-koning, en heelwat beter as die 36 % van Mugabe.

Word Gallup se syfers vir Afrika se regeringsleiers vergelyk, kristalliseer twee faktore uit: Lande waar een etniese groep redelik oorheersend is en ook die stam van die regeringsleier is, is geneig om die  vertroue in die regeringsleier hoog te stel. Tweedens, hoe langer ‘n regeringsleiers in die tuig is, hoe minder gewild word hy as een stam nie totaal oorheers nie. Na een jaar het die president van Niger se gewildheid op 82 persent gestaan, en na 32 jaar in die tuig staan die president van Angola op 16 %. Mugabe staan na 24 jaar op 36 %, terwyl Botswana se Ian Kgama na drie jaar op 81 % gestaan het. Lees meer by http://herrie.maroelamedia.co.za/2012/04/29/nuuskommentaar-waarde-van-die-solidariteit-beweging/

Daar is oorgenoeg uitsonderings op dié “reëls” om nie as noodwendigheid te aanvaar dat Zuma probleme het nie – sy sterkste steunbasis is die Zoeloes, maar die Zoeloes is in die Suid-Afrikaanse geheel nie allesoorheersend nie. Sy ontplooiing van begunstigde Zoeloes in sekere poste gaan ook nie oral ewe goed af nie.

Gallup wys ook daarop dat kiesers nie noodwendig hul kruisies trek waar hul oortuigings lê nie, en Zuma se lot hang ook nie af van die Suid-Afrikaanse kiesers in geheel nie, maar van die ANC se kongres later vanjaar. Zuma se eerste prioriteit sal dus nou wees om sy steunbasis binne die ANC te versterk, en hom dan na die ANC se kongres eers bekommer oor Helen Zille se gewildheid.

Weens die bykanse eenparty-sterkte van die ANC, is die breë politieke opinie egter ook nie heeltemal irrelevant nie, en is die uitslae van peilings waarskynlik ook die beste aanduidings wat Zuma self sal kry oor hoe sy gewildheid in die ANC self staan. Lippediens in die party beteken niks, soos oud-president Thabo Mbeki tot sy ontnugtering in Polokwane agtergekom het.

Dat Zuma se steun nie onderskat moet word nie, blyk uit die pas-afgelope NUM-kongres. Die NUM vorm die ruggraat van Cosatu, en by dié kongres is ‘n groot ondersteuner van Gwede Mantashe, en dus effektief Zuma, Frans Baleni, tot president herkies. Die kongres het ook ‘n mosie aanvaar dat die vakbond se NUK die bestaande leierskap, dus Zuma, tydens die Mangaung-kongres sal steun. Later het Baleni die besluit gewysig om in pas te wees met Cosatu se direktief om nie bepaalde voorkeure uit te spreek nie.

Die omstrede Zuma-skildery het ook vir Zuma soos manna uit die hemel gekom, deurdat dit die ANC-leierskap die geleentheid gebied het om die rassekaart te speel. Eensklaps was Zuma nie meer die slagoffer van sy eie seksuele gedrag nie, maar ‘n swart man wat deur ‘n wit man verneder word.

Selfs na die skildery gevandaliseer is, en City Press se redakteur verskoning gevra het en die afbeelding van sy webwerf verwyder het, word die geleentheid nie verpas om ‘n optog te hou nie. Die speel van die rassekaart word so maklik as troefkaart gespeel, en versteur die hele politieke spel. Swak of onvoorbeeldige leierskap word dan nie gestraf nie. In enige ander land sou die losslaan van die grootste deel van die SKA-projek deur die regerende party aangegryp gewees het om sy posisie t versterk – maar die ANC lig kwalik hieroor ‘n wenkbrou en fokus op die kwessie oor die president se onderlyf. Dalk te min Afrika-Afrikane – die ANC se term – by die losslaan van die projek betrokke om die rassetroefkaart te kan speel?

Die hele land, en nie net die ANC nie, het ‘n belang in Zuma se Mangaung-lot. ‘n Mens hoef bloot te kyk na hoe Suid-Afrika die afgelope aantal jare op die kurrupsiepersepsie- en persvryheidsindekse agteruitgeboer het om te besef hoe die land in geheel ‘n belang hierby het. Hoe te werk gegaan moet word om dié lot te bepaal is moeilik omdat gewone spelreëls nie geld waar die rassetroefkaart so allesoorheersend is nie.

In die aanloop tot Polokwane het Tim du Plessis in ‘n rubriek sy waardering teenoor ‘n rits swart redakteurs uitgespreek, en hulle gelys, dat hulle daarin geslaag het om die grense van politieke korrektheid oor te steek, waarop wit redakteurs gevolg het. Na Polokwane het verskeie mense, waaronder dr. Nico Smith en sommiges op Tim se lysie, weer gewaarsku dat kritiek op die ANC tot ‘n bloedbad kan lei. Dit lyk of minstens sommige van daardie redakteurs minder begaan was oor die wegstaan van politieke korrektheid, as wat hulle bloot deel van die veldtog was om Mbeki uit die kussings gelig te kry. Daarna was dit weer min of meer die ou stryk.

Een van die swart redakteurs op die aanvanklike lysie was Ferrial Haffajee, destyds van die Mail & Guardian, en nou die City Press. Anders as van die ander, het sy probeer rug styfmaak – en die ANC het bloot getoon dat dit nie geduld word nie. Die hele land gaan die gevolge hiervan wanneer die ANC se handelinge teen die City Press op die persvryheidsindeks neerslag vind, want hierdie indeks beïnvloed ander indekse soos die korrupsiepersepsie- en die beleggersvertroue-indekse. En, ironies, wanneer dié uitslae bekend gemaak word het die “daais” in Bloemfontein dalk reeds vir Zuma verkeerd geval.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae