Nuuskommentaar: Spoke en hul skelmpies

David Petraeus en Paula Broadwell in 2011

Terwyl Suid-Afrikaners nog kopkrap oor hoe dit kon gebeur dat Marikana so kon ontplof terwyl die owerhede blykbaar geen behoorlike inligting tot die aanloop daarvan gehad het nie, word die VSA weer geskud oor belangrike inligting wat reeds beskikbaar was, maar iewers in die stelsel vasgehaak het.

Presies soos die geval met die Twin Tower-aanvalle. Die jongste ongeval is niemand minder nie as die hoof van die CIA self, generaal David Petraeus. Petraeus het verlede jaar hoof van die CIA geword na hy as die towergeneraal ontpop het wat dit moontlik sou gemaak het dat die VSA sy soldate uit Irak en Afganistan kon begin onttrek. Sy kwaliteite is egter nie net deur pres. Barack Obama waargeneem nie, maar ook ‘n paar persone van die skoner geslag, veral Paula Broadwell, wat sy biograaf sou word. En toe die getroude skelmpie geword van ‘n man wat reeds 40 jaar lank getroud is.

Dit was juis toe Broadwell tande wys vir ‘n ander vrou wat ook sag op die generaal se oog geval het, dat dié vrou, Jill Kelly, by ‘n vriend gekla het. Dié vriend is ‘n lid van die FBI, en so het die inligting die wêreld van die spoke binnegedring, maar nou eers en met ‘n gesukkel, die bestemming bereik wat dit moes bereik.

Toe Petraeus met die feite gekonfronteer is, het hy dadelik die eerbare ding gedoen en in sy eie swaard geval, en bedank.

Die hele aangeleentheid, en hoe die inligting kon vashaak, word nou ondersoek.

Dit plaas twee kwessies aan die bod: Die persoonlike moraliteit van iemand wat met hoogs sensitiewe inligting werk, en die noodsaak dat inligting wat veiligheid raak, die bestemmings moet bereik waar dit hoort. Gevalle het reeds voorgekom dat selfs die hoofde van spioenasiedienste self spioene vir vyandelike magte geword het deurdat die vyand van buite-egtelike verhoudings bewus geword het, en die spioenbaas daarmee afgepers het. Dit is een van die bekende metodes om ‘n sogenaamde klandestiene HUMINT (human intelligence-bron) te werf.

Dit is egter nie net die vrees vir afpersing wat spioene wat by buite-egtelike verhoudings betrokke is onaanvaarbaar maak nie, maar die basiese konsep dat iemand wat met sensitiewe inligting vertrou kan word, iemand met ‘n onkreukbare persoonlikheid moet wees. In 1963 moes die Britse minister van Verdediging John Profumo, bedank na hy ‘n verhouding met die skelmpie van ‘n beweerde Russiese spioen aangeknoop het, en toe gelieg het toe hy daaroor ondervra is. Dié aangeleentheid het bygedra tot die val van die konserwatiewe regering van Harold McMillan.

Hoewel spioenasie nie ter sprake was nie, is die teenspoed wat pres. Bill Clinton weens sy verhouding met Monica Lewinsky aangeknoop het goed bekend.

Pas het die direkteur-generaal van die BBC bedank net 54 dae na hy in die pos aangestel is, en die voorsitter se kop gaan dalk ook rol. Die skandaal behels dat die BBC op 2 November foutiewelik berig het dat ‘n politikus van Margaret Thatcher se administrasie seuns misbruik het, maar ‘n ondersoekende joernalistieke program oor seksuele misbruik teen een van sy eie sterre, wyle Jimmy Savile, onder die mat ingevee het.

Veral sedert die aanvalle op die Wêreldhandelsentrum in New York is Amerikaners besonder gevoelig oor belangrike inligting wat iewers vashaak. In dié stadium lyk dit of die Republikeinse Party ‘n stokkie in die wiel gaan probeer steek van die moontlikheid dat pres. Barack Obama die huidige Amerikaanse ambassadeur by die VN, Susan Rice, as nuwe minister van Buitelandse Sake aanstel. Rice word daarvan beskuldig dat sy met wanvoorstellings volgehou het oor wat agter die aanval op die Amerikaanse ambassade in Bengazi geskuil het, en tot die moord op die ambassadeur en drie ander gelei het, lank na die ware feite reeds aan die regering bekend was.

Vandag word agt opposisiepartye se poging om ‘n mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma ingestel te kry, op die spits gedryf na die ANC gekoukus het en besluit het om die mosie in sy kinderskoene te stuit. Die opposisie stel ‘n hele rits redes aan die orde oor hoekom so ‘n mosie moet dien en gedebatteer word. Onder hulle tel nié dat die president owerspel as verweer teen ‘n verkragtingsaak gebruik het nie, en ook nie dat die president kinders buite die eg verwek het nie. Suid-Afrikaners sien gereeld neer op vlakke van immoraliteit is die buiteland, maar tog stel daardie einste buiteland dikwels vir Suid-Afrika ‘n voorbeeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.