Nuuskommentaar: Staat (of gebrek daaraan) van Anargie

Dr. Mamphela Ramphele som dit raak op: “Manguang will happen in December, but the country’s burning today.”

Met die obsessie van pleknaamsveranderinge en die vind van gepaste name, is die moontlike naam, Anargie, so ver bekend nog nie voorgestel nie.

‘n Grapjas of twee het wel aangedui dat ANC eintlik staan vir Anarchy Nightmare Congress. Toe nuwe name vir die destydse Oranje-Vrystaat voorgestel is, het een grapjas “Potholes” voorgestel – ‘n naam wat tot vandag toe baie gepas sou wees.

“Anargie” word onder meer gedefinieer as politieke en maatskaplike wanorde in die afwesigheid van doeltreffende owerheidsbeheer. Inligting oor kenmerke van anargie is nou volop.

  • Die FW de Klerkstigting het pas op die geweld gereageer wat met die landswye stakings gepaard gaan. Stakings en protesoptredes is wel grondwetlike gemagtig, maar die grondwet beklemtoon ook dat dit vreedsaam moet wees.
  • Kort-kort is daar ook protesoptrede deur gemeenskappe oor veral munisipale dienslewering. Studies toon dat dit al hoe meer gewelddadig word, selfs in tydperke toe die aantal protesoptredes afgeneem het.
  • Baie van die onderliggende oorsake kan aan die wêreldekonomie toegeskryf word. ‘n Peiling toon byvoorbeeld dat bykans die helfte van die Amerikaners iemand ken wat al moed opgegee het om werk te probeer vind. Die VSA se werkloosheidskoers is veel laer as dié van Suid-Afrika.
  • Maar in Suid-Afrika word meer as R200 miljoen staatsfondse spandeer vir verbeterings aan die president se privaat woning, en die ylste redes denkbaar word geopper.
  • ‘n Derde hofbevel is verkry wat die onderwysdepartement dwing om skoolhandboeke voor ‘n spertyd afgelewer te kry.
  • Die Grondwetlike Hof lewer vandag uitspraak oor die grondwetlikheid van die aanstelling Menzi Simelane as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag.
  • Die mynstaking kom teen die agtergrond dat sommige mynwerkers ‘n hele jaar moet werk vir die inkomste wat sekere mynbase in enkele dae verdien. Die inkomstegaping in Suid-Afrika tel onder die hoogste in die wêreld, en volgens sommige bronne die hoogste meetbare gaping ter wêreld. Sosioloë wys daarop dat ‘n te groot gaping op die grafiek van relatiewe deprivasie ‘n rewolusionêre klimaat skep.
  • Teenstrydige data oor Suid-Afrika se produktiwiteit sien die lig, maar meestal word Suid-Afrika as een van die lande met die laagste produktiwiteitskoers ter wêreld beskou, en boonop dui data daarop dat dit afneem. Teen die agtergrond van ‘n land waar uitgesoekte kaders nie die werk kan doen nie enorme salarisse kry is dit nie moeilik om anargie te voorspel nie.
  • Boonop is daar persepsie in omloop, soos dat die nasionalisering van myne en landbougrond tot kitstykdom sal lei. Terwyl in bykans die ganse wêreld elders na die aanvang van die wêreld ekonomiese krisis na ‘n groter element van moraliteit in die ekonomie soek, soos onder meer in die Wall Street-proteste gemanifesteer, gedy instansies in Suid-Afrika wat die uitgediende sosialismetamboer moker.
  • Nkandlagate is ongelukkig nie al voorbeeld van vioolspelery terwyl Rome brand nie.

Swak leierskap is ‘n gegewe, en boonop is die fokus nou op die ANC se leierskapsverkiesing die einde van die jaar. Op die oog af beleef die land nou ‘n “We want Pik”-herhaling waar die stelsel van presidentsverkiesing in die land nie die algemene publiek se keuse reflekteer nie.

Terwyl sommige peilings aantoon dat die meerderheid mense nie langer vir pres. Jacob Zuma as president wil hê nie, verseker die onregstreekse verkiesingstelsel byna verseker dat die land twee volle Zuma-termyne sal beleef. Of die land dit sal oorleef, begin al hoe meer van ‘n debatspunt word.

Dr. Mamphela Ramphele som dit raak op: “Manguang will happen in December, but the country’s burning today.

Zuma het onlangs die VN toegespreek en vir die wêreldliggaam mooi gepreek oor hoe sake nou eintlik gedoen behoort te word…

Maar nie almal is ingestel daarop om die bootjies waarin hulle in die middel van die see is, se bodems vol gate te kap nie. Van die romantiek van Satre en Fanon se gedagtes het min oorgebly.

Instansies wat anargie-weerstandig is soos Solidariteit en AfriForum dien as ankers teen anargie. Hoewel sommige gevestigde kerke se lidmaatgetalle krimp, bars ander oorkant die straat uit hul nate waar dalk bietjie meer hande geklap.

Die land het nog bouers, maar die slopers kry nou harde houe in. Dit is noodsaaklik dat kragte van orde en vooruitgang kan saamstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.