Nuuskommentaar: Staatstoelaes onder die loep

Die regering het nie altyd veel om aan prestasies te roem nie, maar een saak is met trots geopper – tot onlangs nog: Die hoeveelheid mense wat die staat bykomend as die ontvangers van staatstoelaes geregistreer het en sulke toelaes ontvang.

Verlede jaar nog het pres. Jacob Zuma hierna in sy staatsrede verwys, maar toe reeds was daar ‘n stertjie by – die toelaes moes omsit in selfstandigheid:

Close to 15 million South Africans obtain social grants from the State. We will phase in the extension of the Child Support Grant to cover eligible children under the age of 18 years. Since we are building a developmental and not a welfare state, the social grants will be linked to economic activity and community development, to enable short-term beneficiaries to become self-supporting in the long run.”

Nou is die syfer 15,3 miljoen mense wat maatskaplike toelaes ontvang, en met ‘n beperkte belastingbasis is dit nie net onvolhoubaar nie, maar maak dit ekonomies nie sin nie. Amper R100 miljard word nou in ‘n jaar uitbetaal.

Dit is as belangrike deel van die ANC se verkiesingsarsenaal beskou. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het dit in 2010 so beskryf: “The ANC is not disintegrating but rather consolidating a great deal of power within the party. That, and the dependency it has generated through the social grants network, suggests that it is unlikely to lose its two thirds majority in parliament”.

Vanjaar het Zuma in sy staatsrede glad nie die woord “grants” gebruik nie.

‘n Groot deel van Europa se fiskale krisis word toegeskryf aan die koste daarvan om welsynstate te wees. Dit is miskien volhoubaar in die produktiewe Noord-Europese state, soos Duitsland en Swede, maar in die, soos die noorde dit uitbeeld, onproduktiewe Suid-Europese state nie. Veral Griekeland, het die prys betaal van wat hulle noordelike bure as die luilekker lewe beskryf, betaal toe dit te duur geword het. Omdat dié lande deel van die Europese Unie is, en deel van die Euro-sone, trek dit die sterker Europese ekonomieë saam. Gordel intrek is onafwendbaar, maar die skynbare luilekker het ‘n lewenswyse geword en die gevolg is brandende strate en stakings wat die krisis vererger.

Beeld beskryf vandag in ‘n hoofartikel die situasie in Griekeland soos volg: Die dreigende bankrotskap van Griekeland is, soos alle bankrotskappe, te wyte aan te min inkomste, te veel uitgawes en ’n onvermoë om die twee in ewewig te bring. Griekeland is vrot van die korrupsie. Al wat ’n invloedryke mens is, probeer baie vrolik en ongestraf so min moontlik belasting betaal. Trouens, belastingontduiking is ’n nasionale sport. Dit beteken dat die staat veels te min geld kry. Maar dit het agtereenvolgende Griekse regerings oor dekades heen nie daarvan weerhou om geld soos confetti rond te strooi nie. Vet kontrakte vir werk wat óf nie gedoen word nie óf veel minder werd is, is aan die orde van die dag. Duisende staatsamptenare wat op die staat se boeke is en ’n salaris kry, sit tuis en koffie drink en daag miskien een of twee keer per week by die kantoor op. Allerlei maatskaplike uitkerings word uitbetaal. Mense tree soms op 50 af. Die gevolg is reusagtige begrotingstekorte jaar ná jaar. Wat beteken dat die tekort geleen moet word – en die lenings, saam met die rente, moet terugbetaal word.

Die lande met die euro as munteenheid het ’n reël dat die begrotingstekort nie hoër as 3% mag wees nie. Maar die Grieke het jare lank skaamteloos daaroor gelieg en in werklikheid tekorte van tot 15% gehad. Nou moet die land die prys daarvoor betaal en dis pynlik. Dit gaan om ’n hele kultuur wat omgekeer moet word. Klink dit nie alles besonder bekend nie? Suid-Afrika is nog ver van Griekse toestande weg.

Verskeie Noord-Europese state, soos Finland waar die kiesers hul ontevredenheid laat blyk het, trek langlip oor hierdie effektiewe subsidiëring van hul sogenaamde loodswaaier suidelike uniegenote. Terwyl Vlaandere die Wale met miljarde euro’s per jaar subsidieer, gaan stem die Wale vir ‘n sosialistiese party. Dit word as belangrike rede beskou hoekom dit meer as ‘n jaar en ‘n half geneem het om ‘n regering saam te stel, en net na staatkundige aanpassings moontlik kon word.

Hoewel ‘n deel van die Suid-Afrikaanse bevolking se inkomstes meer as net goed met dié van die Europese vergelyk, is dit ‘n te klein sektor om welsyn op dieselfde skaal te bekostig. Die mynsektor, wat volgens Zuma se staatsrede ‘n kollektiewe waarde van $2,5 triljoen het, help bietjie, maar te veel myne is ook marginaal, en as nywerheidsland wat baie werk en staatsinkomste skep, is Suid-Afrika ver agter die geïndustrialiseerde wêreld. Zuma het waarskynlik geprojekteerde mynopbrengste ingereken, want ander bronne stel die waarde veel kleiner, naamlik sowat R92 miljard in 2009, nadat dit in 2003 nog meer as R100 miljard werd was.

Suid-Afrika se inkomstegaping is waarskynlik sy grootste Achilleshiel. Sowat 18 miljoen Suid-Afrikaners leef volgens sommige bronne in armoede. Volgens die Live under the Line Challenge leef meer as 26 % van die land se bevolking onder die broodlyn, terwyl ‘n vroeëre bron aangedui het dat meer as die helfte van die land se kinders onder die broodlyn leef. Sommige bronne beweer Suid-Afrika het Brasilië as die land met die grootste inkomstegaping verbygesteek, terwyl dit in Suid-Afrika bly groei, en in Brasilië bly krimp het. Volgens onlangse data van Adcorp het die inkomstegaping in Suid-Afrika egter onlangs aansienlik gekrimp. Dié data moet nog aan die praktyk getoets word, hoewel dit waar lyk dat die inkomstegaping tussen wit en swart vernou het.

Prof. Hussein Solomon van Kovsies se departement politieke wetenskap wys egter daarop dat die kloof nou tussen swart en swart ontwikkel. Hy meen ook dat Suid-Afrika onder die lande met die grootste ongelykhede in inkomste tel. Suid-Afrika se gini-koëffisiënt is volgens hom 0,67, waar een absolute ongelykheid aandui.

Verskeie studies dui ook daarop dat tronkbevolkings en vlakke van maatskaplike probleme soos drankverslawing toeneem met die grootte van die inkomstegaping. Dit is nie ‘n uniek Suid-Afrikaanse probleem nie. Dit maak ‘n onderdeel uit van wat politieke sosioloë relatiewe deprivasie noem, en waar ‘n te groot gaping tussen werklikheid en verwagtinge tot geweld kan lei, soortgelyk aan die dienslewingsonluste wat nou in dele van Mpumalanga en Noordwes, en periodiek elders soos in die Vrystaat voorkom. In Suid-Afrika is die situasie soortgelyk as in België waar die een deel van die bevolking die ander deel as ‘n onuitputlike spaarvarkie beskou.

Dat korrupsie hoogty vier, gee die regering toe, en wys daarop dat talle onwettige immigrante met vervalste dokumente onder meer ouderdoms-pensioen ontvang, of kindertoelaes. Enigeen wat al by die registrasie van ‘n familielid vir staatstoelaes betrokke was, soos vir ‘n gestremde kind wat 18 geword het, sal kan getuig dat dit ‘n nagmerrie is. Dit behels verskeie dae verskeie ure se toustaan. Die behandeling waaraan die mense blootgestel word is dikwels vernederend, en dikwels vier rassisme hoogty. Toiletgeriewe in die omgewing bestaan soms nie, of is in ‘n toestand van verval.

Tussenin is die kansvatters, of mense wat beslis nie kwalifiseer vir hierdie oumens-toelaes nie, maar beleggings en bates verdoesel en dan die ure se wag en rompslomp trotseer vir ‘n bedrag waarmee ‘n mens baie moeilik ‘n maand lank liggaam en siel mee aanmekaar kan hou. Hulle praat openlik in die wagtende toue hieroor asof dit ‘n reg is. Tog, daar is dikwels gevalle waar hierdie toelaag die enigste inkomste, of ‘n broodnoodsaaklike bykomende inkomste aan ‘n uitgebreide familie verskaf. Gestremdes wat nie van die toelaes afhanklik is nie, is in die bevoorregte posisie om dit te kan belê vir eendag wanneer hul ouers nie meer daar is nie, en hulle aan die onsekerhede van die toekomstige lewe uitgelewer sal wees.

Hoewel bona fide ontvangers langlip sal wees dat al die ontvangers nou herregistreer moet word, kan dit nie anders nie. Dit is noodsaaklik om die skelm ontvangers uit die stelsel te haal. Koerante het met opskrifte die publiek geskok dat hulle oor die volgende vyf jaar R10 miljard aan die uitbetalingsproses self gaan spandeer. Die goeie nuus is dat hulle egter nou in wese meer betaal, omdat elke provinsie nou sy eie instansie gekontrakteer het, en die een wat nou al die provinsies se bod gewen het, algeheel heelwat goedkoper gaan uitwerk. Ongelukkig word die vinger oor wanpraktyke in die verlede na die maatskappy gewys wat suksesvol getender het.

Dat die staat moet bespaar, spreek vanself. Daar word meer geld vir broodnodige infrastruktuur benodig, maar dit is ook noodsaaklik om volhoubare werkgeleenthede in die produktiewe sektor te skep enersyds om die afhanklikheidslas te verlig, maar ook om die staatsinkomste te vergroot deur meer belasbare bedrywe en individue te fasiliteer.

Die vraag is egter hoe haalbaar die verpligte herregistrasieproses uitgevoer gaan word. Om meer as 15 miljoen mense te herregistreer gaan ‘n enorme proses wees. Die getalle is wel minder as die aantal mense wat met ‘n sensus opgeneem word, maar die registrasieproses vir toelaes is ‘n veel groter administratiewe proses per individu as die invul van ‘n sensusvorm. Boonop moet bykomende toesigmaatreëls ingestel word om te verseker dat bestaande korrupte praktyke nie herhaal word nie.

Volgens die minister sal die bejaardes en gestremdes by hul woonplekke geregistreer word. Dit beteken die sowat 3 tot 5 miljoen oues en gestremde volwassenes sal volgens dié beplanning die lang ure se toustaan vryspring, maar sowat 10,3 miljoen kinders en hul ouers of toesighouers gaan weer toustaan. ‘n Berig wat meld dat beoog word om die proses teen die einde van April afgehandel te hê is waarskynlik foutief. Afgesien van die omvang, sal die betrokkenheid van die Spesiale Ondersoekeenheid om gevalle van bedrog te ondervang, verhinder dat die proses uitsonderlik snel kan verloop.

‘n Mens kan maar net die hoop uitspreek dat die proses die gewenste skoonmaakdoelwit oplewer, en dat daar daarvandaan meer bekostigbare stelsels in werking sal wees. ‘n Deel hiervan sal waarskynlik behels dat, soos nou met mense wat staatsdienspensioen ontvang, die stelsel dadelik in kennis gestel word as die begunstigde se dood geregistreer word. Green Card-bedrog in die VSA het egter daarop gewys dat afhanklikes van begunstigdes dikwels sterftes verdoesel, waarop ‘n reëling ingestel is dat begunstigdes elke paar jaar hul pensioen persoonlik moet kom ontvang, en bewys dat hulle nog leef. Pogings tot identiteitsdiefstal om dooies as ontvangers te vervang sal dus ook voorkom en sal waarskynlik net deur ‘n behoorlike vingerafdrukstelsel ondervang kan word.

Niemand wil sy land se bejaardes laat vergaan nie, maar dan moet die vrot appels ook nie hul aansienlike bates aan hul kinders oordra en as armlastiges gaan bakhand staan nie. Daar moet begrip wees vir diegene wat hul lewe lank vir hul oudag voorsiening maak, maar dan moet bydrae vir diegene wat nié voorsiening gemaak het nie. Onwettige immigrante kan nie op die stelsel geduld word nie. Niemand wil sy mees kwesbare bevolking – diegene met gestremdhede – ‘n menswaardige bestaan misgun nie, maar daar kan gekyk word na ‘n fokus op vroeë intervensie, behoorlike terapie beskikbaarheid en uiteindelik ‘n uitgebreider program van beskutte arbeid om ook hier meer mense in staat te stel om menswaardig op hul eie voete te staan. ‘n Groot deel van die gestremdes sal egter altyd volkome afhanklik bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.