Nuuskommentaar: Stabilichaos na idiokrasie?

Jacob Zuma. Foto: GCIS

“Die land het nou stabiliteit nodig, en daarom steun Cosatu pres. Jacob Zuma  vir ‘n tweede termyn as ANC-leier en dus president van die land.”

Politieke kommentators kon maar net die kop skud oor dié soort logika. Zuma word dan self as die oorsaak van die chaos beskou – behalwe skynbaar in die ANC.

Zwelinzima Vavi se stelling het byna saamgeval met die oproep om stabiliteit deur die hoof van die Reserwebank, Gill Marcus. Of dit toevallig geskied het, of deel van ‘n uitgewerkte strategie is om te verseker dat Zuma die einde van die jaar die pyp rook sal die land waarskynlik nooit weet nie.

Die harde werklikheid is dat die land lynreg verdeel is tussen mense is wat geen begrip vir die ander deel se logika, of gebrek aan logika het nie. Dié verskil speel hom op haas elke terrein af. Die een deel wil privatiseer om probleme op te los, die ander nasionaliseer. Die een deel wil ‘n herverdeling van grond hê om landelike welvaart te bevorder, die ander deel sê ‘n mens moet net kyk wat in Zimbabwe gebeur het.

Dié uiteenlopende persepsies het al verskeie kere die vraag tot gevolg gehad wie pres. Jacob Zuma van sulke onbeskryflike swak advies voorsien. Dit het weer groot argwaan ontlok van hulle wat meen die president is juis van puik advies bedien.

Soms bepaal ander maatstawwe objektief wat die geval was … die ritse hofsake wat die staat verloor laat minstens soms vrae oor die kwaliteit van die regsadvies laat ontstaan waarmee nie net Zuma bedien word nie, maar ook voorgangers. Wie sal vergeet hoe vinnig pres. Thabo Mbeki se regsadviseur “bevind” het dr. Allan Boesak het niks verkeerd gedoen met DanChurchAid se geld nie? Maar die howe, tot uiteindelik die grondwetlike hof, het nie saamgestem nie.

Dat daar weer ‘n groot kloof in gedagtes sal wees oor of Zuma stabiliteit aan die land bring, is nie te betwyfel nie. Die Burger en Volksblad fel ‘n harde oordeel in ‘n hoofartikel: “Hoe ook al, die Nkandla-debakel sal moontlik saam met die Marikana-skietery die geskiedenis ingaan as simbool van ’n disfunksionele president en ’n disfunksionele regering. Juis op ’n tydstip dat die land om visioenêre leiding en ’n doeltreffende owerheid roep. Die somber ontleding wat die Wall Street Journal vroeër vandeesweek oor Suid-Afrika, wys hoe Suid-Afrika onder die huidige ANC-regering agteruitgaan. En wat doen die president? Hy laat bou vir hom ’n paleis met belastinggeld, pleks om die land deur onstuimige vaarwaters te stuur. Wat ’n skande. Wat ’n tragedie.”

Ferdi Greyling, hoofredaksilid van Beeld skryf:  “Net soos die NP sal hy (die ANC) waarskynlik in duie moet stort voordat wesenlike verandering kan kom. Ons staan weer voor ’n afgrond, ’n vars geskepte een.”

Die realiteit daarbuite versterk ook nie die indruk van stabiliteit nie. Die ganse bedingingstelsel op die myne het grootliks weens NUM se leiers se soustreinryery in duie gestort, en die ANC se grootste inspanning is om NUM se aansien te red. Die NUM is toevallig Zuma goedgesind.

Die land se probleme word goed saamgevat in ‘n artikel, Cry, the beloved country  uit The Economist. Maar dit is nie al nie. Zuma se ekonomiese regrukplan kom onder skoot weens ‘n gebrek aan detail. Sy reaksie  op die mynkrisis word as ontoereikend beskryf.

Onder Zuma se presidentskap het die land op elke noemenswaardige indeks  die kreeftegang gegaan – van die persvryheidsindeks tot die korrupsiepersepsieindeks tot die geweldsindeks tot die indeks vir disfunksionele state. Die indeks vir disfunksionele state staan ook as die piesangrepubliekindeks bekend.

Met die snoerwet steeds in die pyplyn, die geweld rondom mynstakings en die afgelope vervoerstaking, en Nkandlagate, sal dit verbasend wees as die volgende bekendmaking van die indekse nie op ‘n verdere spiraal die afgrond in dui nie.

Bloot om sout is die wonde te vryf, het die DA ‘n hofbevel gekry wat die Nasionale Vervolgingsgesag dwing om dokumente beskikbaar te stel wat die redes bevat oor hoekom die kriminele vervolging teen Zuma gestaak is. Dit is dus in beginsel moontlik dat Zuma gedurende sy tweede termyn heelwat tyd in die hof sal moet deurbring as hy weer aangekla sou word. Die Hong Kongse saak waarop die destydse direkteur van Openbare Vervolging sy argumente vir die terugtrek van die saak teen Zuma gemotiveer het, het intussen ook onder appèl in die slag gebly. Ongelukkig het die DA nie betyds op ‘n navraag oor hoe ver die saak gevorder het, gereageer nie.

Maar Vavi meen ter wille van stabiliteit moet Zuma nog ‘n kans kry. Dit is duidelik dat die HAT ‘n nuwe definisie moet kry vir die woord “stabiliteit.”

Asof georkestreer het die MK-veterane ook hul steun aan Zuma toegesê, en in die proses “stabiliteit” verseker deur adjunk-president Kgalema Motlanthe openlik te dreig dat hulle hom as adjunk-president sal steun, maar as hy Zuma uitdaag, is sy posisie as adjunk-president ook in  die gedrang.

Motlanthe doen ook  nie besonder baie om sy beeld as kandidaat vir stabiliteit by skeptici te bevorder nie. Hy het die steun van Julius Malema, en hou skynbaar self die satynhandskoen na Malema uit. Met ‘n haatspraak-appèl voor die deur kan dit politieke selfmoord wees – in enige demokrasie behalwe Suid-Afrika.

Met die vooruitsigte wat al sterker word dat Zuma die einde van die jaar gaan oorleef, gaan die druk op burgerlike instellings soos die Solidariteit Beweging en AfriForum net groter word om stabiliteit te beredder.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae