Nuuskommentaar: Stakings en geweld – Kry sosialisme vastrap?

Zwelinzima Vavi Foto: Sunday Times

Die bitter aanval  van Cosatu se Zwelinzima Vavi op die Democratic Socialist Movement het waarskynlik meer daarvoor gesorg dat dié relatief nuwe rolspeler onder die vergrootglas beland het as wat die bestaan daarvan self kon vermag.

Vavi se swart bui word deur veel meer veroorsaak as die feit dat hy onder die klippe gesteek is toe hy in Noordwes die NUM se sake gaan probeer beredder het.

Die teenspoed wat die NUM op die myne gekry het, onder meer deur die opkoms van AMCU, die koue skouer wat vakbonde van werkers in die onderhandelings met mynbase gekry het en die opkoms van werkers-onderhandelaars buite-om die gevestigde onderhandelingstrukture, en die wegsyfering van NUM-lede na ‘n ander Cosatu-filiaal, die radikale Numsa, het alles bygedra tot Vavi se swart bui.

En nou slaan die Democratic Socialist Movement uit, wil as politieke party registreer, en die “doodsonde” pleeg om ‘n optog na die Uniegebou te hou wat die aandag nog meer daarop sal vestig dat die NUM nie meer met die vaandel van sosialisme toevertrou kan word nie.

Die NUM is die ruggraat en hoofliggaam van Cosatu, en dus ‘n belangrike rolspeler om die ANC as die vaandeldraer van werkersbelange gevestig te hou. Die kabinet is immers heeltemal oorverteenwoordig van kommuniste.

Die blote teenwoordigheid van ‘n linkse Troskyïstiese sosialistiese beweging wat steun teen Costau kan monster, is soos ‘n sosialistiese mosie van wantroue teen die NUM, Cosatu, die SAKP en die ANC.

Dié keer gaan die ANC, of minstens Vavi, nie dieselfde taktiek volg as teen AMCU nie. AMCU wat reeds vroeg die jaar met ‘n hoë profiel in die nuus toe dit die Implats-staking by Rustenburg gelei het. AMCU het die byna ondenkbare – vanuit ‘n Cosatu-oogpunt – vermag om die NUM uit te daag as verteenwoordigende vakbond. Maar maande later, na die Marikana-skietery, bak die minister  van minerale ‘n kluitjie deur in die parlement te sê sy was voor Marikana nie bewus van AMCU se bestaan nie.

Trouens, dwarsdeur die drieparty-alliansie is die indruk probeer skep dat AMNCU soort van skielik uit die niet geval het, en dus min of meer geïgnoreer kan word.

Die harde werklikheid was dat die kwessie reeds by die NUM-kongres duidelik op die agenda was, en op stappe besluit is om sake binne NUM reg te ruk – waarmee klaarblyklik voete gesleep is.

Die kern van die probleem was dat die NUM se sogenaamde shopstewards al hoe meer uit bestuursgeledere gekom, en as soustreinryers  al hoe minder die belange van die mynwerkers self, soos die rotsboorders, op die hart gedra het. Kortom, die NUM het sosialisme in die praktyk gefaal, en steeds die skyn probeer volhou dat dit ‘n sosialistiese vaandeldraer is. Die skielike teenwoordigheid van die Democratic Socialist Movement is omtrent so welkom soos masels om dié skyn vol te hou.

En net om sout in die wonde te vryf – die NUM is in wese ‘n bondgenoot van pres. Jacob Zuma in sy leierskapstryd.

Dit werp inderdaad die soeklig oor die ganse drieparty-alliansie, die SAKP inkluis, waar die leiers nie net soustreinryers geword het nie, die land se inkomstegaping het hande uitgeruk, en minstens sommige van die leiers lê ‘n plundermentaliteit aan die dag soos die Nkandlagate-onthullings van getuig.

Maar hoe lyk sosialisme na die val van die Berlynse Muur?

Die indruk dat sosialisme in sy naakte vorm iets van die verlede is, is versterk toe die Wall Street-geleide ekonomiese knyp nie werklik momentum aan sosialisme kon gee nie. Dit het meestal omgesit in ‘n sosiale gewete soos gedemonstreer deur die wêreldwye Wall Street-proteste wat meestal uiteindelik hardhandig deur die owerhede opgeruim is. Politieke partye het oor hul voete geval om morele kodes in hul beleid in te bou om die inhaligheid van korporatiewe base teen te werk.

Suid-Afrika staan egter nie alleen as land waar die inkomstegaping onvolhoubare dimensies aangeneem het nie. Ook die VSA dra kenmerke van roofkapitalisme.

In Frankryk het ‘n sosialistiese president aan bewind gekom, maar pres. François Hollande staan nie so ver van kanselier Angela Merkel dat dit binne die Europese Unie werklik onhoudbaar word nie. Koppe word wel gestamp.

Sosialisme word in verskeie gedaantes opgetooi.

Daar is sosialisme en sosialisme, en dan is daar nog die verwarring wat vertalings en verskillende gebruike in verskillende lande vir die woord het. In sommige lande is die blote aanwesigheid van sorg-elemente in ‘n party se beleid genoeg om dit as “sosialisties” te laat kwalifiseer, terwyl daardie party in sy geheel effektief ideologies niks met sosialisme in gemeen het nie.

Die interessante aspek is die “sosialistiese” elemente wat die Amerikaanse presidentsverkiesing aanneem. Selfs in gisteraand se laaste in die reeks debatte tussen die presidentskandidate wat veronderstel was om oor buitelandse sake te handel, is die binnelandse ekonomie vernuftig deur Mitt Romney op die tafel geplaas. Hy het dit reggekry deur aan te voer dat om ‘n suksesvolle buitelandse beleid te kan voer om vrede na te streef, die land se ekonomie sterk moet wees. Rasmussen wys daarop dat Obama selfs meer as Jimmy Cater regulering verskerp het, Cater se begrotingstekorte na kinderspeletjies laat lyk en boonop die omstrede gesondheidstelsel, in die volksmond bekend as Obamacare, ingestel het. ‘n Rasmussenpeiling toon dat 52 persent van die Amerikaanse kiesers die wetgewing wil herroep, en net 42 persent wil dit behoue sien.

Dat Cosatu se greep op die ANC en dus die land ongesond is, is so. Of dit is landsbelang is dat Cosatu van links om die sosialismetroon uitgedaag word, is te betwyfel.  Dit kan Cosatu dalk net inspireer om die sosialismetamboer nóg harder te moker.

En dit het die land soos klem-in-die-kaak nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trix ·

Die dood le in die pot in elke klaskamer in die land. Sosialisme word daagliks vrylik in kinders se kele afgedruk deurdat die teksboeke deurspek is daarvan. Elke leerling wat matrikuleer moet die uitkomste soos deur die Verenigde Nasies bepaal bereik – gaan kyk na die UN se Decade for Sustainable Development bladsy op die internet en hoofstuk 36 van Agenda 21 van die United Nations. Hulle is duidelik oor wat die uitkomste betref. En vir die wat dink uitkomsgebaseerde onderwys is iets van die verlede, gaan doen gerus navorsing op die internet. Almal, van klein tot groot is besig om te bou aan ‘n globale kommunistiese wereld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.