Nuuskommentaar: Stakingseisoen – Die scenario’s

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is senuagtig oor wat vanjaar se stakingseisoen gaan oplewer.

Dit is geen gewone stakingseisoen nie, skryf Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit. “Dit is moontlik dat die 2013 mynbousalarisonderhandelinge die finale vonk gaan wees om die kruitvat aan te steek wat volskaalse opstand oor die hele mynbedryf tot gevolg sal hê en na ander dele van die ekonomie kan oorspoel. Die hartseer ironie is dat die konflik in die arbeidsverhoudingeveld nie weens tradisionele werkgewer-vakbond wrywing geskep word nie, maar hoofsaaklik deur wedywering en spanning wat tussen vakbonde en binne vakbond federasies bestaan.”

Die oog is tot ‘n groot mate gerig op Amcu wat die NUM die stryd aangesê het. Amcu het binne agtien maande van ongeveer 30 000 tot sowat 120 000 lede gegroei. Die ANC en die regering het hierdie verskynsel en die oorsake daarvan kliphard probeer ignoree… tot die Marikana-slagting. Die minister het, selfs na Amcu ‘n langdurige staking verantwoordelik was, gesê sy was nie voor Marikana van Amcu se bestaan bewus nie – ná sy self ‘n afspraak met Amcu gekanselleer het.

Du Plessis gebruik nou Clem Sunter se scenario’s binne die arbeidskonteks van die “high road” en die “low road” wat as keuses vir die regering voorlê. Dit gaan groot vernuf van die regering verg om nog die luukse te hê om te kies tussen die snelweg en die sinkplaatpad. Dit is lank nie meer net arbeidskwessies wat op die spel is nie.

Die wêreld is gesaai van voorbeelde wat gebeur as regerings te lank aarsel voor daadwerklik opgetree word.

Pres. Barack Obama het tevore reeds aangedui dat die inspan  van chemiese wapens deur die Siriese regering teen rebelle ‘n “rooi lyn” sou wees wat hom tot aksie sou dwing. Nou sê die president dat dit onweerlegbaar blyk dat pres. Bashar al Assad se magte wél op beperkte skaal chemiese wapens ingespan het, wat tot die dood van tussen 100 en 150 mense gelei het.

Nou word die voorsiening van wapens aan die rebelle goedgekeur. Van ‘n vliegspergebied is egter geen melding gemaak nie.

Intussen stroom berigte met ‘n al hoe ontstellender strekking uit Sirië. Van kindersoldate wat op ‘n al hoe groter skaal in gespan word, tot mense wat oop en bloot voor hulle gesinne tereggestel word. Soos voorspel is internasionaliseer die stryd, met Hizbolla wat aan Assad se kant betrokke raak, en radikale Moslems uit alle wêrelddele wat hoofsaaklik aan die rebelle se kant betrokke raak. Intussen het die sterftesyfer in die konflik reeds tot ongeveer 100 000 gestyg. Die situasie raak komplekser eerder as eenvoudiger.

Die wêreld se oë het egter nou tot ‘n groot mate na Turkye verskuif, waar betogings plaasvind. Daar was ‘n tyd dat Turkye (met ‘n klompie internasionale hulp) as die oplossing vir Sirië se probleme beskou is.

Dit is te verstane dat die VSA en die internasionale gemeenskap sou aarsel om hals oor kop in ‘n situasie soos Sirië betrokke te raak. Die ingryping in Afganistan en Irak toon immers dat ingryping maklik kan beteken dat die lande wat ingryp, hulself maklik in die dryfsand laat beland. Die situasie is selde so eenvoudig soos wat die gewaande oplossings dit wil hê.

En die posisie in Sirië is erg kompleks, met die foutlyne wat na die buurlande oorspoel.

Wat die arbeidsituasie in Suid-Afrika betref is dit so dat van die ANC se vernaamste leiers hul spore in die vakbondwese verdien het. Dit is dus ‘n veld wat hulle ken.

Maar terselfdertyd is dit deel van die probleem, want met hul Cosatu-bande is dit moeilik om wanneer hulle die regeer-platform bereik, ou lojaliteite weg te pak en die kwessie onverbonde te pak.

Voorts boesem die ANC (en daardeur die land) se leierskap nie veel vertroue in nie. Weifeling waar daadkragtigheid vereis word, en daadkragtigheid waar versigtigheid aan die dag gelê moet word.

Du Plessis skets wel ‘n komplekse en moeilike prentjie, maar sy slotsom is nie pessimisties nie: “Die snelweg is die waarskynlike scenario, maar soos die pendulum terugswaai na normaliteit moet dit steeds deur die onstabiele fases beweeg, wat beteken dat arbeidsonrus nie oor nag gaan verdwyn nie. Deurlopende gesprekvoering bly egter steeds die sleutel soos Winston Churchill opgemerk het dat ‘om te praat-praat is altyd beter as om te oorlog-oorlog’.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae