Nuuskommentaar: Statutêre staatsgreep voor Vryheidsdag?

Argieffoto

Môre word Vryheidsdag gevier, twee dae na die parlement die snoerwet, ook bekend as die muilbandwet, deur die parlement gestoomroller het. Die ANC-lede het in opdrag van Luthuli-huis daarvoor gestem, al is dit baie bekend dat heelwat ANC-lede in hul persoonlike hoedanigheid erg daarteen gekant is.

Die grondwetlikheid van hierdie wet sal nou deur die grondwethof bepaal moet word omdat genoeg LP’s van ander partye daarteen gestem het.

Amptelik meen die ANC die demokrasie word met dié wet versterk. Wat dit betref staan die ANC erg geïsoleer – ook internasionaal. Die internasionale mediawaghond, Verslaggewers sonder Grense, het Suid-Afrika die afgelope aantal jare erg op die internasionale persvryheidsindeks laat tuimel, en telkemale was die blote vooruitsig dat die wetsontwerp dalk wet mag word een van die hoofredes. Freedom House beskryf Suid-Afrika se mediasituasie as slegs “gedeeltelik vry” – nog voor die wet werklikheid geword het.

Die wetsontwerp kan ongelukkig nie in isolasie beskou word nie.

Die ad hoc-komitee vir die beskerming van grondregte het gister ‘n verklaring uitgereik waarin die vinger soos nog selde uit ‘n verantwoordelike oord in die oog van die grondwetlike hof gedruk is. Dié komitee bestaan informeel uit verteenwoordigers van die belangrikste burgerlike organisasies wat gesamentlik oor ‘n enorme ledetal beskik en ‘n reuse kundigheid poel.

Veral die volgende aanhaling adem duidelik die gees van ‘n grondwetlike burgerlike verset teen, wat as niks anders nie as ‘n grondwetlike staatsgreep uit Luthuli-huis beskryf kan word nie: “(Die grondwetlike hof se uitspraak oor die onteiening sonder kompensasie van mineraleregte) is die beginsels soos van toepassing in die onderhandelde ooreenkoms en die tydsgees van daardie tyd eensydig opgeskort. Die sogenaamde wigte en teenwigte wat die grondwet sou bied word met tyd al hoe minder. Die volle implikasies van hierdie uitspraak sal met tyd uitkristaliseer, maar die ernstige politieke impak in die inleiding van die uitspraak laat ʼn wrang smaak. Onmiddellik kom die wenslikheid van politieke aanstellings van sleutelfigure deur die president in gedrang. Die onafhanklikheid van die regstelsel kom nou al hoe meer in gedrang. Hierdie uitspraak skep meer vrae as antwoorde. Dit is veral teleurstellend dat die skeefgetrekte historiese persepsie van ’n eeu gelede wat tans vir goedkoop politieke gewin en verkiesingspropaganda misbruik word, nou ook deur die hof as basis vir sy uitspraak gebruik word. Dit pas nie by die statuur van die Grondwetlike hof nie.”

Een van die lede van die komitee, die TLU SA het vroeër in ‘n verklaring in reaksie op die uitspraak aangedui dat die aanspraak dat die grondwet in pas met internasionale reg is, dalk nou aan internasionale beregting blootgestel moet word.

Die ad hoc-komitee bied as eerste stap om persepsies oor Suid-Afrikaanse grondbesit reg te stel op 31 Mei ‘n konferensie aan met die veelbetekenende tema: “Grondbesit in Suid Afrika. Die groot leuen.” Maroela het al verskeie kere oor hierdie persepsies wat as feite opgedis word berig en kommentaar gelewer.

Die lede van die ad hoc-komitee is almal te verantwoordelike instansies om die temperatuur van polarisasie willens en wetens op te jaag, maar die ANC se reaksie in die parlement toe dr. Pieter Mulder dit “gewaag” het om ‘n historiese lessie oor grondbesit te lewer, is aanduidend dat om nié rug styf te maak teen foutiewe persepsies en blatante leuens nie, en die ANC se voorneme om saam met ras die grondkwessie as verkiesingsammunusie te gebruik, nog erger gevolge vir die land inhou.

Maroela Media het al verskeie kere berig oor navorsing deur die Matie, Charl Swart, wat daarop dui dat sowat 80 persent swart mense glo wittes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. ‘n Onlangse beraad oor die kwessie in die Wes-Kaap het aan die lig gering dat ‘n groeiende persentasie swart elite ook hierdie mening begin huldig. Voeg hierby pres. Jacob Zuma se onlangse kluitjie dat tradisionele swart grond hoofsaaklik in die land se droër dele voorkom en die amperse dawerende stilswye daaroor, en dit is duidelik dat die blote aanbied van ‘n beraad met hierdie tema nie goed deur die ANC ontvang gaan word nie.

Die hofsaak van Solidariteit wat nou in Kaapstad teen die Departement van Korrektiewe Dienste gevoer word, beklemtoon dat minderhede in eie land hulle nie net verbeel dat hulle as vreemdelinge in die land beskou word nie, terwyl gronduitsprake deur die regering die indruk skep van ongewenstheid – en dit gaan verkiesingskwessies word.

Die implikasie van hierdie polarisasie is ingrypend. Die huidige kiesstelsel is veronderstel om stemme nie verlore te laat gaan nie, en ‘n veelheid van opinies in die parlement gehoor te laat word. Kiesers moet dit waarin hul glo, en hul beginsels, doeltreffend via hul stemreg tot in die parlement kan laat voer. Die afgelope week se tussenverkiesingsuitslae bevestig egter die tendens dat kiesers hierdie reg opsê, en om ander oorwegings hul stemme by magsblokke voeg. Veral in ‘n land met ‘n tradisie van koukusgebondenheid stroop dit die land van sy mees belangrike demokratiese waardes. Die instink om die ANC aan bewind te hou, of om die ANC te stuit, weeg eenvoudig swaarder.

Hierdie, en ander verwikkelinge plaas noodwendig by almal behalwe die verkiesingskanonvoer, ‘n mindere of meerdere mate van soberheid en selfs somberheid van die werklikheid wanneer Vryheidsdag gevier word.

‘n Onlangse peiling van Pondering Panda het getoon die meerderheid wit, bruin en Indiër-jongmense glo die ANC het ‘n vorm van “omgekeerde apartheid” ingestel, terwyl ‘n beduidende persentasi swart jong mnse dié sentiment deel.
Luthuli-huis se strooptog op die demokrasie en demokratiese waardes, en selfs die grondwet, is net te ernstig om môre blindelings ballonne op te stuur.

‘n Swart strikkie aan die toutjie is heel gepas.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae