Nuuskommentaar: Steel Brics se donderweer

President Jacob Zuma tydens die opening van die 5de Brics-beraad Dinsdagaand. Foto: GCIS

Byna soos klokslag, wanneer Mzanzi ‘n vertoonvenster na die wêreld aanbied, gebeur iets wat die negatiewe kollig van die wêreld op Suid-Afrika laat val.

Nou bied Suid-Afrika die Brics-beraad aan. Meer bykomende polisielede is by die beraad in Durban ontplooi as wat Suid-Afrika geag het genoeg sou wees om ‘n korrupte staatshoof in die kussings te hou – met tragiese gevolge. Prof. Pierre de Vos, bekende staatsregskundige, som dit goed op: “In a democracy, the deployment of a country’s soldiers in a foreign land should be a moment of high constitutional importance. It should also be a moment of personal moral anguish for the president who serves as commander in chief of the military. After all, the president may well be using his immense powers to send fellow men and women to their deaths, hopefully in order to pursue an important constitutionally justifiable objective. As the unfolding fiasco in the Central African Republic (CAR) illustrates, this has not been the case in South Africa.

Maar daar is nog tyd vir nog ‘n wêreldskuddende verleentheid …

Rhoda Kadalie, wat bekend is daarvoor dat sy nie skroom om haar pen in gif te doop nie, skryf die volgende in haar rubriek, onder die opskrif: “Die koste van ons traagheid’: “Onder die Brics-lande het Suid-Afrika een van die laagste groeikoerse, die hoogste werkloosheidskoers, die laagste lewensverwagting, die hoogste ongelykheidskoers en waarskynlik een van die laagste produktiwiteitskoerse.“

Al het die voormalige Brics-lande almal ‘n sterker ekonomie met verbandhoudende sake as Suid-Afrika, is daar darem ‘n paar “ligpunte.”  Suid-Afrika het tot ‘n kommerwekkende 52ste plek op die persvryheidsindeks getuimel, maar is steeds strate beter as Brasilië se 108ste plek, Indië se 140ste plek, Rusland se 148ste plek en China se skandalige 173ste plek.

Suid-Afrika vaar nog swakker op die korrupsie-persepsie-indeks, in die 69de posisie, maar lyk soos ‘n engeltjie teen Rusland se 133ste, China se 80ste en Indië se 84ste. Slegs Brasilië, ook op 69ste, gesels met Suid-Afrika saam. Brasilië boer vooruit, en Suid-Afrika agteruit.

Ook op die indeks vir mislukte state vaar Suid-Afrika beter as sy Brics-vennote.

Hierdie positiewe aspekte beteken egter dat Suid-Afrika hom in sekere opsigte in die geledere van muishondlande bevind, wat gegewe Suid-Afrika se vriendskap en selfs hulp aan Kuba, Mugabe en ander niemand verras nie. China se arbeidswetgewing laat veel te wense oor, en China bly internasionaal onder druk oor die wyse waarop hy Tibet regeer wat al die kenmerke van onderdrukkende kolonialisme het. Trouens, daar was reeds betogers by die Brics-saamtrek met plakkate wat die lot van die Tibettane uitlig.

Oor China was daar, soos die afgelope jare deurlopend, vrae of ekonomiese betrekkinge met die reus van die Ooste nie op ‘n vorm van neo-kolonialisme neerkom nie. Die Suid-Afrikaanse tekstiel- en klerebedryf, wat erg noustrop trek, word dikwels as voorbeeld genoem waar die invoer van goedkoop, minderwaardige produkte wat deur die uitbuiting van werkers vervaardig is, die Suid-Afrikaanse bedrywe uit hul bestaan dwing – met werksverliese.

Tog het Suid-Afrika en China pas weer samewerkingsooreenkomste gesluit, en pres. Zuma gesê Suid-Afrika kan by China leer. Zuma het reg, Suid-Afrika kan baie by China leer, veral oor produktiwiteit. Net soos China weer by Japan hiervan kan leer – onlangs het fabriekswerker in Sjanghai, wat aan Japannese beleggers behoort, gestaak omdat die eienaars ‘n perk gestel het op die tyd wat werkers mag gebruik om te gaan piepie. Mededinging op die wêreldmarkte is immers streng. Maar daar is ook baie dinge wat Suid-Afrika nié by China moet leer nie.

Brasilië, wat die volgende sokker-wêreldbeker aanbied, beweeg op al die belangrike indekse in die regte rigting. Waar dié Suid-Amerikaanse reus tot enkele jare gelede die grootste inkomstegaping ter wêreld gehad het – en eintlik as sinoniem met dié verskynsel beskou is, het Suid-Afrika dié “eer” volgens die Wêreldbank oorgeneem.

Wat die werklik saakmakende aspekte wat die welvaart van die land en mense betref wat Kadalie uitgewys het, is Suid-Afrika egter agter sy Brics-vennote, en ‘n mens se instink wil dit hê dat Suid-Afrika moet baat by dié vennootskap. Die aankondiging dat Brics ‘n ontwikkelingsbank gaan stig, wat volgens Suid-Afrika se minister van Finansies in kompetisie met “Westers-gesinde” instellings soos die Wêreldbank sal optree, wek dus groot belangstelling.

Internasionale hulp aan verskeie Afrikalande beloop meer as 100 persent van hul nasionale begrotings. Die “Westers-gesinde” instellings wat ook die IMF insluit, probeer verseker dat dié hulp manifesteer in die ontwikkeling van demokrasie en ekonomiese selfstandigheid. Die Europese Unie se hulp word dus ook net aan die regerings van lande wat ‘n redelike mate van verantwoordbaarheid aan die dag lê oorbetaal – in ander lande soos Zimbabwe gaan dié fondse regstreeks na nie-regeringsinstellings sodat inhalige regeringslui nie hul hande daarop kan lê nie (hoewel die EU nou grootliks sanksies teen Zimbabwe, uitgesonderd Mugabe en ‘n paar ander) opgehef het.

Suid-Afrika hét baie by sy Brics-vennote te leer. By Indië kan Suid-Afrika heelwat kers opsteek oor hoe om minderhede grondwetlik en staatkundig te akkommodeer. By Brasilië kan heelwat geleer word oor hoe om minderhede in terme van opleiding n ekonomiese deelname regverdige geleenthede te bied – presies die teenoorgestelde as wat Suid-Afrika nou met sy meerderheidsbevoordeling in sy beleid van rasbegunstiging doen.

Maar daar is ook wat sekere aspekte betref wat Suid-Afrika vir sy vennote ‘n paar dinge kan leer, soos grondwetlikheid… maar dan moet Suid-Afrika self ‘n ingesteldheid begin ontwikkel om dit te doen. Daar mag nie Nkandlas wees nie, ook nie selfmoordsendings om korrupte staatshoofde te help nie, ook nie Marikana of lawwe uitsprake van die staatshoof wat wêreldwyd publisiteit kry nie.

En nou moet die land asem ophou dat daar nie nog ‘n blaps of lelike insident is wat die land om ‘n ander rede as die Brics-beraad in die internasionale kollig plaas nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae