Nuuskommentaar: Stel teleskoop se fokus in om simboliese “boekverbranding” te voorkom

Min, indien enige mens, se werklikheidbesef is nie op ‘n manier uit fokus nie. In gister se Rapport is die volgende woorde geskryf:   “Hierdie wette het van Suid-Afrikaanse burgers wat geen ander vaderland geken het nie tweedeklasburgers in die land van hul geboorte gemaak.”

Nee, die skrywer verwys nie na die hofsaak van rassediskriminasie wat Solidariteit pas teen Denel gewen het nie, al kon dit naatloos op die kwessie van toepassing gemaak word. Dit verwys ook nie na die wandade rondom die konsentrasiekampe van die Anglo-Boere-oorlog nie. Dit verwys ook nie na die Turke se volksmoorde op die Armeniërs, Koerde en Assiriërs byna ‘n eeu gelede nie, wat die Turkse owerhede volledig uit hul geskiedenisboeke gewis het. Dit verwys na iets waarvan die laaste wet 21 jaar gelede uit die wetboek verwyder is.

Sielkundiges en sosioloë wys al lank op die geestelike verwoesting wat ‘n gesukkel om werk te kry op die individu en groep het – hoe sy of haar selfbeeld vernietig word en uiteindelik tot ‘n rits maatskaplike probleme aanleiding kan gee. Maar die skrywer, prof. Anton van Niekerk, verwys nie na die maatskaplike verwoesting wat die regering se beleid van “affirmative action”, wat nié dieselfde as regstellende aksie is nie, het nie. Hy benut meer as die helfte van ‘n Rapportblad onder die opskrif, “Klad van Apartheid nie só weggepraat” om onder prof. Hermann Giliomee in te seil.

Die angel lê in die subopskrif: Pogings deur Afrikaner-intellektuele soos Hermann Giliomee om apartheid te vergoeilik is onaanvaarbaar.” Dit is allermins wat Giliomee gedoen of probeer doen het, en daar word natuurlik nagelaat om te meld dat Giliomee se artikel in reaksie op standpunte was wat Van Niekerk ingeneem het. Dié artikel van Van Niekerk is ook nie die eerste reaksie op Giliomee se skrywe nie. ‘n Rubriek met min of meer dieselfde strekking deur Jan-Jan Joubert het nou reeds in verskeie van Media 24  se publikasies verskyn en ontlok nou op Die Burger se webblad baie reaksie.

Rubriekskrywers, al skryf hulle vanuit hul eie perspektief, het ‘n belangrike rol te speel om nie in hul kritiek op iemand woorde en bedoelings in daardie persoon se mond te lê nie. Onlangs het oud-pres. FW de Klerk herhaaldelik gereageer oor herhalende kritiek dat hy in ‘n oorsese TV-onderhoud die ou tuislandbeleid sou goedgepraat het. Ook in gister se Rapport skryf die rubriekskrywer, prof. Jakes Gerwel: “Vroeër terug in die dekades was daar natuurlik ook ‘n paar Afrikaanse redakteurs wat, hul twyfelagtige politieke lojaliteite ten spyt, self groot name in hierdie genre (rubriekskrywing) van die joernalistiek was.” ‘n Rubriekskrywer kan ‘n koerant se naam erg skaad as hy bollie skryf, hetsy of hy ‘n personeellid van ‘n koerant is of nie, en daarom behoort koerante groter sorg te dra oor die feitelike inhoud van rubrieke.

Net soos die verskyning vanjaar van ‘n boek oor die konsentrasiekampe wys dat ‘n volk en nasie nie maklik groot onregte van die verlede vergeet nie, net so waar is dit dat dit saak maak hoe ‘n volk of nasie op die herinneringe reageer. Iemand wat oor ‘n krans val en met sy vingerpunte aan die lysie hang, se beste opsie is om homself terug te trek terwyl hy nog krag in sy arms het. Deur te bly hang, raak die ander opsie – om na onder te val, later die enigste ander moontlikheid.

Die omvang van werkloosheid, armoede en ongelykheid in die land is veels te groot om aan lysies te bly hang. Die sterkes moet toegelaat word om op te klim, en die ander te help om ook op te kom – en nie op hul vingers te trap dat hulle ook afval nie. Om nou nog kieskeurig te wees oor die velkleur van diegene wat help om die ander op te trek is ‘n luukse wat die land nie kan bekostig nie.

Tog is dit presies wat gebeur. Regstellende aksie word soos “affirmative action” toegepas, en boonop op so ‘n wyse toegepas dat dit saak maak hoe geskakeerd lig of donker die persoon is, soos Korrektiewe Dienste se veelbesproke kwotastelsel in die Wes-Kaap getuig. Pas het pres. Jacob Zuma gedreig dat privaat ondernemings wat nie genoegsaam swart ekonomiese bemagtiging toepas nie, selfs tronkstraf opgelê kan word. Klein ondernemings wat van SEB vrygestel is, se bestaan word amper onmoontlik gemaak deur die hordes wette en regulasies waaraan hulle moet voldoen – in so ‘n mate dat die Minister van Finansies al vergeefs gepleit het dat daar ‘n mate van deregulering moet plaasvind.

Landswyd vind daar nou insidente van oproer plaas waar kaderontplooiing tot die aanstel van mense gelei het wat nie die werk kan doen nie. Verskeie dorpe in  veral die Vrystaat sit sonder water, maar iets wat bykans ‘n kwarteeu gelede van die wetboek begin verdwyn het, en waarvan die skrapping van die laaste wet pas sy mondigwording gevier het, kry steeds die blaam.

Van Niekerk en geesgenote kan gerus let op die ontsettende skade wat die ou opvolgende Chinese dinastieë aangerig het deur alle manuskripte van die vorige dinastie te vernietig en uit die kollektiewe geheues te probeer verwyder. Slegs as die verlede korrek weergegee word, kan die volgende geslag daaruit leer om nie dieselfde foute te maak nie. Politieke korrektheid is maar die moderne weergawe van die eertydse boekverbranding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.