Nuuskommentaar: Stemme van redelikheid en stemme wat onbeheerde vuur spoeg

‘n Stem gister uit Nederland wat vir Nederlanders bedoel is, maar wat net sowel vir Suid-Afrika bedoel kon wees, en Die Burger se hoofartikel vanoggend sing ‘n perfekte melodie van harmonie. Miskien toevallig, maar hoogs tydig.

Die Nederlandse meningsvormer en rubriekskrywer van Trouw, Lex Oomkes, wys op die gevare van politici wat hul eie gewildheid probeer aanhelp deur e-pos op e-pos van ontevrede kiesers in die parlement voor te lees. Dié e-posse bevat onjuiste afleidings oor wat met sake soos die ekonomie verkeerd gegaan het, blameer daarom die verkeerde mense en die verkeerde oorsake, en dit bevat boonop heelwat feitelike foute en onwaarhede. En dis baie gevaarlik, meen hy om dit net so aan die groot klok te gaan hang.

Hy meen dit is noodsaaklik dat sulke bewerings eers geëvalueer moet word sodat die werklike feite gestel word. In die Suid-Afrikaanse konteks getranskribeer sou gesê kon word die ANC, en veral die ANC se jeugliga, dra foutiewe persepsies van die werklikheid aan die gehoor oor, populariseer dit, en jaag so die polarisasievlakke op.

Dit is geen toeval dat die grondkwessie in Suid-Afrika so akuut geword het nie. In die tydperk onmiddellik voor en na 1994 het verskeie politieke wetenskaplikes met gesag daarop gewys dat ‘n bevrydingsbeweging, of ‘n gewaande bevrydingsbeweging, na hy aan bewind gekom het, presies tien jaar het waarin hy by die kiesers daarmee kan wegkom om die skuld vir al sy brouwerk op die vorige bedeling te plaas. Dit beteken in wese ‘n redelike gemaklike regeertydperk van 15 jaar, want die derde verkiesing vind nog aan die einde van die tien jaar plaas. Maar dan begin die blaam-kapitaal erg op raak, en word na nuwe sake gesoek soos die herverdeling van grond, soos Zimbabwe.

Die stertjie: “In Afrika” is graag bygevoeg, maar meer korrek sou die voorbeelde elders gaan haal moes word soos Nicaragua waar die Sandiniste so weer die knie voor die Contras moes buig, skynbaar wel met bietjie aktiewe stookwerk van die CIA. Die Montonegro’s se vermoë om in verskillende gedaantes in Argentinië weer en weer kop uit te steek is nog ‘n voorbeeld.

Soos wat dit duidelik geword het dat dieselfde beginsel nie vir die ANC gegeld het nie, het dié stemme stil geword, en projeksies oor tot wanneer die ANC nog op die ou kapitaal sal kan teer, word nou al met minstens nog twee dekades aangeskuif.

Dit is egter nie soseer die gestelde reël wat nie hier geld nie, dit handel oor die ANC se vermoë om soos ‘n eenpartybedeling te funksioneer. Hy is terselfdertyd die regerende party, en sy eie opposisie. Ongelukkig is hy, of reageer hy asof hy die staat is, soos die gereelde kaping van nasionale geleenthede vir effektief partypolitieke geleenthede, waarvoor die belastingbetalers in plaas van die party moet opdok, soos die Jeugdagbyeenkomste, en nou volgens die ANC in die Vrystaat se tesourier, vir die ANC se ongemagtigde streekkongresse deur die premier en sy ondersteuners. Dit klink gesaghebbend, want die tesourier, Mxolisi Dukwana, daag die premier om die Vrystaatse leierskap uit, en hy sê die ANC het nie ‘n sent op dié kongresse gespandeer nie.

Die tekens is nogtans daar dat die ANC, eeufeesjaar ten spyt, ernstig verdeeld is en dit sal interessant wees om te sien of die party met volgende week se beleidskongres, genoegsame eenstemmigheid sal kan kry om ‘n formele beleid oor onder meer nasionalisering te formuleer wat beleggers nie erg kopsku sal maak nie.

‘n Uitweg kan wees om die afgevaardigdes se aandag weg van hul brandende kwessies te lei deur strooipoppe as gemeenskaplike vyande voor te hou. Kwessies soos grondbesit en om selfs die grondwet as gemeenskaplike vyande voor te hou, sal volgens mediaberigte as sondebokke voorgehou word. Sondebokke moet gevind en geoffer word, want alles in die ANC wentel om die leierskapsverkiesing die einde van die jaar, en ontevrede kiesers soek nuwe leiers – iets wat vir pres. Jacob Zuma sy dag in die hof kan besorg waarvoor hy duidelik geen aptyt het nie.

Maar die land dra ‘n hoë prys vir die skep van ‘n sondebok. Ronald Lamola, waarnemende leier van die ANC-jeugliga se vlammende woorde oor grondbesit teer op ‘n diep persepsie by bykans tagtig persent van die swart mense dat wittes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Bykans net so ‘n persentasie wittes deel nié die soort opinie nie.

Die Burger meen daar is ‘n goeie saak uit te maak dat Lamola hom aan haatspraak skuldig maak, en sluit af: “Belangriker nog: Die ANC moet ophou om uitsprake soos dié onder die vaandel van die party toe te laat (en selfs in die hof te probeer verdedig, soos in Malema se geval). As versoening hoegenaamd op die ANC se agenda is, moet hy mense soos Lamola duidelik tot orde roep – verkieslik in die openbaar, sodat Suid-Afrikaners kan peil trek waar die party staan ten opsigte van versoening.”

Wanneer dit oor grondbesit kom, gaan die ANC nie die teer op ‘n persepsie laat verbygaan nie, en dit is duidelik getoon toe Malema ‘n verhoog met Zuma gedeel het en gesê het blankes is misdadigers. Dis die een aanklag waarop die ANC Malema nie skuldig bevind het nie, omdat daar glo nie stawende getuienis was nie.

Lamola se eerste uitbarsting vroeër die maand kon nie op ‘n slegter tyd vir die ANC gekom het nie. Dit het saamgeval met ‘n byeenkoms tussen ANC-ringkoppe, waaronder Gwede Mantashe, met wit boere in Sandton, as deel van die ANC se uitreikaksie na minderheidsgroepe. Joernaliste het gou die verband met Lamola se weerbarstigheid opgetel en Mantashe gekonfronteer, wat bloot verklaar het dat nasionalisering nie ANC-beleid is nie, maar dat die Jeugliga hul saak by volgende week se beleidskongres sal kan stel. Skotvry dus – of liewers, ANC-vry.

Dis bykans onmoontlik om die persepsies oor grondbesit met ware feite te vervang. Dr. Pieter Mulder het in die parlement met ‘n geskiedenisles probeer, en is deur amper die hele politieke spektrum daarvoor voor stok gekry – die meeste wat die feite wat hy voorgehou het betwis het, en ‘n groep ander wat dit as politiek inkorrek of politiek dom beskryf het. Ongelukkig het ‘n deel van die massamedia saam verbrou deur nie Mulder se toespraak self as feitebasis te gebruik nie, maar die foutiewe weergawe daarvan deur ‘n opposisiepolitikus, en al is die feitedwaling behoorlik uitgewys, word dié feitedwaling nou nog by herhaling opgedis.

Oomkes skryf die waarheid, en Suid-Afrika moet kennis neem of die gevolge dra. Maar Oomkes kan, soos die ou verhaaltjie lui, traai, maar die wiend in Suid-Afrika waai stroomop. En dit hoort nie so nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.