Nuuskommentaar: Stilte in die hof!

Die hof is ‘n gawe plek om te makeer, het die ou mense altoos gesê.

En iemand wat aljimmers links en regs wou prosedeer om nie te nagekom, of in die gesig gevat te voel nie, is as ongure karakter voorgehou.

“Iemand wat so op sy regte aandring, kry ook net sy regte en niks meer nie,” het wyle Pa-Jan by geleentheid opgemerk.

Oupagrootjie De Necker word onthou vir sy wysheid: “Met die hoed in die hand kom man deur die ganse land.”

In ‘n samelewing van welwillendheid, en waar deugde nog as bates beskou word…daar was die hof gewoonlik die laaste uitweg.

Duidelik is die howe nou ‘n plek wat gereeld opgesoek word.

Terwyl die e-tolsage nog in die hof afgespeel het, het onder meer die volgende op die hofrolle beland:

–       ‘n Groep ontevrede Vrystaatse ANC-lede is vandag in die grondwetlike hof  om onder meer die Vrystaatse ANC-kongres as onregmatig te laat verklaar. Bewerings van wydlopende knoeiery word teen premier Ace Magashule en sy ondersteuners gemaak, wat die pro-Zumakamp verkies gekry het.

–       Afriforum is vandag in die Noord-Gautense Hooggeregshof om toestemming te probeer kry vir ‘n protesoptog Saterdag teen plaasaanvalle.

–       ‘n Aansoek word vandag voor die grondwetlike hof gebring om die staat te probeer dwing om weer ‘n kommissie van ondersoek na die Helderberg-vliegramp 25 jaar gelede in te stel.

–       Twee opspraakwekkende moordverhore vind nou plaas wat beide die publiek se verbeelding aangryp.

–       Die verhoor van Julius Malema en sy beweerde makkers begin môre in Polokwane.

–       Onlangs het opposisiepartye die hof genader om ‘n bevel te probeer verkry wat die parlement sou dwing om ‘n mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma te bespreek. Dié saak word nou ook die grondwetlike hof se warm patat.

–       ‘n Skikking buite die hof is onlangs bereik en ‘n bevel van die appèlhof gemaak na Malema en die ANC appèl teen Malema se skuldigbevinding aan haatspraak in die gelykheidshof aangeteken het.

–       Die sogenaamde snoerwet blyk onafwendbaar ook op koers na die grondwetlike hof wees.

Suid-Afrika is nou ‘n regstaat – ‘n staat waar die grondwet oppergesag het, en die howe ‘n grondwetlike taak het om die grondwet te bewaak. Boonop, van die talle grondwetlike waghonde wat as wigte en teenwigte moet dien, funksioneer nog slegs die howe en die ouditeur-generaal deurgaans betreklik goed, en is daar reeds uit die hoogste gestoeltes allerlei lelike dinge oor die howe se rol om magswellus te beperk, kwytgeraak.

Die openbare beskermer het onder die huidige posbekleër heelwat aansien herwin, en sekerlik so verhinder dat nog meer sake in die hof beland het. Voorheen was dit al selfs nodig om die OB self hof toe te sleep om sy werk te doen.

Daar is ‘n paar probleme. Die een wat die publiek dikwels aan die bas voel, is dat die menseregte wat die grondwet waarborg, almal begrens word, dikwels deur die regte wat ander het. My reg op bewegingsvryheid gee my nie die reg om kortpad winkel toe deur buurman se erf te neem nie – hy en sy gesin het onder meer ‘n reg op privaatheid en hul eiendomsreg is ook veronderstel om ‘n paar punte te tel. Spraakvryheid word ook iewers deur iemand se dignitas begrens, maar dignitas verkrummel ook erg as dit nie verdien word nie. Om nou wette te maak om te keer dat die president beledig word, het die land reeds enorme skade berokken.

Die tweede, erger probleem, is dat die samelewing so regstegnies raak dat dit die gewone publiek verloor. In die ou dae was dit ‘n redelike standaardpraktyk om die groentjie-joernalis die sogenaamde hof-“beat” te gee. Dit is ‘n harde leerskool van akkuraat skryf, want ‘n glips kan prosedering tot gevolg hê.

Maar as selfs die staat met sy vragte regsadviseurs, knaend in die hof beland en boonop sake verloor, watter kans het die joernalis, en ook die gewone lid van die publiek om ‘n suiwer paadjie deur die mags, en mag nies te vind? Oor die kwaliteit beriggewing en kommentare op die hooggeregshofaansoek vir die mosie van wantroue, skryf prof. Pierre de Vos onder meer soos volg: “The analysis and reporting by journalists, political commentators and garden variety politicians about court judgments (which they could not possibly have read) are often so spectacularly uninformed, or so wilfully deceitful, that only the most gullible or sycophantic among us would believe a word of it. The majority of reports and discussions of the recent judgment by Judge Dennis Davis about the refusal of the ANC urgently to schedule a vote of no confidence debate against President Jacob Zuma and his cabinet is a case in point.”

‘n Goeie grondwet moet in die harte van mense leef, maar om dit te kan doen moet dit verstaanbaar en toeganklik wees.

Die regering moet die voorbeeld stel, en nie selfs knaend in die hof beland oor oortredings daarvan nie. Of dit nou handel oor die aanwysing van ‘n raad vir die Oorlogsmuseum wat twee keer reeds op skikkings buite die hof uitloop het, die staat se destydse instelling van vaste tariewe vir sekere inwoners en gemeterde tariewe vir ander, of ‘n appèlhofuitspraak dat die Nasionale Vervolgingsgesag dokumente aan die DA moet oorhandig oor sy besluit om vervolging teen Zuma te staak, die tersydestelling van die aanstelling van die direkteur van Nasionale Vervolging, Vrystaat Landbou wat twee skikkings buite die hof moes bereik in sake wat die regering dwing om sy grondwetlike pligte na te kom, hofsake oor die regte van Afrikaans …

As die regering nie self die voorbeeld stel nie, is die gevolg wettelose chaos en is dit naderhand nodig dat die premier van die Wes-Kaap moet vra vir soldateversterkings vir die polisie … maar om dit te laat realiseer sal stellig ook eers weer ‘n draai voor die juts gemaak moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.