Nuuskommentaar: Straatname en die nasionale akkoord

Die hofuitspraak in AfriForum se dringende aansoek oor die verandering van straatname in Pretoria, het ‘n paar belangrike kwessies op die tafel geplaas. Een daarvan is dat swak joernalistiek aanvanklik ‘n baie skeefgetrekte beeld oor die uitspraak die land ingestuur het, en eers later deur korrekte verslaggewing opgevolg is.

Die swak beriggewing het egter net help aksentueer hoe belangrik dit is dat daar behoorlike regsekerheid verkry moet word oor die rol, indien enige, wat die Nasionale Vredesakkoord en die grondwetlike beginsels wat by Kemptonpark onderhandel is, nog in die verstaan van die grondwetlike ideale speel.

In kort, het die grondwet nog ten doel om die eens strydende partye in vrede te laat voortleef, of moet een of meer van die partye ‘n neerlaag aanvaar en as verslane vyand behandel word en ook so optree?

In die FW de Klerkstigting se Vryheidsdagboodskap word die ANC baie duidelik daarvan beskuldig dat dit op 5 Maart aangekondig het dat dit dele van die Nasionale Akkoord gaan skrap.

Verskeie optredes geskied al lank in stryd met die gees van die Nasionale Akkoord, en die feit dat dit gebeur, werp bedenkinge oor die kwaliteit van die grondwet self. Straatname is nie al name wat verander word nie, en veral die verandering van plekname, terwyl die stelsel van verskillende name vir plekke en munisipale strukture juis ontwerp is om versoening te dien, adem die gees van konfrontasie.

As plekname en straatname so teen die gees van die Nasionale Akkoord in so maklik verander word, watter ander maatreëls in die doelwit van die heling van die verlede in die aanhef van die grondwet kan, maar in die slag bly? As kulturele regte wat regstreeks in die grondwet gewaarborg word gewoon vertrap word, wat gaan word van ander minderheidsregte wat meer onregstreeks deur die grondwet se verbintenis tot internasionale verdrae en die internasionale reg behoort te geld?

Mag ‘n minderheidsgroep dan maar die teiken van haatspraak word soos wat die ANC impliseer met die appèl teen Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak?

Teen dié agtergrond is Afriforum se hofsaak oor straatname van baie groter betekenis as wat dit vir ‘n oningeligte joernalis mag lyk. Afriforum het wel nie daarin geslaag om die oprigting van die nuwe naamborde te stuit nie, maar dit is omdat die Tshwane Metro onderneem het om die oues nie te verwyder tot die hersieningsaansoek, hopelik teen Augustus, afgehandel sal wees nie. Die kostebevel sal ook dan eers gedoen word.

So lank daar regsonsekerheid oor die gelding van die Nasionale Akkoord en die bindkrag, deur konvensie, van die grondwetlike beginsels is, so lank sal minderhede en belangegroepe die hofpaadjie loop en stadig deur die presententereg die detailinhoud van die grondwet skryf. ‘n Soortgelyke straatnaamsveranderingsproses in Bloemfontein kan dalk baie baat deur die presedent wat die Pretoriakwessie oplewer.

Maar die vraag kan gevra word: Raak dit nie dalk nou nodig dat groot gehap word, en eens en vir altyd sekerheid verkry word oor die blywende gebondenheid aan die Nasionale Akkoord en die Grondwetlike Beginsels nie? En indien wel, wie gaan dit aanpak?

Die volledige verslag is hier beskikbaar.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae