Nuuskommentaar: Styging van werkloosheidsyfer lei stakingseisoen in

Met die onverkwiklike landswye busstaking is die jaarlikse “stakingseisoen” ingelei. Die vooruitsigte van  nog stakings lyk nie goed vir die ekonomie nie. Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, het die afgelope Sondag in Rapport ‘n baie goeie uiteensetting verskaf oor die agtergrond, beginsels en stand van arbeidsverhoudinge: “’n Goed opgeleide, goed betaalde en produktiewe werksmag is ’n noodsaaklike voorwaarde vir ons land om te werk. Dit is ook ’n voorwaarde vir die verbetering van ons nasionale lewenstandaard, wat tog die eintlike doel van ’n ekonomie is. Derdens is ’n topgehalte-arbeidsmag ’n voorwaarde vir die oplossing van ons land se knellende vraagstukke van armoede, werkloosheid en ongelykheid.”

Die arbeidsonluste kom te midde van nuwe werkloosheidsyfers wat pas deur Statistiek SA bekend gemaak is. Tussen die vierde kwartaal verlede jaar en eerste kwartaal vanjaar, het die werkloosheidskoers met ‘n 100 000 toegeneem.

Sedert die begin van die resessie het die land ‘n miljoen werkgeleenthede ingeboet, maar intussen weer ‘n deel daarvan herwin, volgens die amptelike syfers. ‘n Interessante aspek is egter dat die formele sektor net 0,8% van die werkgeleenthede bygedra het, terwyl die informele sektor se bydrae 4,1% was.

Die FW de Klerkstigting het op Werkersdag die werklike werkloosheidskoers op 41% beraam. Die regering gebruik ‘n internasionaal-aanvaarde definisie om werkloosheid te bepaal, wat onder meer mense wat moed opgegee het om werk te soek uit sluit, en ook nie werklik in ag neem dat sommige mense nie enige werk soek nie, of dat sommige mense om bepaalde redes, soos gesondheidsredes, nie enige werk kan doen nie.

Tog is Rob Davies, minister van handel en nywerheid, besig om nuwe wetgewing voor te berei wat alle handelsaktiwiteite aan lisensiëring deur burokratiese en dikwels wanfunksionele munisipaliteite wil onderwerp, wat nie net die sektor wat die meeste werkgeleenthede bydra deur die kop skiet nie, maar ook die Nasionale Ontwikkelingsplan in die Achilleshiel dodelik verwond.

‘n Tweede interessante aspek van die werkgeleenthede wat bygekom het, is dat die landbousektor die grootste bydrae gelewer het, naamlik 54 000 werkgeleenthede. Dit staan in skrille kontras met die beriggewing dat daar wydverspreide afleggings was sedert die nuwe minimumloon aangekondig is, of dat dienskontrakte na verkorte werksure omgeskakel is om die arbeidsmag bekostigbaar te hou. Die impak hiervan, en van nog mislukte grondhervormingsprojekte, op die werkloosheidsyfers moet egter nog deursuurdeeg.

Dié agtergrond bied kwalik die soort speelveld waarop besondere salariseise gestel kan word. Die beginsel van vraag en aanbod werk eenvoudig nie so nie. Of anders gestel, baie werknemers wat hulself nou deur onrealistiese eise uit die bekostigbaarheidsmark uit probeer beding, sou in ‘n heeltemal vry ekonomie met gemak deur ‘n werksoeker vervang kon word wat dieselfde werk vir veel minder kan doen, en dit (voorlopig) graag sal wil doen.

Die arbeidsreg en arbeidsverhoudinge verhinder so ‘n spontane proses, en dit werk stremmend in op die wêreldwye verskynsel van ‘n groeiende loongaping. Die impak op die inkomstegaping is egter omgekeerd omdat werkloses steeds niks verdien nie, hulle in Suid-Afrika oor die algemeen meer word, en Suid-Afrika reeds volgens die Wêreldbank die grootste inkomstegaping in die wêreld het.

Radikale vakbonde teer op die oënskynlike verskynsel dat baie werkgewers op die oog af nie gegenereerde bruto inkomste in groei omsit nie, die hand toe hou vir die onderste vlakke, en dat die bostruktuur skynbaar vir hul eie sakke ‘n strooptog op beskikbare kapitaal loods.

Die ekonomie werk egter nie so maklik nie, maar werkers wat die loongaping ervaar en boonop deur die regerende partye vol onrealistiese verwagtinge gepomp word, het selde die komplekse ekonomiese insigte.

‘n Groot deel van die probleem is die kwessie van aanwas, veral in die deel van die gemeenskap wat sukkel om oorerflike armoede af te skud, en boonop dikwels aan uiters swak onderwys blootgestel word. Die aanwaskwessie is ‘n uiters politiek-inkorrekte kwessie om aan te spreek, veral teen die agtergrond dat die president self sowat twee dosyn kinders het. Tog het die minister wat met huisvesting gemoeid is, Tokyo Sexwale pas na die regering se onvermoë om die beloofde spoelheffings te voorsien, minstens ‘n deel van die blaam op aanwas geplaas. Of hierdie waagmoed in die konteks van die skynbare druk staan wat pres “Zupta” in die ANC beleef, en waar die Gupta-kwessie die laaste strooi was, moet nog gesien word. Zuma het homself al as politieke Houdini onderskei is dit is heel moontlik dat Sexwale ‘n kleinhuisie vol probleme kan opdoen. Volgens ingeligtes is daar juis ‘n kabinetskommeling onderweg…

Hoewel Zuma tydens sy besoek aan Davos in ‘n TV-onderhoud gesê het dat die soort oproer wat met stakings in Suid-Afrika gepaard gaan “tipies van demokrasieë is” en dat die media bloot daaroor swyg dat dit in Westerse land ook so gaan, is die harde praktyk dat stakings in Suid-Afrika dikwels die vorm van sabotasie en sedisie aanneem. Met die vorige vervoerstaking is enorme skade aangerig, onder meer deur die uitbrand van vragmotors. Met die busstaking is minstens een bus – in Botshabelo – ook reeds volgens ooggetuies uitgebrand.

Die algemene publiek kan hóé simpatiek teenoor die saak van munisipale stakers staan wanneer hul salarisse met dié van nar-agtige burgemeesters vergelyk word, maar wanneer die vullisdromme in die strate omgekeer word, en verkeer ontwrig word, of enorme skade aan munisipale kantore aangerig word, verdamp die simpatie gou.

Met die onlangse Werkersdag het die Wêreld-ekonomiese Forum bevind dat uit 144 lande wat gemeet is, die werkgewer-werknemerverhoudinge in Suid-Afrika die swakste is. Dit voorspel niks goed vir die stakingseisoen wat voorlê nie. Verskeie kenners meen juis die verwonding van harte met die Marikana-gebeure gaan ‘n groot invloed op vanjaar se stakingseisoen hê.

In nog ‘n artikel meen Buys die arbeidsonrus kan ontaard in ‘n opstand teen “die stelsel.”

Solidariteit volg ‘n verantwoordelike benadering, maar ongelukkig is alle vakbonde nie so verantwoordelik soos Solidariteit nie.

Daar is ‘n klein silwer randjie. Met die busstaking word huishulpe wat daarin slaag om hul werkplekke te haal, dikwels in die woonbuurte gestrand gelaat. Dit is wanneer die vlakke van goeie gesindheid wat nog in die land aanwesig is, maar dikwels oënskynlik latent voorkom, blyk. Let maar op hoeveel huisvroue na werk hul huishulpe self huis toe neem – en dit is nie altyd die veiligste ding om te doen nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.