Nuuskommentaar: Suid-Afrika, agt betogings op een dag

Betogers Woensdag in Marabastad, Pretoria. Foto: Christa van der Walt/EWN

Die bloedbad by Marikana verdwerg nog die ander landswye voorvalle van geweld, maar het dit allermins laat afneem.

–       Verskeie werkers van Botshabelo buite Bloemfontein kan nou al dae lank nie by die werk uitkom nie, nadat inwoners die reg in eie hande geneem het om bendes wat veral skole teiken te takel.
–       Straatsmouse in Pretoria het amok gemaak en die polisie moes rubberkoeëls en waterkanonne inspan
–       Drie van die Tshwane-universiteit vir Tegnologie se kampusse is weens geweld gesluit
–       Vyf mense is vir geweld by die Universiteit van KwaZulu-Natal se Howardkollege in hegtenis geneem
–       Verkeer naby Sandton is erg ontwrig deur gewelddadige betogings
–       Buurtwagte sal paramedici na noodgevalle vergesel in verskeie Wes-Kaapse gebiede waar onluste uitgebreek het, en saamval met verskeie dreigemente, onder meer deur die ANC-jeugliga, om die Wes-Kaap onregeerbaar te maak.
–       Golf op golf protesaksies spoel nou kort op mekaar landswyd oor dienslewering, of die gebrek aan dienste, oor die land.

Die gevolg hiervan, saam met die hoë vlakke van geweldsmisdaad soos moord en verkragting,  is dat die land op die vredesindeks agteruit boer. Suid-Afrika beklee nou die 127ste plek uit 158 state op die internasionale vredesindeks. Dit is maar 20 plekke beter as Sirië se 147de plek op die 2012-indeks.

Oorsake

Teen dié agtergrond is dit vanselfsprekend dat verskeie studies, soms lywig, gedoen is om die oorsake van geweld te bepaal, ontleed en selfs aanbevelings te doen. Van die ondersoeke is baie subjektief, ander uitstekend, maar van hulle beland skynbaar op rakke waar hulle stof vergaar.

‘n Tweede linie ontledings word in koerante en ander media gevind, wat wissel van uitstekende ontledings van verslae deur kundiges, tot subjektiewe rubrieke wat sterk op eie ervarings en persepsies fokus.

Die derde linie is dié van die politici wat blaam probeer verplaas, en die vingers in ander rigting wys. Waarskynlik die sprekendste voorbeeld hiervan was die voormalige Vrystaatse LUR, Ouma Tsopo, wat in die Wetgewer die blaam op die opposisiepartye se navorsers geplaas het … waarna die begrotings so aangepas dat opposisiepartye nie meer navorsers kon aanstel nie.

Verslae deur kundiges

Onder die verslae wat gerus weer onder die loep geneem kan word is, The Smoke that calls, wat deur die Sentrum vir die Studie van Geweld en Rekonsilliasie, en die Society, Work and Development Institute saamgestel is, en wat verlede jaar die lig gesien het. Dit bestaan uit agt gevallestudies van gemeenskapsprotes en xenefobiese geweld. Die dinamika van die geweld blyk uit die volgende aanhaling in die inleiding: “While we were developing the research proposals and beginning discussions with potential funders, a new  wave of conflict swept across the country, with the epicentre—as in the xenophobic violence—in Gauteng. The community protests against poor service delivery, corruption and the lack of consultation with communities by government often flared into violence between protesters and police, and not infrequently involved episodes of xenophobic violence as well. The research project was re-conceptualised to explore the differences and linkages between these different forms of collective action and violence and, with funding secured, researchers were in the field in late 2009.”

Sommer vroeg in die verslag word die vinger na die polisie gewys, wat afwesig is of onseker optree, en wanneer wel opgetree word, die geweld laat eskaleer.

Die rol van jeugdiges, wat dikwels werkloos is en in armoede leef, word ook belig. Die verslag kyk ook na sosiologiese faktore, soos kollektiewe trauma. Die volledige verslag kan hier gelees word.

Politieke sosioloë meen daar moet ‘n teelaarde vir politieke geweld wees, wat spruit uit ‘n onvergenoegdheid met bestaande omstandighede en gesagsinstellings.

Iets wat baie aandag by politieke sosioloë geniet, is die teorie van relatiewe deprivasie. Dit is waar die gaping tussen verwagtinge en realiteit te groot word.

In ‘n heterogene land is die saak meer kompleks, omdat verskillende gemeenskappe teenoorgestelde verwagtinge weerskante van die werklikheid kan hê, en die spanningsvlak dus tussen twee teenoorgestelde verwagtinge gemeet moet word waar die werklikheid amper irrelevant is.

Regstreeks na die Marikana-bloedbad was dit interessant om te sien oor hoeveel parate inligting struktuursosioloë reeds beskik het – inligting wat nie tot die regering se beskikking was nie, of nie deur die regering ernstig opgeneem is nie.

Mediamenings

Onder die interessantste stellings deur mediamense tel die volgende:

“Die eerste kwessie is gebrekkige leierskap oor die spektrum heen. In die Marikana-voorval het leiers in al die betrokke sektore – die regering, die vakbonde, die mynbase – klaaglik misluk. Niemand kan regtig met oortuiging die vinger na ’n ander wys nie. Almal het mekaar in ’n destruktiewe kringloop van eiebelang en onbeholpenheid in die steek gelaat.“ – Henry Jeffreys in Die Burger

“Shabangu en Mthethwa se kritiek sou geloofwaardig gewees het as hulle dieselfde standaarde op hul bondgenoot, Cosatu, se vakbonde toegepas het. Want Cosatu se vakbonde kom in stakings letterlik met moord en ander misdade weg sonder dat daar ’n vinger op die vakbonde gelê word. Die polisie het 259 stakers in hegtenis geneem ná die skietery by Lonmin. In 2006 met die SA Transport and Allied Workers’ Union se staking onder veiligheidswagte is 60 nie-stakende werkers dood. Niemand is in hegtenis geneem nie. In die staking van 2010 het onderwysers klaskamers beskadig, verpleegsters het pasiënte laat sterf en vullisverwyderaars het stede in rommelhope verander. Niemand is in hegtenis geneem nie. Is dit omdat Cosatu in alliansie met die regering is?” – Beeld-hoofartikel

“Eienaars en topbesture van korporasies en groot maatskappye in Suid-Afrika leef vandag amper as ’n reël in wat al as obsene luuksheid beskryf is. En wat van hul werkers verder teen die leer af? Die feit dat ons land een van die grootste klowe in inkomste het, vertel daardie verhaal.“ – Ferdi Greyling, Beeld

Politici

Maar hoe lyk die regeerders, of die politici se aandeel?

Die land het ‘n lang geskiedenis van onmoontlike beloftes. Madiba se beloofde wasmasjiene vir almal het nog nie uit die lug neergedaal nie.

Mbeki se voorverkiesingsbesoeke aan townships met gepaardgaande beloftes het bitter min vrug opgelewer.

Die huidige president het sy amp te danke aan beloftes van alles vir almal te wees, wat onmoontlike verwagtings skep.

Suid-Afrika betaal die prys  vir persepsies van, of dalk werklike swak regering. Op die jongste indeks vir mislukte state, of te wel die piesangrepubliekindeks, het Suid-Afrika tot die 115de posisie teruggesak.

Kort na 1994 het politieke ontleders daarop gewys dat bevrydingsbewegings tipies twee verkiesings, en dus effektief 15 jaar, daarmee wegkom om die blaam op die vorige bedeling te plaas. Dié stemme het gou stil geword toe dit duidelik geword het dat ‘n ander dinamika hom in Suid-Afrika afspeel. Polarisasie, onder meer raspolarisasie (wat op verskeie maniere deur die regering gestook word) dra by tot die vestiging van ‘n tipiese eenpartypatroon waar die vernaamste politieke stroming binne die ANC self kragte meet.

Dit is juis nou weer aan die piek met die leierskapstryd van die einde van die jaar. Of dit wys is om tot so kort voor die kongres die deksel op die drukkoker te hou met ‘n tydperk waar nog net pres. Zuma self sy “verkiesingsveldtog” kan voer, is ‘n ope vraag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.