Nuuskommentaar: Suid-Afrika die mees miserabele land ter wêreld?

Vlak voor die einde van 2012 het oorsese koerante berig dat Suid-Afrika nou die “topposisie” op die indeks vir mees miserabele lande ingeneem het. Die vorige jaar het Venezuela dié twyfelagtige eer gehad, maar het nou na die vyfde plek “teruggesak”.

Suid-Afrika word op die indeks deur Griekeland en Spanje gevolg. Die indeks is deur die Amerikaanse ekonoom, Arthur Okun, geskep. Dit behels dat die land se werkloosheidskoers met die inflasiekoers vermenigvuldig word, en met Suid-Afrika se werkloosheidskoers van 23,2 persent die inflasiekoers van 5,6 persent was ‘n stewige posisie op die indeks onafwendbaar.

Om verskeie redes steur waarnemers hul weinig aan dié indeks. In die eerste plek is daar talryke sulke indekse met verskillende instansies en publikasies wat hul eie indekse byhou, en Suid-Afrika tel nie op almal onder die voorlopers nie. Die indeks wat die meeste deur publikasies in Suid-Afrika gebruik word dui Zimbabwe as die “wenner” aan, met ‘n land soos Namibië wat nie ver daarvandaan lê nie. Waarnemers beskryf die indeks as ‘n foefie.

‘n Miserabele-indeks sou meer sin maak as ook ander faktore soos geweld, politiek, gebrekkige persvryheid, gebrekkige individuele en minderheidsregte, korrupsie en ander misdaad, dienslewering, primêre onderwys, hongersnood en arbeidsvrede ook ingereken sou word.

In Suid-Afrika is dit baie ingewikkeld om so iets te bereken. Suid-Afrika het volgens die Wêreldbank die grootste inkomstegaping ter wêreld, wat beteken dat ‘n groot deel van die bevolking ondervoed is of selfs honger ly, en ‘n ander deel baie ruim leef.

Suid-Afrika word as die verkragtinghoofsetel van die wêreld beskou. In Suidelike Afrika is die moordkoers 30,5 per 100 000 per jaar (Suid-Afrika s’n 30,9), in Noord-Afrika 5,9 per jaar, en Wes-Afrika (vir diegene wie se geografie windskeef is – daar waar “ons” Nigeriërs vandaan kom) – is dit 15,4 per 100 000 per jaar. Noord-Amerika s’n is 3,9 en in Sentraal-Amerika is dit 28,5 per 100 000 per jaar. Wes-Europa s’n in een per 100 000 per jaar.

In ‘n groot deel van die wêreld word die kop geskud dat ‘n party soos die ANC nie net nog aan bewind kan wees nie, maar die parlement so oorweldigend beheer. Na pres. Jacob Zuma onlangs tot ANC-president en dus president van die land herkies is, is Suid-Afrika deur baie van die media oorsee as ramp afgeskryf. Daar, anders as hier, word Cyril Ramaphosa nie so hoopvol as eenswaeltjie-somer aangegryp nie.

Suid-Afrika sal eers oor amper ‘n jaar weet of hy sy vryval op die korrupsiepersepsie-indeks kon stuit. Tot voor die jongste indeks was Suid-Afrika – ironies – die ligpuntjie onder die Bricslande, maar loop nou kop aan kop met Brasilië. Brasilië is egter besig om sy posisie te verbeter, terwyl Suid-Afrika skouspelagtig die kreeftegang gaan.

Suid-Afrika boer ook flink agteruit op die persvryheidsindeks, en is kort voor die nuutste aanpassing gemaak word, die sewende mees persvrye land in Afrika. ‘n Paar jaar  gelede was Suid-Afrika die mees persvrye land op die kontinent. Verskeie faktore, maar veral die ANC se vasbeslotenheid om die sogenaamde snoerwet deur te voer, en die SAUK-TV se blatante imbongi-spelery vir Zuma sal die land waarskynlik verder op dié indeks laat terugsak.

Op die vredesindeks beklee Suid-Afrika die 127de plek uit 158 state wat gemeet is, en vaar onder meer swakker as Venezuela wat deur ‘n nuwe studie as selfs meer gevaarlik as Colombia bevind is.

Selfs wat die jaarlikse padslagting betref, waar Suid-Afrika gemeet aan sterftes per 100 000 van die bevolking die 72ste hoogste ter wêreld is, speel ‘n tragedie hom af. Dit is hoog as in ag geneem word dat ‘n groot deel van die bevolking nie eie vervoer het nie.

‘n Indeks wat veel eerder die “miserabele indeks” genoem kan word, is die indeks vir mislukte state. Op dié indeks is die staat wat die swakste vaar, Somalië, nommer een. Suid-Afrika, in die 115de plek, word as “grensgeval” beskou, maar die slegte nuus is dat die land al nader aan die status van mislukte staat “vorder”.

Maar kla Suid-Afrikaners nie dikwels met die witbrood onder die arm nie? Diegene aan die verkeerde kant van die broodlyn en die inkomstegaping stellig nie. Dit sou ook verkeerd wees om te sê die land en sy mense moet tevrede wees omdat daar ander lande is waar sake erger gaan. Elke land en sy burgers moet immers na uitnemendheid streef.

Daar is silwer randjies. Suid-Afrika mag dalk nie te waffers op die persvryheidsindeks vaar nie, maar die Suid-Afrikaanse bodem het nie tot die rekordgetal van 121 joernaliste wat in 2012 gesterf het bygedra nie. Behalwe vir enkele joernaliste wat ‘n vinnige draai agter die tralies gemaak het, dra Suid-Afrika nie by tot die 232 joernaliste wat wêreldwyd agter tralies sit nie. Suid-Afrika se posisie op die persvryheidsindeks word omtrent net soveel bepaal deur wat Rhoda Kadalie die “diktatuur van die liberalis” noem, as deur regeringsoptrede. Dit is selfopgelegde sensuur deur nie die politieke diversiteit weer te gee nie … ironies waarskynlik juis ‘n manifestasie van die pogings om die ANC se gesagsmonopolie te verbreek.

Al toon die president ‘n volslae onbegrip vir die tipiese Calvinistiese godsdiensbeskouing, geniet Suid-Afrikaners godsdiensvryheid.

Kortom, baie van die sake wat krom en skeef is, kan aangespreek word as die moue opgerol, en die hand aan die ploeg geslaan word. Dit help nie om net te mor oor minderheidsregte wat vertrap word nie, of selfs sabotasie te beplan daaroor nie, maar die 2012-inisiatiewe tot Afrikanerdiplomasie het reeds vrugte afgewerp hoewel ‘n lang, styl pad voorlê.

Kollektiewe optrede is uiters belangrik. ‘n Emosionele saak in 2012 was die Woolies-sage, en hoewel Solidariteit self nie ‘n boikot bepleit het nie, het verskeie kleiner Afrikanerinstansies wel. Woolies lag egter laaste met sy aandele wat verlede jaar met 82 persent gestyg het, die meeste van al die winkelgroepe.

Deur aan te sluit en skouer aan die wiel te sit saam met gemeenskapsorganisasies soos AfriForum en Solidariteit, kan Suid-Afrika  ‘n land word waarop almal trots kan wees.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

francois ·

wie ookal die indeks optrek weet nie warvan hy praat as hy Namibia intrek nie,,,,punt #1 ons demokrasie staan al 22 jaar, ons ministers is nie a patch so korrup of skelm of lui soos meeste indien nie AL die ander Afrika lande nie, inteendeel die swaap wat die indeks opgetrek het en Namibie intrek in die indeks moet liefs self hier kom kuier en met sy eie oe sien wat hier gebuer, en wat die stand van sake is. Ek is a wit Namibier, trots op my land, sy leiers en dit wat bereik is. so mnr Arthur Okun please feel free free to make contact so you can come and get firts hand experience.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.