Nuuskommentaar: Suid-Afrika en die Amerikaanse presidentsverkiesing

Barack Obama

Oor minder as drie maande gaan die Amerikaanse kiesers stembus toe om hul president aan te wys. Die Demokrate se kandidaat is die sittende president, Barack Obama, terwyl die Republikeine se kandidaat Mitt Romney is.

In dié stadium loop die kandidate volgens meningspeilings redelik gelyk – met die meeste peilingsinstansies wat aan Obama ‘n voorsprong gee, maar die jongste peiling, dié van Rasmussen, gee aan Romney ‘n vier persent voorsprong bo Obama. Romney se span het ook in Julie vir die derde agtereenvolgende maand Obama se span met fondsinsameling vir die verkiesingsveldtog uitgestof. In Julie het Romney se span meer as $100 miljoen ingesamel teenoor Obama se $75 000 miljoen.

Die uitslag gaan egter waarskynlik meer deur Romney se keuse as vise-presidentskandidaat beïnvloed word as die presidensiële kandidate self. Die 42-jarige Paul Ryan is pas as spanmaat aangewys. Ten spyte van sy jeug, dien hy al van 1999 af in die Kongres, en maak naam as voorsitter van die Huis van Verteenwoordigers se begrotingskomitee. Die Republikeine is hier in beheer.

Ryan het sommer gou na sy aanwysing onder die Obama-span ingeseil en hulle daarvan beskuldig dat hulle meer oor die uitslag van die presidentsverkiesing as oor die volgende geslag Amerikaners begaan is.

Ryan kom uit ‘n Rooms-Katolieke familie wat in sy tuisdorp, Janesville, as die Kennedy’s van Wisconson bekend staan.

Hy word as ‘n goeie keuse beskou om die Romney-span te help om die morele hoë grond oor Obama te behou – met Romney se senior adviseur wat pas Obama en sy span daarvan beskuldig het dat hulle die presidentsamp in oneer bring deur die vlak van smeerpolitiek wat nou bedryf word. Binne die Republikeinse kamp word hy self ook as goeie kandidaat beskou omdat hy vir die konserwatiewe en liberale vleuels van die party aanvaarbaar is.

Nogtans was sy aanwysing ‘n verrassing, en word in sommige kringe as riskant beskou.

 

Impak op Suid-Afrika – Agoa-wet

Maar hoe gaan die verkiesing Suid-Afrika raak?

Die presidentskap, soos die kongres, het in die Amerikaanse federale bedeling benewens enkele maatskaplike sake, min binnelandse wetgewende en uitvoerende funksies. Verdediging en buitelandse sake is waar die presidentskap se swaartepunt grootliks behoort te lê, maar die president en kongres het oor die jare by wyse van spreke die VSA se binneland geleidelik gekoloniseer.

Hoewel Suid-Afrika oor ‘n veel wyer front geraak word, word die belang hoofsaaklik gemeet teen die agtergrond van die VSA se African Growth and Opportunities Act, bekend as Agoa. Dié wetgewing het in 2000 van krag geword, en gee aan gekeurde Afrikalande suid van die Sahara besonder gunstige handelsvoordele met die VSA. Die wet het beide Demokratiese en Republikeinse presidentskappe beleef. Hoewel Nigerië en Angola se uitvoere na die VSA dié van Suid-Afrika in geldwaarde oortref, is Suid-Afrika se uitvoere die mees gediversifiseerde en baat ‘n wye verskeidenheid bedrywe in die vervaardigingsektor. Die VSA is Suid-Afrika se grootste bestemmingsland vir uitvoere. Wedersydse handel het R181 miljard beloop, ‘n toename van 21 persent in een jaar.

Die wet is onlangs gewysig om dit tot 2015 te laat geld, maar belangriker is dat die wet die Amerikaanse president die mag gee om jaarliks die lande wat voordeel trek, te hersien. Verskeie Afrikalande is al van die lys verwyder, met sommiges wat weer toegelaat is.

 

SA en ‘n Obama-oorwinning

Sou Obama en sy assistent, Joe Bidden, weer die pyp rook, sal die situasie met Suid-Afrika waarskynlik nie veel verander nie. Dit beteken dat Suid-Afrika steeds die eer van ‘n besoekende Amerikaanse president sal moet verbeur, met eerder besoeke op ministersvlak. Obama het van die begin van sy termyn af dit duidelik gemaak dat slegs Afrikalande wat erns maak met die bekamping van korrupsie en die bevordering van menseregte besoek van hom te wagte kan wees, en Suid-Afrika se flankeerdery met muishondlande en onoordeelkundige besluite in die VN word oënskynlik met die houtoog bekyk.

Dat die regering van die Demokrate nie baie gelukkig met Suid-Afrika is nie, het onlangs baie duidelik geblyk toe die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, tydens ‘n besoek aan Suid-Afrika haar mond goed uitgespoel het, en veral die ANC moes riemspring. Suid-Afrika se ore moes tuit oor sy steun aan korrupte regerings elders, die groterwordende welvaartsgaping in die land en probleme met die onderwys. Die VSA wil nie sien dat sy beleggings in die hande van elitegroepies beland nie. (Lees gerus Dawie van Die Burger se bespreking by  http://www.dieburger.com/Rubrieke/Dawie/Geen-wind-van-verandering-hier-20120811 )

Tydens Clinton se besoek is ‘n Amerikaanse bydrae van meer as $3 miljard tot die Suid-Afrikaanse MIV-Vigsprogram erken. Boonop is miljarde dollar se bystand via USAid aan Suid-Afrika uitgelig.

 

SA en ‘n Republikeinse oorwinning

Beide Romney en Ryan se kandidatuur pas perfek in die konteks wat die binnelandse sentimente van die VSA nou gevange hou – finansies, die ekonomie, die begroting en Obamacare, met die impak op die middelklas.

Romney se onervarendheid met buitelandse sake het onlangs goed geblyk toe hy sy voet in sy mond oor Israel gesit het. Of dit by Amerikaanse kiesers teen hom gaan tel, is egter onwaarskynlik.

As ervare kongreslid, veral as voorsitter van die Huis se begrotingskomitee,  sou verwag word dat daar volop inligting oor Ryan se sienings oor buitelandse beleid sou wees. Maar daar is nie. Oor verdedigingsake is daar bietjie meer, en hoewel hy die Republikeine se benadering volg, word dit beskryf as nie besonder entoesiasties nie.

Romney word deur belangrike steungroepe vir die Republikeinse Party, soos die Tea Party en die Christian Coalition of America (CCA) nie as besonder sterk verbind tot hul ideale beskou nie, en die steun is dus nie baie entoesiasties uit die meer konserwatiewe geledere nie.  Hy is ‘n Mormoon, en van die fundamentalistiese Christengroepe beskou nie die Mormone as Christene nie. Daar is byvoorbeeld onsekerheid oor sterk hy werklik verbind is tot die stryd om aborsies op aanvraag verbied te kry. Met Ryan is daar egter geen twyfel nie – hy is uitgesproke gekant teen aborsies op aanvraag. Daar is sommer dadelik ook berig dat hy ook spesifiek erg gekant is teen die grusame, omstrede “partial birth” aborsies wat glo Obama se steun wegdra.

Ryan se keuse word beskou as manier om die Tea Party se guns te verseker, hoewel die CCA sy keuse bloot neutraal aangekondig het.

Ryan se Achilleshiel is klaarblyklik sy siening oor groen sake, hoewel dit onseker is of Ryan se standpunte die groenes meer die hoenders in sal jaag as dié van die Demokrate. Sy immigrasiebeleid sal Spaanssprekende Amerikaners waarskynlik nie aanstaan nie, maar die feit dat hy ‘n aktiewe Rooms-Katoliek is, sal dié pilletjie waarskynlik versuiker.

In die praktyk het dit dikwels gebeur dat die Demokrate meer lippediens aan post-1994-Suid-Afrika getoon het, maar die Republikeine meer met klinkende munt bygedra het. Suid-Afrika sal egter ook sy kant moet skoon hou, en in gedagte hou dat die Amerikaans kiesers langlippie is vir lande wat muishondlande om die hals val – en juis nou dat die VSA self erg knyp, is die voed van die mond wat die hand byt ‘n sensitiewe kwessie.

 

Die Chinese faktor

Tydens RSG se besprekingsprogram, Kommentaar, het die paneellede baie klem gelê op hoe Suid-Afrika se uitbreidende handelsbetrekkinge met China die VSA pla. China se tipe ekonomiese bedrywighede in Afrika is met kolonialisme gelykgestel, waar hoofsaaklik rou stowwe na China uitgevoer, en vervaardigde produkte weer ingevoer word.

Hoewel die VSA Suid-Afrika se grootste uitvoerbestemming is, is die VSA slegs Suid-Afrika se derde grootste handelsvennoot. Die handelsbalans tussen Suid-Afrika en die VSA is egter voordeliger vir Suid-Afrika as dié met China.

Daar is gereeld ‘n bohaai in Suid-Afrika oor onder meer die invoer van tekstielware, soos T-hemde vir die ANC, uit China waar die fabriekswerkers se omstandighede veel te wense oorlaat, terwyl Suid-Afrika se eie klerevervaardigingsektor noustrop trek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae