Nuuskommentaar: ‘Suid-Afrika nie gewelddadige land’ sê Zuma

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

Eens was daar Komiese Alie, en toe Hugo Chavez… manne van veronderstelde statuur wat lank na hul eras verby is onthou sal word vir omstrede uitsprake – uitsprake wat so omstrede is dat die wêreld dit as komies in herinnering oproep.

Ook ander staatsleiers het al met omstrede woorde hul voet in die ding gesit… Muammar Ghaddafi (die mense is lief vir my), George W Bush (Read my lips, no more taxes), Bashar al-Assad (Die Siriese konflik teen terroriste is so goed as verby), Idi Amin, Robert Mugabe…

Politici mag immers kluitjies bak, aldus ‘n voormalige premier van Mpumalanga.

Die probleem is dat die wêreld dit wat leiers kwytraak as barometer beskou van hoe die mense van ‘n land dink, veral waar die mense daardie leier weer instem, en soms weer en weer instem.

Pres. Jacob Zuma het sedert sy herverkiesing as president van die ANC verskeie kere uitlatings gemaak wat die internasionale media in oordaad gehaal het. Hieronder tel sy honde-uitspraak, en ook sy “aankondiging” dat hy ‘n nasionale reinigingseremonie gaan hou en emeritus aartsbiskop Desmond Tutu gaan vra om dit te lei, en ook sommer geoordeel het mense wat nie daaraan wil meedoen nie, loop met wrokke in die hart. Die media oorsee het baljaar.

Tydens ‘n ekonomiese beraad in Switserland het die president ook die oë laat rek deur te sê die geweld wat hier met stakings en optogte gepaard gaan is natuurlike verskynsels in demokrasieë, en dat dit net die media is wat nie daaroor skryf as dit oorsee gebeur nie.

Die prez se voet in die visblik-uitlatings gaan kort voor lank kompetisie bied vir Chavez se lyste van absurde uitlatings.

Nou het die president gesê Suid-Afrika is nie ‘n gewelddadige land nie – dit is net sekere elemente wat die land gewelddadig maak.  Hierop sê Nantes Kelder van Ariforum: Hoor die Prez, het grap vertel in parlement…

Volstruispolitiek is gevaarlik, want soos oom Jan Doringkraal gesê het – as ‘n volstruis met sy kop in die gat staan, praat hy deur sy… nek.

Die ironie is dat die president tegnies korrek is as die soort Amerikaanse argument ingespan word dat dit nie gewere is wat mense doodmaak nie, maar mense is wat mense doodmaak.

Die land bestaan uit vreedsame burgers, en dit bestaan uit burgers wat (soms periodiek) die vreedsame lewe van die ander bedreig, ontwrig – of selfs ontneem.

Dit is nie nuus dat die regering oor plaasmoorde volstruispolitiek speel en kaf praat nie. Dit is nie nuus dat Suid-Afrika die wêreld se verkragtingshoofsetel is nie, en dat die moordkoers in Suid-Afrika ongeveer ses keer die wêreldgemiddeld is nie. Geweld en vandalisme tydens stakings en optogte is nie ongewoon nie. Dit is algemeen dat buitelanders se winkels tydens diensleweringsprotes geplunder word, hoewel sommer ander ook tydens die onluste by Sasolburg leeggedra is. Veral drankwinkels. Sterftes in polisieaanhouding is veel meer as net die onlangse sleepvoorval. Verlede jaar is meer as 700 mense in polisie-aanhouding dood.

Dit is internasionaal groot nuus dat daar reeds sowat 60 000 mense in Meksiko se dwelmoorlog vermoor is. Meksiko se moordkoers is 22,7 per 100 000 per jaar. Suid-Afrika se koers is bykans 31 per 100 000 per jaar na dit die afgelope aantal jare afgekom het van 40 per 100 000 per jaar. Dit plaas Suid-Afrika onder die “top vyftien” in die wêreld, met ‘n paar van die landjies wat Suid-Afrika troef wat eilandjies is waarvan baie Suid-Afrikaners nog nie eens sou gehoor het nie.

Om tegnies te gaan raak dat dit net sekere elemente en nie die land is wat gewelddadig is nie, stuur die boodskap van ontkenning na potensiële beleggers en toeriste, en dié boodskap is min of meer dat omdat dit nie ‘n probleem is nie, gaan dit nie deurgrondelik aangespreek word nie.

Die land het pas ‘n veldtog gehou teen geweld teen vroue en kinders – ‘n veldtog wat feitlik deurlopend grusaam deur werklike gevalle geïllustreer is. Nie een van die oorlewende slagoffers sal die land as nie-gewelddadig ervaar nie.

Die ontkennings misken die probleem van sosio-ekonomiese probleme wat op anti-kulture en kulture in transito uitloop, waar die gesonde Christelike (Calvinistiese) waardes ontbreek. Wat is die prognose van ‘n dertienjarige wat ‘n baba in die wêreld bring, terwyl die nuwe ma se ma self nog ‘n staatstoelae vir die baba se ma ontvang?

Die land het ‘n morele herlewing nodig waar die leiers ‘n onkreukbare voorbeeld stel… nie ontkennings of seremonies gelaai met animistiese rituele nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

BEN WEPENER ·

President Jacob Zuma jy woon seker nie in Suid-Afrika nie ?????
(Gordon) Egpaar gemartel: 3 skuldig aan moord
2013-03-07 23:02

Die familie van ’n bejaarde vrou, wat in Desember 2010 gemartel en met ’n hamer geslaan is, was gister verheug toe drie van haar aanvallers aan moord skuldig bevind is.

Annelise Erasmus het telefonies van die rondgaande hof in Mogwase, naby Sun City in Noordwes, vertel die drie het op die oog af geen berou getoon omdat hulle haar ma, Marthie Erasmus (62), en pa, Chris (62), so gemartel het nie.

Die aanval was op die egpaar se plaas Hartbeesfontein in die Moedville-distrik naby Koster in Noordwes. Hulle is op hul stoep oorval.

Erasmus jr. het gister vertel hoewel haar pa die aanval oorleef het, is hy sowat ’n maand later dood.

“Hy was swak en ’n kanker- en hartlyer. Hy het swaargekry.”

Erasmus jr. was gister vol lof vir die staatsaanklaer en regter wat deur Samson Sihlangu, Tshepang Moumakwa en Johnny Maema se leuens gesien het.

“Hulle het alles ontken,” het Erasmus jr. vertel.

“Ons is ook baie dankbaar teenoor die polisie wat hulle ’n dag ná die moord gevang het.”

’n Vierde verdagte, Lesego Senwelo, het vroeër ontsnap. Hy is intussen weer vasgetrek, maar sy saak is nou geskei van dié van sy medebeskuldigdes.

“Hulle het my ma-hulle se huis leeg gesteel en met hul bakkie gevlug,” het Erasmus jr. vertel.

“Hulle kon alles gevat het, as hulle net nie ons ouers so seergemaak het nie. My ma is met die hamer geslaan, maar ’n meswond en die feit dat sy gewurg is, het haar dood veroorsaak.”

Die drie wat gister skuldig bevind is, word op 10 Junie gevonnis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.