Nuuskommentaar: Suid-Afrika se posisie op piesangrepubliek-indeks verswak

SA se kreeftegang op indekse

Suid-Afrikaners is nou al gewoond dat die land op belangrike indekse soos die korrupsiepersepsieindeks, die wêreldvredesindeks en die persvryheidsindeks terugsak, maar toe die land ‘n slag op ‘n indeks, waarskynlik die belangrikste van almal, opwaarts beweeg, is dit ook ‘n slegte ding.

Foreign Policy het pas sy indeks vir mislukte state bekend gemaak. Op hierdie indeks beklee die swakste presteerder, Somalië, die eerste plek. Die Demokratiese Republiek van die Kongo beklee die tweede plek, gevolg deur Somalië. Zimbabwe is in die vyfde plek. Hulle maak almal deel uit van die groep wie se piesangrepubliekstatus voltrek is en wie se status as mislukte staat kritiek is.

Suid-Afrika is nou in die derde kategorie, wat as grensgeval vir mislukking beskryf word, maar is op sy beurt ‘n grensgeval vir die kategorie, in gevaar verkeer. Suid-Afrika is in die 115de plek, met ander woorde 114 state misluk meer as Suid-Afrika. Namibië is in die 106de de plek, en word as een van die state beskou wat in gevaar is om te misluk.

‘n Land se plasing op indekse kan dikwels betwis word, maar Suid-Afrika vorm ‘n patroon van agteruitboer, en word bykans deur die bank deur Botswana in die skadu gestel, terwyl Namibië ook op verskeie indekse beter as Suid-Afrika vaar, waaronder die persvryheidsindeks, die wêreldvredesindeks waar SA behoorlik die loef afgesteek word, en die korrupsiepersepsieindeks.

Die G 20

Daar is goeie redes waarom Suid-Afrika op internasionale forums gereeld as Afrika, en veral Afrika suid van die Sahara se stem optree, soos nou weer by die G 20 wat in Meksiko plaasvind. Suid-Afrika het nog die grootste ekonomie in Afrika en volgens sommige bronne die 29ste grootste ekonomie in die wêreld. In 2004 het die ANC daarop aanspraak gemaak dat Suid-Afrika se ekonomie van die 35ste grootste in die wêreld in 2002 tot die 23ste grootste gegroei het.

Nou is pres. Jacob Zuma in Meksiko waar hy en sy stewige span skouers skuur met van die leiers van die wêreld se grootste lande. Uit sy wenslys is dit duidelik dat hy dit op hom neem om namens Afrika te praat, maar met sy land wat so op die indekse terugsak en deur verskeie Afrikalande in die skadu gestel word, sal dit niemand verbaas as baie van hierdie lande dit veiliger ag om op ander forums hul eie saak ook te stel nie. Hulle boesem immers meer vertroue in.

Dwars oor die wêreld is daar hard gewerk ter voorbereiding van die G 20, en talle NRO’s het voorleggings aan hul regeringslui gedoen. Die gasheerstaat, Mexiko, het voorts al die beskikbare voorleggings van die NRO’s op die beraad se webwerf gelaai, wat ‘n groot mate van deursigtigheid verseker.

Daar is ‘n verbasende konsensus oor kwessies waaroor die NRO’s sterk voel, en baie daarvan kon net sowel uit Suid-Afrika gekom het.

–         Inklusiewe groei en die vermindering van inkomste-ongelykheid
–         Ekonomiese stabiliteit en strukturele fiskale hervorming vir groei en indiensneming
–         Infrastruktuur
–         Voedselsekuriteit
–         Groei van die groen ekonomie
–         Deursigtigheid en verantwoordbaarheid

Dit is interessant dat die Wall Street-protes duidelik ‘n impak gemaak het op die kernelemente wat uit die burgerlike samelewing geopper word.

Dit lyk steeds of daar op die internasionale skaal nie ‘n groot swaai terug na sosialistiese ideale is wat dikwels die gevolg van swaarkrytye is nie – die gedagte bly steeds te wees om groter moraliteit in die markekonomiese stelsels in te pomp. En daarvoor is groter deursigtigheid en verantwoordbaarheid noodsaaklik.

Aptyt vir sosialisme?

In Europa is dit immers die ekonomieë wat die hardste met sosialisme geflankeer het, Griekeland, Spanje en die Waalse deel van België wat die meeste noustrop trek. Wallonië kon op die welvarender Vlaandere staatmaak om sy ekonomie jaarliks met miljarde Euro’s te subsidieer, maar dit is ook duidelik dat die Vlaminge langlippie raak, terwyl Griekeland skynbaar gemeen het die Europese Unie gaan hom nog baie lank as ‘n luilekker land onderskraag. Toe dit duidelik is dat sagte handskoene nie beskore is nie, het die Grieke in hul jongste verkiesing mooi in gelid by Europa, en weg van sosialisme, geswaai.

Spanje het aan die einde van verlede jaar die sosialiste in ‘n algemene verkiesing uitgeskop, maar die nuwe regering sit steeds met ‘n skynbare onkeerbare sleureffek. Duitsland, met sy markekonomie, het maar onlangs eers die ou Oos-Duitsland min of meer ekonomies op gelyke voet kon  bring. Benewens die miljarde wat in die ou Oos-Duitsland gepomp is, het Duitsland sy werkloosheidskoers goed afgewerk, en sy hernubare energie tot 21 % van sy kragverbruik opgeskuif, en ook sommer in die proses die dominante ekonomie in Europa gebou.

Pres. François Hollande van Frankryk is op die oog af ‘n uitsondering, en het pas sy verkiesing volledig voltrek toe sosialiste ook behoorlik beheer in die parlement geneem het. Maar of hierdie gematigde sosialisme merkbaar weg van die markekonomie sal staan, moet nog gesien word.

Objektief is daar dus nie veel affiniteit vir sosialisme nie.

Behalwe, so lyk dit, in Suid-Afrika, waar die kabinet in veral die ekonomiese portefeuljes, wat landbou insluit, met kommuniste gelaai is. Suid-Afrika het pas ‘n neseiertjie aan Kuba gegee om een van die wêreld se min oorblywende kommunistiese ekonomieë kop bo water te laat hou. Boonop is die SAKP nog skerp onder druk van links, soos uit NUMSA.

Zuma se gewildheid

Om sout in Zuma se wonde te smeer, het ‘n peiling pas getoon dat hy slegs die steun van 19 persent Suid-Afrikaners bo 18 het, terwyl Tokyo Sexwale 17 % se steun het. Altesaam 64 % kies nie een van die twee kandidate nie. Dieselfde peilingsmaatskappy het onlangs bevind dat Zuma ook onder jong mense minder gewild as sy adjunk-president is.

Nou moet dieselfde Zuma vir Afrika die woord voer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gemsbok ·

Beste Herman,

As daar nou twee dinge is wat ek by jou geleer het uit jou nuuskommentaar, is dit die bestaan van al hierdie indekse en ook die spanningshipotese.

Die vraag is egter tot watter mate Suid-Afrika se kreeftegang op hierdie indekse ons lewens raak, of behoort te raak?

Jy noem dat dit beleggersvertroue skaad, maar tog het Suid-Afrika daarin geslaag om die grootste deel van die SKA-projek te wen. (Of was dit dalk (nes die sokker) te danke aan omkopery deur die regering wat belastings opgeskort het vir hierdie tenders?)

Dit lyk nie of die regering veel gepla is deur hierdie indekse nie.

Is die indekse nie eerder bedoel om ons as burgers wkker te laat skrik in ons slaap nie? Dalk moet ons maak soos die klassieke liberalis, Ludwig von Mises, aanbeveel en ons staat tot verantwoording roep deur by ‘n nuwe staat in te skakel of ons eie staat te stig (baie soos wat kiesers veronderstel is om politieke partye te straf wat wanpresteer).

Hoe dit ook al sy; die indekse dui net aan hoe sleg dit met die gemiddelde Suid-Afrikaner gaan en nie hoe goed dit met die elite by die krippe gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.