Nuuskommentaar: Taksverligting vir selfbeveiliging

Solidariteit se veldtog om belastingkortings te beding vir mense wat self opdok om hul gesinne en hulself te beveilig staan nie in ‘n lugleegte nie:

–       Suid-Afrika beklee die 127de plek uit 158 lande op die internasionale  vredesindeks. Suid-Afrika vaar nie veel beter nie as Sirië in die 147de plek, en veel swakker as sy buurlande soos Botswana in die 31ste plek, Namibië die 49ste en Mosambiek in die 48ste plek. Dit is kwalik ‘n troos dat Suid-Afrika darem vir Zimbabwe in die 140ste plek die loef afsteek. Onder die maatstawwe wat ingespan word om ‘n land se plek te bepaal is die vlakke van misdadigheid in die land, die vlak van gewelddadige misdaad, gewelddadige betogings, politieke onstabiliteit, en ja, militêre uitgawes (al is dit om soldate in ander lande te plaas en om hooggeplaaste politici ten duurste na vakansiebestemmings en internasionale konferensies te vlieg).

–       Suid-Afrika is volgens sy amptelike statistiek die verkragtingshoofsetel van die wêreld, waar selfs die polisie toegee dat slegs ‘n fraksie van die gevalle wat voorkom, by die polisie aangemeld en dus in die statistiek opgeneem word. Suid-Afrika se moordkoers word slegs deur enkele lande oortref. Suid-Afrika se syfers lyk eenvoudig skrikwekkend   teenoor dié van die res van die wêreld.

–       Verlede jaar was daar ‘n effense afname in plaasmoorde, maar ‘n toename in gewelddadigheid. Vanjaar, so lyk dit, wil plaasmoordenaars vir hul “laksheid” van verlede jaar opmaak. Sommer vroeg vanjaar vra TLU SA in ‘n verklaring of 2013 nie die swartste jaar sedert 2005 met plaasmoorde gaan wees nie.

Dat die regering met mag en mening Solidariteit se veldtog gaan teenstaan, is heeltemal te wagte. Om toe te gee sou immers op ‘n erkenning neerkom dat die land stewig op koers is om ‘n mislukte staat te wees. Maar … dit is lank nie meer ‘n geheim nie. Op die indeks vir mislukte state (piesangrepubliekindeks) word Suid-Afrika as ‘n grensgevalstaat geklassifiseer. Die land beklee die 115de plek, wat eintlik beter is as wat dit klink omdat dit ‘n “omgekeerde” indeks is. Die swakste staat behaal hierdie die eerste plek. Buurman Zimbabwe (5de plek) “klop” Suid-Afrika dus loshande. Die belangrike is dat Suid-Afrika sleg afsteek by Wes-Europa (selfs Griekeland in die 138ste plek), Japan, die VSA, Australië, Suid-Korea en Argentinië, en dat Suid-Afrika in die verkeerde rigting op die indeks “vorder.”

Volgens die jongste opnames blyk dit dat die groot Chinese muur 22 000 kilometer lank was, en nie 9 000 kilometer soos voorheen gemeen is nie. ‘n Kleinerige stad soos Bloemfontein het ‘n geraamde 5 000 kilometer duiwelsvurkheining, wat beteken die land se totale afstand duiwelsvurkheining beloop waarskynlik tussen 50 000 en 100 000 kilometer – veel langer as die Chinese muur. Dit is afgesien van ander vorms van beskermende heinings soos geëlektrifiseerde heining.

Geen versekeraar wil meer ‘n huisinhoud verseker as die huis nie met behoorlike beveiliging toegerus is nie, byvoorbeeld staaf-diefwering wat aan tronktralies herinner. Vir die versekering van sake-eiendom soos toerusting word gewoonlik gewapende reaksie verwag – hoewel sake-ondernemings normaalweg hierdie soort uitgawes reeds as bedryfsuitgawes kan aftrek.

Landbou-unies het ook lank geargumenteer dat die veiligheidsmaatreëls wat hulle instel belastingaftrekbaar moet wees. Trouens, Vrystaat Landbou het die staat hof toe gesleep om sy verantwoordelikhede teenoor die burgers, en in die besonder die landbougemeenskappe na te kom. Die staat het ‘n skikking  buite die hof bereik, wat nie geïmplementeer is nie en ‘n skikking moes opnuut buite die hof bereik word. Afgesien van plaasaanvalle ly die landbou jaarliks miljarde rande se skade weens vee-, gewas-, weiding- en toerustingdiefstal en veldbrande wat om ‘n verskeidenheid redes gestig word.

Die koste aan trauma vir stads- en landelike gemeenskappe om daagliks in selfopgerigte tronke te moet woon, om bewegingsvryheid aan bande gelê te hê, kommer oor of hul kinders hul bestemmings veilig bereik, kan baie moeilik bereken word.

Intussen spandeer die regering byna R7 miljoen aan ‘n parlementsopening, en word byna enige verbetering aan ‘n hooggeplaaste se woning – ook privaat woning – “afgemaak” as noodsaaklike veiligheidsmaatreëls. Nkandla staan voorop, terwyl meer mannekrag aan BBP-beveiliging as aan grensbeveiliging bestee word. Intussen word die 11-jarige Ofentse Mogale ontvoer waar sy in die “veiligheid” haar ouerhuis by haar jonger sussie slaap, en verkrag en vermoor.

Steun asseblief Solidariteit se veldtog. Dit het reeds volgens ‘n inskrywing op Solidariteit se bakkiesblad tot gevolg dat die minister se kantoor Solidariteit voor die minister se begrotingsrede te woord sal staan. Dit is ‘n goeie voorbeeld van hoe burgerlike strukture inhoud aan die grondwetlike demokrasie gee. En dit is nie gewelddadig sodat die land verder op die vredesindeks laat afskuif nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.