Nuuskommentaar: Te veel mag en die kuns van yster en satyn

Indiese politici wat terselfdertyd sakelui is wat die ekonomie van hul deelstaat beheer het pas veroorsaak dat sowat 600 miljoen inwoners van Indië letterlik in die duister gelaat is.

Sowat 70 persent van Indië se elektrisiteit word deur steenkool opgewek, en dit kom teen ‘n prys. Boonop gaan die persentasie wat deur steenkool opgewek word, in alle waarskynlikheid styg.

Afgesien van die omgewings- en gesondheidsprobleme, is steenkool nie ‘n baie geskikte manier van krag opwek om piektyd-aanvraag die hoof te bied nie. Al hoe meer van Indië se sowat 1,2 miljard mense is welvarend, en wanneer dit warm word, word miljoene lugverkoelers aangeskakel… en 600 miljoen mense sit sonder krag toe die netwerk die handdoek ingegooi het.

Die probleem is dat die steenkoolmyne, veral in die deelstaat Meghalaya aan politici van dié deelstaat behoort. Die gevolg is erge lug- en rivierbesoedeling, haglike werksomstandighede en skrapse wetgewing wat gewoon nie toegepas word nie. Alternatiewe energiebronne word met die houtoog betrag.

Suid-Afrikaners het ook al die gevolge hiervan beleef. Op die oomblik word die geskorste Glynnis Breytenbach van die Nasionale Vervolgingsgesag dissiplinêre verhoor. Daar is ‘n wye persepsie dat sy te diep gekrap het in sake wat politiek-gekoppeldes soos die omstrede Richard Mdluli en die ongure Sishen-regte waar Kumba en Imperial Crown Trading haaks is. Die wydlopende persepsie dat die betrokkenheid van belangrike politici se familie die toekenning van mynregte beïnvloed het, het Suid-Afrika se internasionale beeld enorme skade berokken.

‘n Soortgelyke sage speel hom oor die Aurora-debakel af waar Solidariteit hard moes werk om die stelsel by politieke verbintenisse verby gevoer te kry.

Die Noord-Kaapse LUR, John Bloch word krimineel vervolg, maar is duidelik nog nie vir die ANC ‘n blok aan die been nie. AfriForum moes selfs ingryp om die fluitjieblaser te beskerm sodat die saak kan vorder.

Dit is ‘n ope vraag of daar ooit tot die kern van die wapenskandaal deurgedring sal kan word – net eenvoudig te veel van die ANC-elite se name duik op.

Jaar vir jaar veroorsaak die ouditeur-generaal en die Openbare Beskermer ‘n slagting met hul bevindings, soos nou weer met die land se spartelende munisipaliteite, maar die bevindings vorder selde verder as die papier en die rak. Te veel ontplooide kaders se koppe sal moet rol om sake reg te stel.

‘n Verdere probleem ontstaan wanneer die regerende party en van die sterkste vakbonde in alliansie verkeer. Op hierdie terrein is daar goeie nuus dat voorgestelde wysigings aan die arbeidswetgewing dit vir minderheidsvakbonde makliker sal maak om organisatoriese regte te bekom. Dit is veral belangrik in ‘n land soos Suid-Afrika waar Cosatu deel van die ANC-alliansie is, en so in wese waar filiale die status van meerderheidsvakbond geniet, “namens” al die werkers optree al is baie hoegenaamd nie ANC-ondersteuners nie. Dié voorgestelde wysiging word deur Solidariteit gesteun. Lees die Solidariteit voorlegging voor die parlementêre komitee hier.

In ‘n onlangse paneelbespreking op RSG het die paneel hul kommer uitgespreek oor probleme soos dienslewering, met gevolglike oproer, maar word die kruisies getrek, word weer vir die ANC gestem. Dit gaan blykbaar nog ‘n ruk so wees, al meen die rubriekskrywer, Henry Jeffreys in vanoggend se Die Burger dat die ANC hom algaande op dunner ys met die kiesers begeef.

Meer en meer denkende kiesers besef die waarde van burgerlike instellings. Tot onlangs nog het grondwetkenners in Suid-Afrika die afwesigheid van behoorlike burgerlike strukture as een van die grootste leemtes in die land se grondwetlike opset beskou.

Intussen het prof. Danie Goosen van die FAK op Maroela in reaksie op ‘n artikel onder meer geskryf:  “Die kritiese vraag is of ons mense daarin gaan slaag om hierdie energie op ’n sinvolle wyse in ‘instellings’ te vertaal. Want anders as die nonsens wat in so baie van ons mense se koppe ingeprent is, kan geen volk – en dit is ’n minimum-voorwaarde – sonder kragtige instellings bestaan nie…. Maar ook op hierdie front is ons mense energiek besig. En presteer hulle op ’n uitsonderlike wyse. AfrForum is hiervan waarskynlik die mees uitstaande voorbeeld. AfriForum is niks minder nie as ’n organisatoriese wonderwerk. Soos geen ander organisasie onder Afrikaners die afgelope dekades het AfriForum in die bestek van ’n geweldige kort tydperk vanaf niks tot ’n kragtige organisasie van meer as 44 000 lede gegroei. Trouens, het daar al ooit ’n organisasie onder Afrikaners so vinnig as AfriForum gegroei? Afrikaners wat nog nie daarvan kennis geneem het nie, moet weet dat hier ’n geweldige ding in hulle midde aan die gebeur is. Nog baie werk moet aan ons instellings gedoen word alvorens hulle weer kragtige pro-Afrikaner instellings gaan word. Maar Afrikaners is kennelik gereed daarvoor.”

Maklik gaan dit nie. Die kritiek oor ‘n wye front wat AfriForum gekry het oor die haatspraaksaak wat teen Julius Malema aanhangig gemaak is, is waarskynlik die beste voorbeeld dat selfs in opposisiegeledere nie almal vrede het met hierdie been van die grondwetlike demokrasie nie, en waar die grondwet self ingespan word.

Die kuns van burgerlike instellings is om te weet wanneer om watter hand in te span – die ystervuis of die hand met die satynhandskoen. Wanneer politieke mag en die greep op die ekonomie egter te verstrengel raak, raak dit al hoe moeiliker om die sin van satyn in te sien.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae