Nuuskommentaar: Tien redes waarom SA kan slaag?

Die Amerikaanse Nobelpryswenner, Paul Krugman, het pas sy mond oor Europa se toekoms uitgespoel en gesê Europa jaag teen ‘n hoë spoed in ‘n doodloopstraat af.

Sulke persepsies, selfs al sou dit ‘n wolhaarstorie wees, kan baie skadelik wees en daarom is dit ook  nie vreemd nie dat prof. Dominique Moisi, politieke wetenskaplike van die Franse Instituut vir Internasionale Betrekkinge, teruggekap het met tien redes oor waarom daar steeds in Europa geglo kan word.

Die redes wat hy aanvoer sal vir die meeste Suid-Afrikaners maar wollerig klink, soos die goeie ding dat staatsmanskap besig is om na Europa terug te keer. Uit die Suid-Afrikaanse perspektief is Angela Merkel waarskynlik die enigste werklike Europese leier wat ‘n staatmanskap-profiel het, en sy is al lank Duitse kanselier.

Maar ironies sluit Moise die verkiesing van sy eie nuwe president uit van verbeterde staatsmanskap, en gebruik die nuwe Italiaanse premier as voorbeeld. Voortspruitend uit sy eerste stelling is optimisme oor beter bestuur, ‘n baie geldige argument vir ekonomiese herstel, mits dit natuurlik waar is dat daar nou beter staatsmanskap in Europa na vore tree.

Ander punte maak meer sin, soos dat almal in Europa ‘n deeglike besef van die erns van die situasie het. Hy lys ook die diversiteit en nasionalisme, waar die pluspunte van sommige lande dié van ander goed aanvul. Ten slotte meen hy dat die Europeërs ook besef dat hulle geen ander keuse het nie as om Europa te laat slaag.

Kan daar tien realistiese redes gelys word oor of Suid-Afrika kan slaag? Daar kan baie maklik ‘n lysie veel langer as net tien pluspunte gemaak word, maar die woordjie “maar” gaan telkens die pluspunt kwalifiseer.

  • Suid-Afrika het enorme rykdomme in sy bodem, hoewel sommiges daarvan periodiek teen ‘n verlies ontgin word.
  • Suid-Afrika het van die beste boere ter wêreld wat daarin slaag om suksesvol op grond te boer met ‘n veel laer gemiddelde reënval as die wêreldgemiddeld, maar plaasaanvalle, veediefstal, brandstigting en ‘n onsimpatieke regering maak die lewe vir boere moeilik.

Trouens, dit gaan veel makliker wees om ‘n lysie te maak van hoekom die land sal moet vinger trek om ‘n wenland te wees. As ‘n mens Moisi se lys op Suid-Afrika van toepassing maak, lyk sake soos volg (ter wille van bondigheid word meestal net een voorbeeld gebruik):

1)      Staatsmanskap: Die regerende party gaan vandag hof toe oor ‘n onsmaaklike skildery, terwyl verskeie koerante in hul hoofartikels skryf dat dié skildery billike kommentaar op die president se lewenstyl uitbeeld.

2)      Beter bestuur as uitvloeisel van beter staatsmanskap: Verskeie dorpe in die land brand as gevolg van onder meer kaderontplooiing.

3)      Almal is bewus van die erns van die situasie: Mangaung-munisipaliteit verhoog tariewe met heelwat meer as dubbel die inflasiekoers om sy hoogste amptenare en raadslede se salarisse op dieselfde vlak as groter stede met veel, veel groter belastingbasisse te bring.

4)      Diversiteit as rede vir optimisme: Solidariteit neem die Departement van Korrektiewe Dienste arbeidshof toe weens die toepassing van nasionale rasskwotas in die Wes-Kaap wat tot ernstige, onbillike diskriminasie teen bruin en wit mense lei. Die ANC appelleer teen Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak teen ‘n minderheid.

5)      Nasionalisme: Die internet-debakel oor oud-president FW de Klerk se CNN-onderhoud dui daarop dat baie mense vervreem voel van hul Suid-Afrikaanse identiteit. Vandag se uitspraak in die Eugene Terre’Blanche-moordverhoor sal oordeel of wit en swart volgens regsfeite oordeel, of deur rasse-solidariteit gerig word.

6)      Diep verankerde demokrasie: Die president en verskeie ministers het al uitsprake gemaak wat as ‘n aanslag op die onafhanklikheid van die regbank en kritiek op die begrip grondwetlike demokrasie vertolk word. Gwede Matshe verwerp minderheidsregte, wat ‘n integrale deel van demokrasie in lande met bevolkingsdiversiteit is.

7)      Uitbouing van tale om universeel trefkrag te hê: Europa se boodskap word wêreldwyd uitgedra in tale soos Engels, Spaans, Frans en toenemend Duits. Suid-Afrika beweeg wat tale betref stroomop.

8)      Multi-kulturisme: Moisi meen kultuurvermenging in Europa lei daartoe dat elkeen verryk daarvan afkom, maar hy erken dat so ‘n stelling omstrede is. Om dit nie teenstrydig met sy positiewe uitwysing van nasionalisme te verstaan nie, bedoel hy waarskynlik verryking deur gereelde blootstelling, eerder as vermenging. Wanneer ‘n groep van hul eie kultuur afstap en in transito na ‘n ander gaan, tree daar dikwels anti-kultuurelemente in. Zuma se kinders se verklaring oor hul pa se lewenstyl wat tradisioneel sou leef, bots met die belangrikheid wat die werklike tradisionele Zoeloekultuur op maagdelikheid tot die huwelik plaas.

9)      Europa se legitimiteit is versterk met die ondergang van kommunisme: Die SAKP beklee sleutelposte in die Suid-Afrikaanse kabinet.

10)  Besef dat Europa mekaar se lot deel en moet saamstaan: Die hele straatnaam- en pleknaamkwessies dui daarop dat saamstaan iets beteken wat ten koste van ander plaasvind.

Baie Suid-Afrikaners beleef die land deur die volgende bril:

Suid-Afrika het waarskynlik die hoogste verkragtingskoers ter wêreld, en die moordkoers tel onder die hoogstes ter wêreld. Plaasmoorde skok die wêreld, maar in Suid-Afrika staan die regering gewoonlik apaties daaroor.

Die land het in een jaar met tien plekke op die korrupsiepersepsie-indeks terug gesak.

Die een rubriekskrywer na die ander stel dit nou al soos algemene kennis dat die regering ‘n gemors van die landsbestuur maak, en is deur niemand minder nie as dr. Jakes Gerwel, ‘n verbete ANC-lojalis ingelui. Werkloosheid en die vlakke van MIV-Vigs is baie hoog, die inkomstegaping het hande uitgeruk en verskerp steeds. Die president se seksuele manewales is nou in ‘n skildery verewig.

Natuurlik, en gelukkig is dit ook so dat dit net so maklik is om ‘n lys van tien positiewe sake uit te lig. En dis nodig. Soos Trouw op Krugman se doemprofetiese opmerking oor Europa reageer:   “Nu hebben onheilsprofeten meestal ongelijk, maar te veel negatieve voorspellingen zijn niet zonder risico. Zij kunnen zichzelf waarmaken.”

As swartgalligheid die botoon voer, gaan die doemprofete die tong kan uitsteek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae