Nuuskommentaar: Tjôtjôkrasie en die kabinetskommeling

Kort na Transparency International (TI) ontstellende syfers oor omkopery in Suid-Afrika bekend gemaak het, het pres. Jacob Zuma ‘n kabinetskommeling aangekondig. Die twee gebeurtenisse hou nie regstreeks met mekaar verband nie, maar die omkoopsyfers bied nogtans ‘n handige maatstaf om te meet of die president met die nuwe kabinet raakgevat het.

Omkopery is deel van korrupsie, en volgens die Wêreldbank beroof korrupsie ‘n land van sy toekoms. Die voorafgaande jaar het byna die helfte van alle Suid-Afrikaners, 47 persent, omkoopgeld betaal. Dit is byna dubbel die gemiddeld van die wêreld se 27 persent. Dié syfer is so hoog omdat verskeie Afrikalande dit so hoog optrek, soos Kenia se 70 persent en Sierra Leone se 83 persent.

In verskeie westerse lande soos Finland en Australië is dit een persent, met die VSA effe aan die hoë kant op 7 persent.

Die peilings is in altesaam 96 lande gehou wat beteken dat die wêreldwye prentjie dalk effe anders daaruit kan sien.

Vir Suid-Afrika is daar iets onheilspellends te lese in hierdie syfers. Op die jongste korrupsie-persepsie-indeks (2012) het Suid-Afrika weliswaar die afgelope twee jaar met 15 plekke agteruitgeboer tot die 69ste posisie, maar is steeds ordes beter daaraan toe as veral sommige Afrikalande soos Egipte (118de), Ethiopië (113de), die DRK (160ste) en Nigerië (139ste). Maar op die omkoopindeks vaar hierdie lande almal beter as Suid-Afrika.

Wanneer TI oor minder as ‘n half jaar sy volgende korrupsie-persepsie-indeks bekend maak, met kwessies soos Nkandlagate en selfs die wapenskandaal nog nie oopgevlek nie, die nuus oor die stadiongekonkel, pogings om verslae oor ‘n gekonkel in munisipaliteite onder die tafel in te vee – dan kan die land nog ‘n flink kreeftegang op die indeks te wagte wees.

Die snoerwet help ook nie om persepsies oor korrupsie in Suid-Afrika die nek in te slaan nie.

Hoewel die tuimeling op die korrupsie-persepsie-indeks skouspelagtig is, is dit nie al saakmakende indeks waarop die land agteruit boer nie. Die persvryheidsindeks (op sy eie ‘n belangrike meting vir die verbintenis tot die uitroei van korrupsie en die gesondheidstoestand van die demokrasie), die geweldsindeks, die indeks vir mislukte state en pas weer die uiters belangrike innovasie-indeks is van die vernaamste indekse waarop Suid-Afrika onder Zuma se presidentskap flink agteruit opruk.

En dis nie goeie nuus vir die broodnoodsaaklike beleggers wat die Nasionale Ontwikkelingsplan moet laat werk nie.

Kabinetskommelings is ‘n belangrike manier om standpunt teen onbekwaamheid en korrupsie die regte boodskap uit te stuur. Juis hieroor was daar groot antisipasie toe die nuwe premier van die Noord-Kaap haar uitvoerende raad hersaamgestel het, maar die Block het steeds aan die ANC se been bly kleef. Dit moet in gedagte gehou word dat kabinetskommelings en die weglating van lede nie net oor persone handel wat reeds skuldig bevind is nie, maar ook teenoor hulle waar sake hangende is, of waar hul teenwoordigheid die persepsies beïnvloed.

Met gister se kabinetskommeling hét ‘n minister, Dina Pule, in die slag gebly teen wie daar bewerings oor korrupsie gemaak word. ‘n Paar onderpresteerders (dis eintlik erg eufemisties gestel) het ook in die slag gebly. Maar … verskeie teen wie al ernstige bewerings gemaak is – wat sowel die vermorsing van belastingbetalersgeld en swak prestasie, of beide, betref, het nie die trekpas gekry nie. Die Vryheidsfront Plus som dit akkuraat op dat die geleentheid verpas is om nie van Tina Joemat-Peterson, minister van landbou, bosbou en visserye en Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, ontslae te raak nie. “Hierdie twee ministers staan uit weens hulle onvermoë om hulle departemente behoorlik te bestuur.”

Waarnemers is dit eens dat Tokyo Sexwale se afdanking die gevolg is van sy pogings om Zuma om die leierskap van die ANC uit te daag, maar wat soek adjunk-president Kgalema Motlanthe dan nog in sy pos? Het Sexwale, wat vir huisvesting verantwoordelik was, nie miskien te hard op tone getrap toe hy aanwas as rede vir die onvermoë om agterstande uit te wis geblameer het nie? Die president het immers minstens twintig kinders binne en buite die eg.

Dit lyk al hoe meer of Zuma Motlanthe, wat na die kongres in Bloemfontein as politieke uitdager behoorlik ontman is, aangehou word om Cyril Ramaphosa onder die duim te hou.

Motshekga, as president van die ANC se vroueliga, se posisie so na-aan ‘n verkiesing is bykans onaantasbaar. Die ANC is juis op dun ys met Motshekga nadat haar man, dr. Mathole Motshekga, as parlementêre hoofsweep afgedank is. Dr. Mathole is ‘n regsgeleerde en voormalige premier van Gauteng. Nogtans het die president die onderwysvakbond, Sadou, wat op Angie se afdanking aandring, in die gesig gevat deur haar nie weg te laat nie. Sadou is by Cosatu geaffilieer.

Met die munisipaliteite wat oor die algemeen swak presteer, was dit eintlik onafwendbaar dat Richard Baloyi die trekpas sou kry. Maar die swak ministeriële bestuur oor hierdie portefeulje wat Baloyi geërf het gaan ook ‘n besondere persoon verg om sake genoegsaam reg te ruk. Die moeilikste taak is egter om die politiek sanksie van bo te kry om die mes in te lê, want baie van die probleme op plaaslike vlak is die regstreekse gevolg van die amptelike ANC-beleid van kaderontplooiing. En Tlokwe is ‘n goeie bewys van hoe moeilik dit is om ‘n Block, ekskuus, blok aan die been te verwyder.

In die geheel is waarnemers dit eens dat Zuma se vernaamste oogmerk was om sy politieke posisie te bestendig, in die besonder met die oog op volgende jaar se algemene verkiesing. Dis ook duidelik dat die besef deeglik tuisgeslaan het dat met die fokus wat die Solidariteit-DKD-saak en die impak van die BBB, die ANC sy hand met die bruin kiesers oorspeel het. Nie alleen is Tina Joemat-Pettersson teen alle logika in behou nie, en veral in die sensitiewe amp van landbouminister nie, maar is die bruin geledere in die kabinet en onder die adjunkministers versterk.

In die geheel is die beste belang van die land nie gedien nie. Die noodsaaklike rol van burgerlike instansies soos Solidariteit en AfriForum het net sterker geword.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae