Nuuskommentaar: Tlok- tlok, wie’s daar?

Julius Malema by die bekendstelling van die EFF Foto: Werner Beukes/SAPA

Verskeie faktore maak die Suid-Afrikaanse politiek nou meer vloeibaar as wat dit in baie dekades was.

Tlokwe is die jongste voorbeeld waar die howe ingespan word om sake in ‘n rigting te probeer dwing, terwyl ook Cope se leierskapstryd hom nog in die howe uitwoed.

Trouens, so dikwels beland sake voortspruitend uit die politiek in die howe dat ANC-leiers, waaronder pres Jacob Zuma, al ergernis uitgespreek het omdat die howe die “meerderheidswil” frustreer.

Dit is egter waaroor grondwetlike demokrasie handel, en moet help sorg dat regerings in algemene belang regeer, en nie in ‘n meerderheidsdiktatuur ontwikkel nie.

Enkele jare gelede het Zuma self Julius Malema aangeprys en gesê die omstrede knaap is ‘n toekomstige president van die land. Die ANC het Malema dwarsdeur sy verhoor oor haatspraak gesteun, en die saak eers geskik na Malema uit die ANC geskop is.

Nou ruk Malema op met sy eie politieke party. ‘n Opname toon dat hy tot ‘n kwart van die steun van jong swart mense geniet – op sy eie nog geen bedreiging vir die ANC se magsposisie nie, maar as dié steun tot volgende jaar se verkiesing voortgesit kan word, sal die party tot bokant die vlak kan styg van die min of meer een persent en selfs minder steun wat die meeste opposisiepartye gevange hou. Maar in die politiek is ‘n dag soms ‘n lang tyd …

Baie hang natuurlik af of Malema dan (nog) nie deur die lang arm van die gereg “permanent” uit die samelewing verwyder is nie.

Om vir beduidende steun vir Malema se party duim vas te hou is amper soos om op ‘n Saterdag vir jou eie Super 15-span se grootste vyand in ‘n wedstryd teen ‘n ander span, duime vas te hou, omdat daardie span se oorwinning jou eie span se posisie op die punteleer kan verbeter.

‘n Teenwoordigheid, en veral ‘n beduidende teenwoordigheid van Malema se party, met of sonder hom, in die parlement sal net tot die land se nadeel wees. Uit die bekendstelling van sy party is daar min positief te lese … die meeste is erg skadelik vir omtrent alles in die land – van beleggersvertroue tot tussengroepverhoudinge tot die inspan van die waarheid.

Maar selfs al kan ‘n dag ‘n baie lang plek in die politiek wees, kan hierdie dae begin opraak as Agang SA nie baie skielik baie prominent begin gesig wys nie. Ervare politici sal getuig dat min dinge so skadelik vir ‘n party kan wees as om in prominensie soos ‘n klimtol te maak. Selfs al is dit elke keer op die “regte” tyd prominent, naamlik voor verkiesings, kry dit die reputasie onder kiesers as “verkiesingsparty” – dws ‘n party wat in die oë van die publiek na ‘n verkiesing” in “reses” gaan en skielik voor verkiesings die kiesers wolle oor die oë probeer trek. Soms is hierdie partye nie eens self skuldig aan hierdie reputasie nie – hulle word deur die media geïgnoreer tot kort voor verkiesings wanneer hulle skielik op veral die SAUK begin blootstelling kry. Veral kleiner partye is gefrustreerd dat hulle hard werk vir blootstelling, onder meer deur die gereelde uitreiking van mediaverklarings wat selfs die buitelandse media haal, maar hier te lande dikwels soos ‘n stopstraat geïgnoreer word – behalwe gelukkig vir onafhanklike nuusverspreiders soos Penorent Nuus.

Die vermoede is egter dat Agang ‘n heel ander strategie volg as wat Cope byvoorbeeld aangepak het. Daar is duidelike tekens dat die swart intelligentsia wel bearbei word, maar om ‘n beduidende faktor in die politiek te word moet die probleem aangespreek word, naamlik dat navorsing dikwels toon dat gemeenskappe aandui dat hulle nog nooit van Agang gehoor het nie.

In dié stadium ontwikkel ‘n interessante verskynsel – die skynbare vloeibaarheid van stemblokke.

Tlokwe is een. Is dit moontlik dat die ANC-rebelle met hul steunbasis by die DA sal kan aansluiting vind, soos wat onlangs in die Suid-Kaap by Oudtshoorn gebeur het? (Ook daar het die uitgeskoptes aangevoer dat die oorname “onwettig” was). Dit lyk of faksionalisme in die ANC in Noordwes diep loop en selfs al minstens een sluipmoord opgelewer het. Cope sou waarskynlik ‘n natuurliker tuiste vir die rebelle bied, maar Cope se faksiegevegte is nog nie deur die howe uitgepluis nie, en die laaste ding wat die rebelle nou wil beleef is om in ‘n nuwe party aan te land, om hulle kort daarna weer in die “verkeerde” faksie te bevind.

Nog ‘n interessante blok wat kan verkas, is die marankas wat die omstrede, daggarokende koning van die Temboes nou maak. Hy gaan nou uit sy npad om sy vinger in Zuma se oog te druk. Die Temboes het belangrike Xhosa-politici opgelewer, waaronder oud-president Nelson Mandela. In die breër Xhosa-politiek woel dinge al jare lank, minstens sedert Mandela as ministers moes kies tussen genl. Bantu Holomisa en Stella Sigcau. Die keuse het teen Holomisa gegaan, en die UDM het tot tand gekom. Die ANC se swaartepunt het van die Xhosas na die Zoeloes geskuif ten spyte daarvan dat die IVP en later die NFP, rolspelers gebly het.

Tog bly dit eintlik pateties dat die Suid-Afrikaanse opposisiepartye se groei tot ‘n groot mate moontlik moet wees deur afvalligheid binne die ANC eerder as dat kiesers ander opsies as die ANC uitoefen omdat hulle nie met die beleid saamstem nie, of die ANC vir sy mislukkings – soos die stryd teen korrupsie – te straf. Pas in ‘n Vrystaatse LUR weens beweerde bedrog in hegtenis geneem, terwyl ‘n Noord-Kaapse LUR wat al ‘n hele paar keer in die hof verskyn het, steeds LUR is.

Kort voor verkiesings tree nog ‘n interessante dimensie in. Aspirerende kandidate wat om die een of ander rede nie die pyp rook om as kandidate genomineer te word nie, ervaar skielik ‘n “Damaskusoomblik” en gaan sluit by van die kleiner partye aan waar hulle hoop hulle die oortuiging bring dat hulle aansienlik steun saam met hulle bring. Dit het ook al dikwels gebeur dat sulke partye, soos die ACDP, sulke mense so omarm dat hulle selfs parlementslede word, en waar hulle dan, toe dit nog toelaatbaar was, as parlementslede na die ANC terugloop.

Die oorlopery is nou kortgeknip, maar dit sal interessant wees om te sien hoe partye soos die UDM, Cope en heel waarskynlik Agang, kort voor die verkiesing gaan spog met skielike groot aanwinste. Dit hou egter die nadeel in dat getroue, beginselvaste lede wat hulle hard opwaarts gewerk het, skielik moet plek maak vir hierdie opportunistiese aankomelinge.

Ten spyte van die enorme steun wat Zuma binne die ANC geniet, lyk dit tog of die politieke prentjie ‘n bietjie anders as gewoonlik daaruit kan sien. Net te veel ANC-lede, veral in stedelike gebiede, is ook nie te opgewonde oor Zuma nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae