Nuuskommentaar: #toet se vreemde bedmaats

Vandag, kortstondig, wei die leeu en die lam saam, by wyse van spreke.

Hoewel Cosatu die massa-aksie teen die e-tolstelsel lei, is ook steun toegesê deur ander vakbonde, persone en instansies soos Julius Malema, die Vereniging van Staatsamptenare en Solidariteit.

Solidariteit en van die ander het dit egter ook duidelik gemaak dat hulle nie oor die kwessie van arbeidsmakelaars met Cosatu in solidariteit is nie. Die gemene deler is die regering se vasbeslotenheid om met die e-tolstelsel voort te gaan. Cosatu, in dié stadium, lyk asof dit ‘n magstryd met die ANC op ‘n spits probeer dryf.

Pres. Jacob Zuma, in ‘n skynbare poging om dissidente-optrede uit veral Cosatu se geledere die hoof te bied, het onlangs groter inbinding van vakbonde – lees die vakbondfederasie, Cosatu – in die ANC gedoen. Sekretaris Vavi is egter nie gister onder ‘n kalkoen uitgebroei nie, en het met ‘n ‘nee dankie’, sy relatiewe outonomie gehandhaaf.

Hoekom Malema, wat in die jongste ruk met Cosatu oorhoeks was en deels daardeur in die sop beland het, sy steun toesê is moeiliker om te verstaan. Die boodskap aan die land en die wêreld is doodeenvoudig: Oor die hele spektrum is ons nou keelvol vir pres. Jacob Zuma. Die e-tolstelsel bied die ideale geleentheid om ‘n weifel-president se bluf te roep, en om hom in die proses verder as weifelaar en swakkeling te verwond.

Om nou reeds met ‘n eindpoging te begin om aan die einde van die jaar met die ANC se nasionale kongres eerste oor die wenstreep te suiker, is ‘n berekende risiko. Dit vereis nog verskeie verbeeldingryke aksies deur die loop van die jaar, en minstens tot die implementering van die e-tolstelsel aan die einde van April, sê Cosatu het dié federasie, ‘n hele hoed vol kunsies.

Zuma gaan inderdaad ontdek om die aanslae op sy leierskap af te weer, sal hy vernuftig ‘n veelkoppige draak van kant moet maak. Om die jeugliga agter die fasade van outonomie te gaan boelie is een ding, maar om ‘n soortgelyke magsvertoon teen Cosatu van stapel te stuur is soos om ‘n kwaai hond aan sy skerp kant te probeer baasraak.

Zuma, wat lank alles vir almal probeer wees het, en wat hard gewerk het om rekenings te vereffen vir steun vir sy eie statutêre staatsgreep teen oud-pres Thabo Mbeki, vind nou dat hy min of meer niks vir almal was. Hy het hierop, soos die ANC se gebruik is, die rassekaart gespeel, maar die kaart van die hofnar getrek.

Op ‘n vreemde manier toon dié dag dat Suid-Afrikaners oor die rassegrense wel kan saamstaan, dat brûe nog gebou kan word. Dis uiteraard nie ‘n gesonde agtergrond waarteen hierdie simboliese handevat geskied nie, maar onder die omstandighede is dit dalk een van die laaste kanse voor polariteit hande uit ruk.

Hoewel die e-tol ‘n doring in die vlees is, is die aanslag, teen die agtergrond van komende hofsake daarteen, grootliks ‘n strooipop om skote southael op die gemeenskaplike probleem af te vuur… Zuma en sy eietydse edelliede.

In Zuma se poging om sy politieke lewe met raspopulisme nuwe lewe in te blaas, het hy ‘n politieke zombie geskep – een wat die grondwet bedreig, een wat die skeiding van magte nie begryp nie en een wat skynbaar selektief spiere teen korrupsie wys. Daar is groeiende ongemak oor die verleentheid wat die regeringshoof se veelwywery en owerspel vir die land skep. Christengroepe bly op die oorlogspad omdat die president nie sy voorliefde om godsdiens vir politieke punte te probeer insamel, laat vaar nie. Reageer die ANC te heftig, kan die land ‘n herhaling sien van wat in Zimbabwe gebeur het, waar Morgan Tsvangirai die vakbondwese uit Zanu-PF gelei en ‘n eie politieke party gestig het.

Omdat die protesoptrede moontlik ander uitkomste het, soos dat Cosatu en die ANC vrede maak, of Zuma ‘n ongewone oomblik van standvastigheid beleef en Cosatu soos ‘n stout brakkie onder die bed in jaag, beteken nie dat die optrede teen spesifiek die e-tol laat vaar moet word nie.

Toet dus tot Vrydag as u deur tolhekke ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.