Nuuskommentaar: Totale aanslag van die Mangaung-meesterplan

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Suid-Afrika sal binnekort weet of Gwede Mantashe en sy adjudante se Mangaung-meesterplan die ding gedoen het – om met ‘n totale aanslag pres. Jacob Zuma vir nog ‘n termyn in die ANC, en dus die land, se kussings te hou. Na wat berig word, het adjunk-president Kgalema Motlanthe besluit om sy nominasie te aanvaar om Zuma uit te daag. Die teerling is gewerp. Of soos in hedendaagse “Afrikaans” gesê word: “Game on!”

So erg woed die stryd dat die gewone Jan Publiek waarskynlik nie genoegsaam bewus is van uiters belangrike sake wat ook aan die bod kom nie, soos grondbesit.

Daar is nogal heelwat ooreenkomste tussen die Mantashe-plan, en die oorspronklike Mangaung-meesterplan.

In die 80’s, met dr. Piet Koornhof, ook bekend as Piet Promises die minister van Samewerking en Ontwikkeling – tong in die kies bekend as Sameswering en Ontnugtering – is ‘n meesterplan vir Mangaung opgestel. Destyds was “Mangaung” die naam van Bloemfontein se swart woongebiede, wat ook sy eie munisipaliteit en raad sou kry. Vandag is dit net ‘n dorpuitlegskema.

Die “skidderende” uitlegskema is deur van die land se voorste kundiges vir die Suid-Vrystaatse Ontwikkelingsraad opgestel, en is tydens ‘n glansgeleentheid met wye mediadekking aan die minister oorhandig. Min of meer alle ontwikkeling is gestaak tot die minister “binnekort” die dokument sou teken.

“Binnekort” het uitgerek begin raak, en moedelose amptenare het saans die meesterplan weer bo in die minister se pakkie geplaas vir ondertekening as eerste prioriteit die volgende oggend. Onrus het begin broei omdat alles stilgestaan het.

Die sluier word liefs getrek oor hoe dit gebeur het dat daar ingegryp, en die dokument oplaas geteken is.

Die Mantashe-meesterplan raak nie net Mangaung nie. Dit raak die land. Die keuses wat die afgevaardigdes moet maak, beïnvloed die vlakke van binnelandse polariteit, dit beïnvloed op die oog af vlakke van korrupsie, dit beïnvloed buitelandse persepsies en dus werksgeleenthede.

Die oorspronklike meesterplan het vooruitgang beloof. Die Mantashe-plan beloof stabiliteit vir die ANC – wat ‘n herhalende refrein oor die land heen geword het, maar wat moeilik is om in te dink dat Mantashe dit self kan glo.

Mantashe en sy ringkoppe het geen maklike taak gehad om so kort voor die kongres vir Zuma steeds as oorweldigende gunsteling gevestig te kry nie. Op Zuma se wagbeurt het Suid-Afrika op die wêreld se belangrikste indekse sleg agteruit geboer, en nog slegte nuus word binnekort verwag. In slegs twee jaar het Suid-Afrika 14 plekke op die korrupsiepersepsie-indeks agteruit geboer, word op die persvryheidsindeks deur sewe Afrikalande getroef, waaronder Tanzanië, is die kreeftegang op die vredesindeks gegaan en gee Sirië opdraande, en op die indeks vir mislukte state, bekend as die piesangerepubliekindeks, is daar al hoe minder teenstand om die twyfelagtige “bopunt” te bereik.

Die Burger het Zuma onlangs in ‘n hoofartikel as die “Pay as you go”-president beskryf, en Beeld het na die president  as “Zuma die swyger doof vir kritiek” verwys. Nkandlagate en verskeie onthullings, waaronder ‘n ouditverslag wat uitgelek het, het die persepsie verdiep van ‘n onverkoopbare produk.

Mantashe se totale aanslag het behels om Luthulihuis se ontplooide politieke kommissarisse in instellings soos die SAUK te aktiveer, waar sake so blatant verloop het dat klagtes by IKOSA gelê, en die SAUK se uitsaailisensie in teorie in die gedrang gekom het. Die openlike imbongi-spelery het daarna skielik plek gemaak vir groter subtiliteit deur Zuma in hoofsaak te noem as “bron” oor die siek oud-president Nelson Mandela. Positiewe assosiasie is ‘n ou bemarkingstruuk.

Heel “toevallig” word ‘n reuse beeld van Mandela vandag, vlak voor die kongres, in die hartjie van Bloemfontein onthul.

Van die wyses waarop skynbaar gekonkel is om stemvoorkeure vir Zuma te beïnvloed, het in die howe gaan draai, en die uitspraak van die Grondwetlike Hof oor die Vrystaatse proses word afgewag – ongelukkig sonder aanduiding of dit betyds sal wees. Indien dit nie betyds gaan wees nie, gaan dit, reg of verkeerd, ‘n swak lig werp op verhoorregters wat die dringendheidsaspek van die oorspronklike aansoek verwerp het.

Dit wil selfs voorkom asof Cyril Ramaphosa, ‘n Venda, afgestof is om onder meer Motlanthe, ‘n Noord-Sotho, in Limpopo self te fnuik. Motlanthe het die eerste rondte van die geveg, letterlike geveg, gewen. Daar word steeds erg kopgekrap oor die verdere rol, indien enige, wat Ramaphosa te speel het. Na Maroela die moontlikheid genoem het, is daar nou kwalik ‘n analis wat nie hoopvol die moontlikheid noem dat Ramaphosa na die kongres die rol van ‘n de facto eerste minister gaan inneem, en Zuma tot ‘n meer seremoniële rol beperk word nie.

Mantashe het skynbaar wel daarin geslaag om die onverkoopbare by die afgevaardigdes verkoop te kry, maar teen ‘n ontsettende prys. Peilings toon dat Zuma nou onder gewone ANC-lede minder steun het as Motlanthe, en indien dit wel so is, gaan dit van volgende jaar af sake vir die ANC bemoeilik. Daar is selfs sterk sprake van ‘n skeuring. Nog ‘n persepsie is dat die DA besonder baie kan baat by Zuma se herverkiesing, terwyl Cope self voetwerk doen om vir nog ontgogeldes ‘n tuiste te bied.

Buite die ANC het daar ‘n wye persepsie posgevat dat die land Zuma doodeenvoudig nie kan bekostig nie. Trouens, baie beskou die moontlike herverkiesing van Zuma as ‘n nasionale ramp.

So erg het die kritiek en die substansie daarvan geword, dat ‘n paar van die vernaamste stratege se senuwees gevou het. Dr. Blade Nzimande het selfs vir wetgewing gevra wat die “belediging” van die president strafbaar sal maak – ‘n oproep te midde van Verslaggewers Sonder Grense se evaluering van Suid-Afrika se nuwe plasing op die persvryheidsindeks vroeg aanstaande jaar. En Verslaggewers Sonder Grense is juis erg onlekker oor die snoerwetgewing waarmee die ANC hardkoppig voortstu.

Nou het Mantashe se senuwees klaarblyklik geknak na ‘n groep kerkleiers die ANC oor moraliteit aangespreek het. Dit was klaarblyklik ‘n aanval uit ‘n oord waarop Mantashe nie gereken het nie. Daar was tevore ook uit kerklike geledere skerp kritiek teen Zuma se volgehoue onvanpaste godsdiensuitlatings wat deur baie Christene as godslasterlik beskou is. Die drie Afrikaanse susterkerke het selfs ‘n gesamentlike verklaring uitgereik en dit gekritiseer. Die AGS en ‘n spektrum ander kerke het dieselfde gedoen.  Die NG Kerk het selfs gewaarsku sou Zuma daarmee voortgaan, sal lidmate versoek word om nie vir die ANC te stem nie. Toe dit wel weer gebeur, het die kerk egter nie met sy voorneme deurgedruk nie. Die VGK het selfs so ver gegaan om sy lidmate te versoek om nie ANC te stem nie, ‘n versoek wat stil-stil die wyk geneem het.

Destyds het Zuma hom nie aan die kerke se oproepe gesteur nie. Hoekom is Mantashe nou so ontstoke? Doodeenvoudig omdat die kritiek nou uit die oord  van biskoppe en instansies kom wat baie lidmate het wat die ANC steun. Dit is ‘n duidelike demonstrasie dat Mantashe se totale aanslag nie foutloos afgeloop het nie.

Hoewel die hooffokus heel verstaanbaar op die leiersverkiesing val, is belangegroepe soos Agri SA en TLU-SA, banke en die sakesektor, baie bewus daarvan dat daar waterskeidende sake op die tafel is. Die TLU-SA som waarskynlik die sentimente wat Agri SA en die AHI uitgespreek het die beste op: “TLU-SA wil hom aansluit by kerk- en bankleiers wat die ANC waarsku oor radikale beleidveranderings by sy komende konferensie. ‘Waarskuwings in dié verband is nie kwaadwillig, soos die ANC nou beweer nie, maar in belang van die land en al sy inwoners. Die ANC moet nou politieke volwassenheid bereik en besef dat hy ’n verpligting het teenoor alle landsburgers. As regering moet hy vir ’n slag verantwoordelik word en die ekonomiese realiteite in die oë kyk in plaas daarvan om net sy sigbaar mislukkende ideologieë te wil deurdruk, ten koste van die land’.”

Om bloot te aanvaar dat daar weer, soos met die Pholokwane-kongres, besluite geneem gaan word wat in die praktyk op die rakke stof vergaar, is optimisties. Vakbonde en ander instansies wat hul wense as kongresbesluite laat realiseer, het lang geheues en daar sal juis met dié kongres harde vrae wees oor die vorige besluite.

Die hartseer is dat die hele aangeleentheid die gees adem van ‘n eenpartybedeling. Binne hierdie kongres is die regering van die dag en die opposisie wat hy die ernstigste opneem, alles in een saamgevat.

Nog iets wat aan ‘n diktatuur herinner is berigte dat ‘n keur van intelligensie-offisiere by die kongres ontplooi is om Zuma-teenstand uit te snuffel en te rapporteer.

Die illusie word volgehou dat alles in die kongres gekoöpteer is – van die sakelui tot die arbeid tot die kerke deur die godsdienslessenaar. Daar is selfs hard gewerk daaraan om die statuur van Marius Fransman te bou om die illusie te skep dat die bruin gemeenskap, te midde van erge diskriminasie, moet voel dit is ingebind. Selfs die blapsende Tina Joemat-Pettersson is uit feitelike obskuriteit afgestof.

Die Afrikaner se “ons sal jul stem wees” bly steeds ‘n baie stil stem, inderdaad.

In die agterkop, hoopvol, bly die realiteit dat die stemme vir die leierskap geheime stemme is. Net dalk boemerang die totale aanslag.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae