Nuuskommentaar: Tshwane, Pretoria en kulturele vandalisme

“Die verandering van Pretoria se naam sal gesien word as ʼn daad van kulturele vandalisme wat vyandskap en polarisasie sal meebring tussen die owerheid en ʼn groot deel van die stad se inwoners.”

In dié paar woorde van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die kwessie rondom die pleknaam, Pretoria, baie goed opgesom.

Hoewel net Pretorianers oor die voorgestelde naamsverandering geraadpleeg word, is Pretoria ook die land se administratiewe hoofstad. Dit speel in veral die nasionale Afrikanerkultuur ‘n belangrike rol, en daarom is dit ook ‘n nasionale kwessie wat nasionaal die emosies opjaag.

Sedert 1994 is plekname, en ‘n getorring daaraan, van die belangrikste polarisasiedrywers in die land. Anders as ander kompromieë wat in die grondwet beslag gekry het soos die volkslied en amptelike tale, word die rol van plekname as bydraer tot versoening nie as wet van die Mede en Perse in grondwetlike graniet geniet nie.

Daar is nietemin ‘n omvangryke proses wat statutêr deurloop moet word. Dit behels onder meer dat die feitelike begronding deeglik getoets moet word. Maar in ‘n heterogene land soos Suid-Afrika is daar oor selfs die geskiedenis weinig konsensus, soos wat gereeld in die kwessie van grond opduik waar opnames toon dat by verre die meeste swart mense glo wit mense hul grond bekom deur dit van swart mense af te vat. ‘n Poging van dr. Pieter Mulder om in die parlement ‘n objektiewe geskiedenisles aan te bied is erg onvars ontvang en het lank opslae gemaak.

Saam met Tshwane word ook die woord Mangaung nou dikwels ingespan, en beide name is in historiese omstredenheid gedompel. Oor die herkoms van die naam “Tshwane” verskil mense uiteenlopend, en ‘n standbeeld is al selfs van ‘n hoofman Tshwane gemaak hoewel die konvensionele geskiedenis taai is genoegsame bewyse te lewer dat hy ooit bestaan het. ‘n Ander weergawe is dat Tshwane afgelei is van ‘n bees wat in die omgewing van die Wonderboom in die natuur vrygelaat is om dit te laat reën.

Prof. Peter Raper van Bloemfontein, wat internasionaal hoog aangeslaan word as kenner van inheemse plekname, meen egter beide Tshwane en Mangaung vind hul herkoms in eertydse KoiSantale.  In ‘n onlangse referaat het hy daarop gewys hoe selfs sommige Afrikaanse plekname, soos Duiwelspiek en Hoedjiesbaai vervormings van die oorspronklike KoiSan-woorde was.

Die woord, Mangaung, sou “Plek van die (groot) katte” beteken, maar benewens “ung” as plekaanduiding herlei dit nie lekker terug na Suid-Sotho nie. Om die woord aan Suid-Sotho te koppel, veroorsaak ook dat die naam Bloemfontein ouer as Mangaung is, omdat onder meer die historikus Theal McCall die naam gebruik voor die Suid-Sotho’s die gebied bereik het. Volgens McCall is die naam ontleen van ‘n Koranna-hoofman, Jan Bloem, uit ‘n era voor die Brits-egpaar aan die fontein gevestig het.

Akademici en belangegroepe wat hulle beywer vir die behoud, en selfs herstel van die ou, inheemse name, hou gereeld wêreldwyd simposiums, en het as spesialisveld ontwikkel. In sekere dele van die land, soos die Vrystaat waar daar ‘n tussenkoms van Korannas en Griekwas was, is baie plekke se ou KoiSan-plekname vandag bekend. Minstens twee San-plekname vir Kaapstad is ook bekend, waarvan die minder bekende naam wat na die talle stroompies verwys, boonop baie mooi op die oor val.

Baie min hiervan het egter selfs in ‘n vervormde vorm na vandag oorleef.

Of die ANC besonder gretig sal wees om Pretoria ‘n naam te gee wat uit ‘n vroeëre KoiSan-woord vervorm het, is nie so duidelik nie.

Dit toon hoe belangrik die veronderstelde kompromis bly – dat plekname behou word tensy daar baie goeie redes is waarom dit verander moet word, soos name wat die “k”-woord insluit, en die munisipale strukture dan ‘n ander naam dra. ‘n Of-of-benadering sluit dadelik een groep uit, en reduseer daardie groep tot derdeklas-burgers. In die proses om straatname in Pretoria te verander, het ook die naam van Sarie Marais wat diep in die Afrikanersentiment ingebed is, se pa, Jacob Maré, in die slag gebly.

Pragmatisme is ook belangrik. Die verandering van Pretoria se naam gaan na raming sowat R1,5 miljard kos.

Die naamsveranderingsproses, veral as ‘n fiktiewe geskiedenis opgediep word, druis in teen die grondwetlike gees van versoening – ‘n vereiste wat kompromieë vereis. Word die kompromie misken soos om die plek- en struktuurname dieselfde te maak ten koste van een of meer groepe se erfgoed, word die hele grondslag van die grondwet in die tande geskop.

Dit sloop die posisie van diegene wat die land se toekoms wil bou op ‘n veronderstelde goeie grondwet, en verskaf timmergoed aan diegene wat die grondwet as ‘n mislukking beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.