Nuuskommentaar: Tutu en laertrekkery

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu. Foto: Ilan Godfrey/Templeton Prize/SAPA

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu se stelling dat hy voortaan nie sy kruisie by die ANC sal trek nie, het groter implikasies as wat dit op die oog af lyk. Plaaslik maak dit deel uit van ‘n skynbaar groter wordende stroom swart elite wat, in die woorde van Kovsies se kanselier, dr. Khotso Mokhlele, “die agteruitgang om ons” voor die deur van die ANC begin lê. Internasionale, en in besonder sekere lande, word Tutu en oud-pres. Nelson Mandela in bykans dieselfde asem as ikone beskou, en het Tutu se artikel ongeveer dieselfde impak as sou Madiba self gesê het hy onttrek sy steun aan die ANC.

Tutu se assosiasie met die ANC as die organisasies se de facto kapelaan het baie ongemak bedek. Vroeg vanjaar het pres. Jacob Zuma nog ‘n gegons in die buitelandse pers op tou gesit deur aan te kondig dat hy Tutu gaan nader om ‘n nasionale reinigingseremonie te lei – ‘n versoek wat toe nooit aan Tutu gerig is nie.

Ook onder die bruin intellektuele is daar voetwerk om die impak van die ANC se bewind op die bruin gemeenskap te verwerk, en opnuut in intellektuele woorde te giet. Die ou “afskortings” om na bruin mense as swart te verwys, gaan by ‘n groot deel van die publiek net nie op nie, soos onderstreep deur Solidariteit se hofsaak teen die DKD.  Daar word selfs na die reaksie hierop as ‘n laertrek-mentaliteit verwys. Daar is selfs pogings om Solidariteit te verkwalik, asof Solidariteit die saak “onnodig” en selfs moedswillig op ‘n hofsaak eerder as politieke oplossing laat uitloop het (en so sake vir die ANC bemoeilik). ‘n Enorme onkunde oor die aanloop tot die saak word in die proses openbaar.

Die herverpakking van bruin intellektuele se opvattings oor swart wees en transformasie, het egter nie met die hofsaak begin nie, maar is reeds op ‘n spits gedryf met die regering se vreemde reaksie op die Jimmy Manyi-uitlatings oor “oorverteenwoordigende” bruin mense in die Wes-Kaap. Die fokus op African Africans het hierna skerp ingeskop.

Wat die kritiek op die ANC uit die swart en, tot ‘n mate, bruin elite betref, klink dit in woorde en voorbeelde dikwels na ‘n georkestreerde klimaatskeppingsaksie, in der mate dat plek-plek bespiegel word dat dit deel van Agang se voorbereiding vir volgende jaar se verkiesing is. Of baie van hierdie “betrokkenes” voor aanstaande jaar se verkiesing “uit die kas sal kan klim” sal in die lig van universiteitsubsidies en verwante aangeleenthede nog gesien moet word.

Daar is ‘n ander moontlikheid, naamlik dat die “opstand” teen die ANC of die gevolge van sy regeervermoë eerder teen Zuma as teen die ANC self gemik is. Die DKD-hofsaak kon byvoorbeeld baie maklik vermy gewees het as die minister van Korrektiewe Dienste haar departement wat die absurde nasionale kwotastelsel  op provinsies soos die Wes-Kaap en Noord-Kaap toepas, as buite orde verklaar het (soos onder meer deur Cosatu en ander in die ANC-alliansie gestel word). Of as Zuma sy minister sou opdrag gee om die beleid te skrap.

‘n Deel van die kuns van politieke uitsprake is nie net wat gesê word nie, maar net so belangrik wat nié gesê word nie. Dit maak interessante leesstof uit om te sien watter partye gereeld op plaasmoorde reageer, en watter onverwags stil is hieroor. In die woorde van die leier van ‘n nie-rassige party wat geweier het om sy naam te koppel aan ‘n mediaverklaring oor ‘n plaasaanval wat reeds ir hom voorberei is, “as ek plaasmoorde veroordeel sê die ANC ek is ‘n wit meeloper.” Dit is maar een voorbeeld.

Die Solidariteit-DKD-hofsaak  is nog ‘n voorbeeld waar sommige partye hoop hul stilswye gaan ongemerk verby, omdat hulle besef die ANC maak van die komende verkiesing ‘n rassesensus, en peilings toon dat sienings oor neo-apartheid drasties volgens ras verskil.

Tutu het ewe-eens in sy bekendmaking dat hy nie weer ANC gaan stem nie, sy houding oor sleutelkwessies verswyg.

Om dit wat Tutu gesê het, werklik te kan beoordeel is dit nodig om die volledige teks te gebruik, soos in die Mail & Guardian weergegee. Hieruit blyk dit dat sy stelling teen die konteks staan van die naderende einde van Mandela, en dat hy kritiek het op die huidige leierskap van die ANC. Hy meen dat die ANC wegbeweeg het van die ideaal dat almal in die land, ongeag ras, tuis in die land sou wees. Dit is moeilik om te bepaal of hy die DKD-saak in die oog het.

Sy artikel sou egter ook in sekere kringe erg aanstoot gee. Hy meen naamlik dat die ANC ‘n puik bevrydingsbeweging was wat sukkel om die sprong tot ‘n politieke party te maak. As iemand wat as sinoniem met die Waarheids- en Versoeningskommissie beskou word en internasionaal geloof word vir sy rol in versoening, soos sy Nobel-vredesprys getuig, was dit onsensitief om onnodig ‘n stryd goed te praat wat talle rede dade van terreur opgelewer het, en waaraan die ANC ruimskoots deel gehad het.

Dit dan, wat Tutu betref.

Die wye kritiek uit ANC-geledere op die Gupta-sage skep egter die indruk dat Zuma self binne die ANC onder druk geplaas word. Die Openbare Beskermer se Nkandla-verslag is volgens aanduidings ook nie te ver in die verskiet nie. Die manier waarop Zuma sy senior adjudante en die SAUK-TV geparadeer het om Mandela vir entoesiastiese steun vir die ANC op te vorder, het diep houe in die ANC geslaan. Die SAUK-TV se inbongi-spelery vir Zuma boemerang ook – in ‘n jongste laagtepunt is ‘n foto van Zuma vertoon met die onderskrif, “His Excellency, Pres Jacob Zuma.” Dis ‘n praktyk wat reeds tydens die vorige bedeling geskrap is, en word nou geassosieer met karikature soos Idi Amin Dada, waar die arme Oegandese media baie ruimte moes inspan om hierdie soort titels, saam met ander selftoegekendes soos “doktor” en “veldmaarskalk” in dieselfde berig in te span.

Was daar, soos wyd bespiegel is, ‘n ooreenkoms dat Zuma na die Mangaung-konferensie in Bloemfontein ‘n meer seremoniële rol as staatshoof sou opneem met Cyryl Ramaphosa as ‘n tipe uitvoerende eerste minister? Indien wel, het Zuma dan sy woord verbreek en lustig voortgegaan met uitlatings en optredes wat die land enorme skade berokken het? En indien wel, word die skroewe nou vasgegedraai?

En as daar so ‘n ooreenkoms is, het dit bepaal dat Zuma se onttrekking uit die uitvoerende posisie geleidelik en hopelik onmerkbaar sou geskied?

Om van Zuma ontslae te raak, of selfs net op ‘n opsigtelike wyse na die kantlyn te rangeer, is skynbaar nie ‘n opsie nie. Zuma het enorme steun, weliswaar onder ‘n deel van die kieserskorps wat, in die woorde van Tutu,  met hul harte eerder as koppe stem: “Very many people are really voting with their hearts rather than their heads. Emotionally, you need a real turnaround to get them to see that when you vote for a political party you are voting for its policies. It is no longer something you can base on the emotional links we had with the people who strove for our freedom.”

Die ANC wil met die komende verkiesing sy twintigste jaar aan bewind met ‘n indrukwekkende oorwinning vier, en syfers van tot ‘n 80% in sekere dele soos die Vrystaat word van politieke verhoë verkondig. So ‘n oorwinning kan egter nie op die meriete van regeervermoë behaal word nie, en ras, soos die klem op grondhervorming, word ingespan.

In sekere kringe word die koor luider, om ‘n ou uitdrukking aan te pas, dat die ANC nie hervorm kan word nie, dit moet verslaan word.

Intussen gaan die ANC voort  om nie net die dinamika van ‘n eenpartystelsel te bedryf nie, maar ook een waar die land nie vanuit die parlement en Uniegebou regeer word nie, maar vanuit Letulihuis.

En so gaan nepotisme, magsmisbruik en korrupsie nie verbreek word nie.

So gaan die ideale wat nou weer in  die beraad van die Wêreld Ekonomiese Forum vir Afrika uitgespreek is, net ideale bly.

Volgens ingeligtes is daar ‘n kabinetskommeling onderweg. Indien dit so is, sal heelwat afgelei kan word oor in watter rigting die ANC met die land mik. Daar is naamlik ruim geleentheid om die kabinet aansienlik te verklein, en so van onbekwame ministers ontslae te raak sonder dat te veel institusionele kundigheid nie oorgedra word nie. Geoordeel aan die styl tot dusver is ‘n verkleining van die Kabinet hoogs onwaarskynlik, en sal die hersamestelling lig werp op die vraag of Zuma besig is om sy posisie te verstewig. Gaan daar nou plek gemaak word vir Ramaphosa, of gaan Ramaphosa ‘n belangrike rol moet bly vervul om die land vanuit Letulihuis te regeer? Kan die kabinetskommeling ‘n aanduiding gee dat die gedagte dat geen burger soos ‘n vreemdeling in sy land mag voel nie, ‘n haalbare opsie is?

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Lizette ·

Ek wonder hoe lank dit nog gaan neem voor almal besef dat Apartheid nie meer die skuld kan kry nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.