Nuuskommentaar: Twee woordfeeste om goeie nuus te bring – Maties en Cites

Twee “woordfeeste” begin vandag – die Woordfees wat in Stellenbosch gehou word, en die Cites-konferensie wat vandag in Thailand begin. Die wêreld wat omgee hou egter styf duime vas dat die Cites-beraad nie net woorde sal oplewer nie, maar daadwerklike optrede sal hê om bedreigde spesies van uitwissing te vrywaar.

Na afloop van die Stellenbosse Woordfees sal stellig vele uitsprake kom wat lui dat Afrikaans nie bedreig word nie, en inderdaad lewe.

Uit Bangkok gaan die nuus minder goed wees – talle diere- en plantspesies word steeds bedreig weens die mens se gierigheid.

Suid-Afrika se beeld gaan weer erg geknou word. Suid-Afrika het reeds ‘n geelkaart gekry weens die renosterslagting wat onverpoos voortduur. In elke vooruitskouing van die beraad word berig dat 668 renosters verlede jaar in Suid-Afrika gestroop is, en dat daar vanjaar reeds ‘n 100 ter wille van hul horings doodgemaak is.

En Suid-Afrika kan nou weer ‘n slag doen met goeie buitelandse nuusdekking. Vrydag het die beker vir ‘n paar van Maroela se bakkiesblad-lesers oorgeloop wat gekla het oor die baie slegte nuus waaroor berig is. Ironies het die berig gehandel oor iets in Meksiko – ‘n 13-jarige vermeende huurmoordenaar wat glo tien mense uit die lewe gehelp het wat selfs gemartel en vermoor is. Aan die ander kant, dié berig was daarna lank die gewildste berig by Maroela-lesers.

Maar ‘n Suid-Afrikaanse nuusmedium wat weens gevoeligheid oor baie slegte nuus kopsku sou wees om oor sekere sake te berig, sou volstruispolitiek bedryf, en gou geloofwaardigheid verloor. Die afgelope ses maande was die “woordfees” oor Suid-Afrika enorm en het die land erg deurgeloop in die buitelandse nuusmedia, onder meer oor die Marikana-skietery, die herverkiesing van pres. Jacob Zuma tot ANC- en dus landspresident, pres. Zuma se honde-uitlating, die Oscar Pistorius-sage, die donkievleis-sage en toe die polisie se sleepvoorval van ‘n Mosambiekse burger. Lesers kan hier lees hoe die land hieroor en oor ander insidente die Google-trefslae versamel het. Die Pistoriussaak (met trefwoorde Pistorius saam met Reeva) met 80 miljoen trefslae en die sleepvoorval met ‘n blitsige 28 miljoen trefslae het kop en skouers uitgestaan.

Terwyl die buitelandse pers rojaal oor die donkievleis berig het, kon hulle nie vrek of donkievleis vreet oor Lawwe Lulu se bisarre opmerking oor Afrikanermans en hul Calvinisme nie.

Maar die renosterslagting in Suid-Afrika is die afgelope paar jaar een van die mees konstante negatiewe media-onderwerpe oor die land in die buiteland, met bykans een en ‘n half miljoen Google-trefslae.

Met die buitelandse beriggewing oor die komende Cites-kongres val die fokus gelukkig vir Suid-Afrika op die gasheerland en sy rol in die wêreld-ivoorhandel. In Thailand is ivoorhandel wettig, en as ivoor eers in daardie land is, word die spoor skoongewas. Die Wêreldnatuurfonds se afvaardiging bring ‘n petisie met ‘n halfmiljoen handtekeninge saam om aan Thailand se regering te oorhandig. Elke jaar word sowat 30 000 olifante in Afrika vir hul ivoor gestroop. Tog word China as ‘n nog groter sondaar in die onwettige ivoorhandel beskou.

China word egter nie in RSG se berig genoem onder die lande wat sanksies weens die ivoorhandel te wagte kan wees nie. Thailand, Nigerië en die DRK word genoem.

Benewens die olifante en renosters is daar nog 68 voorstelle wat vir oorweging voorgelê word. Van die voorstelle sluit die beskerming van haaie in (tot soveel as 100 miljoen haaie word jaarliks van kant gemaak), 200 houtspesies en ysbere in die besonder en bere in die algemeen.

Hoewel Suid-Afrika ook suksesse behaal in die stryd teen renosterstropery, is dit ‘n veel komplekser kwessie as bloot die vang van stropers. Die streng beheermaatreëls waaronder wettige eienaars is, wat die groot kostes aangaan,  verhoog die waarde van renosterhoring in die swart mark en dit stimuleer die stropery. Daar is dus groot druk op die regering om ‘n mate van handel te wettig sodat die regte mense  – hulle wat die renosters bewaar en laat aanteel – die inkomste kry en so die swartmark en stropery knou.

Dit sal egter nie sonder die instemming van Cites kan gebeur nie.

En dan is daar die kwessie van korrupsie. Sodra korruptes iewers in die proses betrokke raak – en hulle is – dan is dit moeilik om sinvolle planne te maak. Dawie van Die Burger stel dit bloot as gegewe dat korrupsie in Suid-Afrika ‘n lewenswyse geword het.

Intussen kan lesers gerus wees dat sou daar enige positiewe nuus uit die “woordfeeste” opduik, die meeste media op elke brokkie goeie nuus sal toesak.

Anders as wat die indruk is, ís daar ook goeie nuus, soos Solidariteit se geslaagde interdik teen die polisie se aanstellingsbeleid.  Dié berig, saam met die berig oor ‘n koerantverkoper wat vir dapperheid vereer is, tel vanoggend onder Maroela Media se tien gewildste berigte.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae