Nuuskommentaar: Twiet-twiet, in die voet geskiet

Die afgelope paar dae het verskeie binnelandse nuusgebeure om kommentaar en ontleding geroep. Daar is ʼn storm om die kop van luitenant-generaal Richard Mdluli waar dié stekelrige uitryg nog nie end se kant toe staan nie, voorgestelde wysigings aan die inligtingswetsontwerp met nog genoeg angel oor, twee modelle wat die land se ore met hul twiets laat tuit het, ʼn gesprek van die ANC met meningsvormers uit die Afrikaanse gemeenskap, met die boikot deur onder meer die FAK en Solidariteit wat waarskynlik meer nuuswaardig was die gesprek self, en ʼn woordestryd tussen die DA en Cosatu wat op verskeie vlakke uitslaan.

Voorts het oud-president FW de Klerk in ʼn onderhoud met CNN aspekte van die tuislandbeleid geopper wat op nou so ʼn manier aangebied word dat dit ook ʼn storm veroorsaak.

Elkeen van hierdie onderwerpe is uiters belangrik. Die DA-Cosatu-stryd roep byvoorbeeld na ʼn antwoord oor wie die land se werklike opposisie is – die DA, of Cosatu?. Die antwoord sal as koorspen dien oor die stand van veelpartydemokrasie.

Die Mdluli-sage dien weer as barometer oor onbehoorlike politieke inmenging, en die geloofwaardigheid van die skarrellende politici. Die hele sage om die samesprekings met die ANC is tekenend dat die boer se moermeter nog in die rooi loop. Dié wat nie die gesprek geboikot het nie, het die ANC meegedeel dat die regering sy sokkies sal moet optrek. Nog kwessies wat die moermeter gaan stook is dat die ANC se sekeretaris-generaal, Gwede Mantashe, in ʼn onderhoud niks van minderheidsregte wou weet nie, en dit op die een of ander manier na wit bevoorregting herlei.

En vir oulaas span dr. Piet Croucamp, een van die gespreksfasiliteerders, die teerkwas in om na die Afrikaner te verwys. Hy skryf onder meer: “Ek is oortuig daarvan dat Afrikanerskap so uitgedien is soos ’n rooksein en dat Suid-Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners, soos die land beter daaraan toe is sonder Julius Malema.” (Lees artikel in Rapport hier)
)

Die modelle se getwiet trek egter ʼn buitengewone aandeel van die nuus. Hulle is beide jonk en dat juis hulle die wag voor die vingers vergeet het, dui aan dat rasprobleme in die land steeds diep loop, 21 jaar na die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder is.

In RSG se program, Kommentaar, het die deelnemers ook geoordeel dat die klimaat nog lank nie reg is dat FW die kwessie oor die tuislandbeleid klinies kon aanspreek nie. As ʼn gesoute politikus en opgeleide regsgeleerde soos FW sake op ʼn manier kan stel wat as ontstellende pakket aan die wêreld voorgehou word, watter kans het twee modelle en ander jong Suid-Afrikaners om slaggate te vermy wat dikwels dateer uit ʼn era voor hulle nog gebore is?

Dit is dikwels juis die jongelinge wat met ontsaglik potente kommunikasie-instrumente in die hand toegerus is – hulle twiet en benut die kuberruim op ander maniere. Dis instrumente wat ʼn sleutelrol in die Arabiese domino-revolusie gespeel het.
Dit is egter nie net die jongelinge wat twiet nie. Die DA-leier, Helen Zille, het groot aandag getrek toe sy in ‘n twiet na mense wat uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap stroom as vlugtelinge verwys het. Sy is vanuit ANC-geledere erg hieroor verkwalik.
Skaars het die voorlopige bevindings van die Openbare Beskermer oor ʼn kommunikasietender in die Wes-Kaap uitgelek, of joernaliste en ander politieke leiers onthou sy het getwiet dat sy sal bedank as daar ongerymdhede sou blyk.

Die benutting van die kuberruim is ʼn relatiewe nuwe verwikkeling in die mensdom se kommunikasie-arsenaal. Paslike protokolle en wetgewing ontbreek nog dikwels, wat ʼn groot ruimte laat aan kuberswyne om dié tegnologie in te span om, verskuil agter skuilname, die teerkwas vir erge vitrioel in te span. So iets sal uiteraard nie lank in ʼn land met ʼn sin vir geregtigheid geduld word nie, en wêreldwyd neem die vervolging van die kuberswyne toe. Van hulle het selfs al tronkstraf op die lyf geloop.

Presies hoe laakbaar die kubervitrioel kan daal blyk daaruit as ʼn “debat” in die kuberruim losbars waarin mense wat hulself Christene noem oor geloofskwessies mekaar so bydam dat die eertydse Inkwisisiedrywers sou kon kom les neem.
Die kuberruim het egter gekom om te bly, en dit maak die wêreld moeilik om inligting te smoor. Dit behels inligting wat die owerheid om die een of ander rede van die publiek wil weerhou, of inligting wat selfs ʼn wetlik vrye pers weerhou wanneer daardie inligting nie ʼn politieke agenda pas nie, en selfsensuur toegepas word. Dit plaas in die gewone mens se hande iets wat veel magtiger as die swaard is.

Twiet, twiet, jou reputasie is tot niet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.