Nuuskommentaar: Vaderlandtrots en die kuberruim

Die Proteas het pas hul posisie as die beste toetskrieketspan ter wêreld verder gekonsolideer deur op oortuigende wyse met Pakistan af te reken. Die reeks is met drie toetse teen nul gewen, en boonop het die besoekers in al drie toetse die kous behoorlik oor die kop gekry. Media-opskrifte basuin ‘n land uit wat swel van die trots…

Suid-Afrika is lank nie die enigste land waar die fynskrif dalk meer as die koerantopskrifte verklap nie. En die fynskrif (leserskommentare) in die kuberruim weerspieël van die sportveld af dikwels nie ‘n beeld van vaderlandtrots nie.

Met Oscar Pistorius se borgaansoek het baie Suid-Afrikaners ‘n belewenis gehad van die impak en krag van die sosiale media. En as ‘n reël straal die sosiale media nie altyd dieselfde boodskap uit as die gedrukte media nie.

En daardie sosiale media kan regerings op ‘n streep laat tuimel, soos wat met die Arabiese domino-rewolusie gesien is. Nie een van die lande wat geraak is, het ‘n enigsins aanvaarbare posisie op die persvryheidsindeks beklee nie, maar daar is doodeenvoudig om die staat se houvas oor die media getwiet dat dit klap, en die burgers het ander boodskappe gekry as dit wat die staat wou hê hulle moes kry.

Die sosiale media ken in die reël nie iets soos politiek-korrekte persepsies nie, dit is selde gebind aan die gevestigde konvensies en belange. Dit haal die lelike suster uit die kas, en gee haar ‘n naam.

Die sosiale media kan egter nie onder een kam geskeer word nie.

Die sosiale media bied egter soos selde tevore die geleentheid dat dit wat wyd onder ‘n land se mense posvat, in die fynskrif neerslag vind. Dit geskied aan die een kant deur ‘n getwiet, bakkieblad-inskrywings, menings op persoonlike kuberkolle, en ‘n stroom kommentare by nuusberigte op omtrent al wat nuus-webblad is.  Baie van hierdie instellings pas ‘n soort sensuur toe om dit wat darem te verregaande is, te verwyder, maar dikwels is die vloed van sulke kommentare net te groot en is dit moeilik om by te hou. Van die groot media het al die handdoek ingewerp en die kommentaarfunksies opgeskort.

Dit is in hierdie fynskrif wat ‘n groot mate van onverdraagsaamheid dikwels ontstig, en waaruit ander persepsies dikwels blyk. Baie hiervan is die werk van muggies wat hulself as olifante voordoen (deur byvoorbeeld onder verskillende skuilname die indruk van baie te probeer wek), en dit is dikwels moeilik om te bepaal hoe wyd verteenwoordigend dié menings is.

Elkeen wat die sosiale media se indrukke probeer monitor sal weens die omvang daarvan verskillende antwoorde kry. In Suid-Afrika is daar egter ‘n paar sake wat dikwels uit leserskommentare blyk, en selfs gevorm word.

–       Polarisasie: Bykans enige saak wat onder bespreking kom, word na die rassekwessie herlei. Daar is gereelde opmerkings, met ‘n stroom wat saamstem, dat wit en swart by die regering / die media nie dieselfde behandeling kry nie.

–       Lojaliteit: Baie dikwels word ‘n landtrots deur kommentare gelyk gestel aan ondersteuning van die regerende party, en die media / skrywers hiervoor erg verkwalik. Terme soos verraaier is nie ongewoon nie.

–       Swartgalligheid. ‘n Skrywer wat dit durf waag om te noem daar is iewers ‘n silwer randjie word in kras taal aangespreek.

–       Blindheid vir feite: Dikwels stem ‘n kommentaarskrywer volmondig met ‘n artikel saam, en gaan doen dan presies waarteen die artikelskrywer waarsku. In die Oscar Pistoriussaak is baie dikwels nagelaat om die “na bewering” by te voeg, wat onder bepaalde omstandighede tot enorme siviele eise kan lei.   En hieroor was talle artikels en vermanings.

En nee, dit is nie net wit mense / Afrikaanssprekendes wat hulle aan die negatiewe skuldig maak nie. Veral op die webblaaie van Engelse nuusdienste, waar ‘n groter spektrum mense deelneem, kan die verskille in persepsies dikwels met ‘n mes gesny word.  Die veroordelende taal van weerskante kan nie anders nie as polariserend inwerk.

Kortom, dit ontaard dikwels in onsmaaklike “debatte” tussen wit en swart, en verklap die “likes” hoeveel steun sekere persepsies (wat dikwels beide feitelik verkeerd is) elke “groep” geniet.

As in gedagte gehou word dat daar nog minder as twintig jaar gelede staatsdepartemente was wat verbete wal gegooi het daarteen dat hul amptenare rekenaars mag gebruik, onder meer omdat dit die nodigheid van ‘n tikpoel in gedrang bring, en algemene toegang tot die internet eers daarna gekom het, is dit ‘n duiselingwekkende gedagte waarheen die kuberruim onderweg is.

Aan die een kant bied dit ongekende ruimte vir menings en inligtingsvloei, maar aan die ander kant word dieselfde tegnologie ingespan waar die owerheid ‘n behoorlike “big brother”-rol kan inneem sodat dit eintlik benouend raak. Misdadigers vind allerlei maniere om “wettig” geld uit ander se bankrekenings te trek, met talle bankbestuurders wat magteloos die skouers optrek.

In gister se Rapport noem Tim du Plessis ‘n sensitiewe kwessie by die naam. Dr. Maphela Rmphele het die politieke toneel betree, en terwyl die ontleders nog kopkrap oor die implikasies en betekenis, skryf Tim: “Ramphele is ook nie die antwoord op sommige wit mense se versugtinge dat hulle meer erkenning moet kry en meer ­geborge moet voel in die hedendaagse Suid-Afrika nie.

“Agang, haar “partypolitieke platform”, gaan nie oor wit mense nie. Dít het daardie geweldige hoed en die tradisionele Xhosa-uitrusting beduie waarmee sy Maandag die podium in die ou vrouegevangenis op Grondwet­heuwel in Johannesburg bestyg het. Swart mense moet hou van haar klere, nie wit mense nie.

“Niks wat sy sedertdien gesê het, gee enige aanduiding dat Ramphele gretig is om wit mense, en ander sogenaamde minderhede, se stemme te oes nie.”

Maar dit is geen swartgallige beskouing nie. Hy begin immers sy rubriek met: “Die verskyning van dr. Mamphela Ramphele aan Suid-Afrika se politieke sterrehemel is ’n stukkie lekkerkry.”

Die Afrikaner, om ‘n behoorlike plekkie in die son in ons vaderland te vind en vestig, kan dit nie deur  negatiwiteit en swartgalligheid vermag nie.

Gister is die volkslied van die Republiek van die Oranje Vrijstaat gevier, wat twaalf jaar na die Bloemfontein Konvensie en die stigting van die republiek aanvaar is.

Baie is te put uit die tweede strofe:

 

Al heeft ons land een klein begin,

Wij gaan met moed de toekomst in,

Het oog op God gericht,

Die niet beschaamt wie op Hem bouwt,

Op Hem als op een burcht vertrouwt,

|: Die voor geen stormen zwicht. :|

(Die hele lied se bewoording kan hier gelees word. Die kan hier geluister word.)

 

Omstandighede het sedertdien geweldig verander, en die rol van burgerlike instellings soos Solidariteit en AfriForum word by die dag belangriker.

En so ook Maroela Media wat as platform nie die aflaaiplek van negatiwiteit, onfatsoenlikheid en smerigheid kan of wil word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gemsbok ·

Tim du Plessis is reg, Suid-Afrika is besig om by Afrikaners verby te beweeg. Soos ‘n kind wat sy ouers se huis ontgroei en soek-soek, soms struikelend, sy eie pad moet vind.

Hierin is daar geen tragedie vir die Afrikaner nie, want soos die wêreld nie tot ‘n einde kom vir ouers met ‘n leë nes nie, sal Afrikaners weer nuwe inhoud moet gee aan wat die lewe vir ons beteken, en belangriker nog, wat ons as volk daartoe gaan bydra.

Ons is ook nie die enigste volk wat homself moet vernuwe nie. Dit is die lot van alle klein volke. Kyk maar na die Grieke wat vandag weer voor ‘n krisis staan ten spyte daarvan dat hulle voor, tussen en na Persiese, Romeinse en Ottomaanse oorheersing, bloeitydperke kon beleef wat vir die Westerse wêreld van ontsaglike betekenis was.

Ons is egter wel die enigste gebiedlose volk in die wêreld, met nie ‘n enkele munisipaliteit onder ons politieke beheer nie.

Gaan hierdie gebrek aan ‘n vernuwende heimat ons volksorganisasies tot sterftebegeleiers reduseer, of gaan hulle met Solidariteit en Afriforum op die voorpunt ons lei na waar ons die eerste strofe van die Vrystaatse volkslied kan herstel?

herrie ·

Dankie Gemsbok, ek is oortuig met so ‘n bedaarde aanslag kan bitter baie vermag word. Herman

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.