Nuuskommentaar: Van Utøya tot plaasaanvalle – om pa (en ma) te staan

Uit verslag na verslag van die ouditeur-generaal blyk dit dat die gebrek of afwesigheid van verantwoordbaarheid in Suid-Afrika ‘n sleutel tot die gespartel is om die and behoorlik te bestuur en te regeer. Dit is pas weer deur die handboekkrisis in die onderwys gedemonstreer, waar niemand, insluitend die minister, bereid is om verantwoording te doen nie.

Daar is ‘n verskil tussen verantwoordelik wees (vir ‘n gemors) en verantwoordbaarheid. Dit word goed gedemonstreer deur die reaksie op die amptelike verslag van die moordorgie van die Noor, Anders Breivik wat gister aan die premier van Noorweë, Jens Stoltenberg, oorhandig is. Reeds gister is Stoltenberg se kop oor ‘n wye front geëis.

Breivik, en nié Stoltenberg nie, was verantwoordelik vir die bloedbad. Om te bepaal of Stoltenberg sy verantwoordbaarheid enigsins versuim het, is dit nodig om kortliks na aspekte van die verslag te kyk.

Die Noorse bloedbaddens wat op 22 Julie verlede jaar deur die ekstremis, Breivik veroorsaak was, kon voorkom gewees het, lui die skerp kommentaar van ‘n kommissie van ondersoek. In die verslag van 482 bladsye word beskryf hoe iemand die polisie met ‘n wenk gebel het oor die bom wat Breivik voor ‘n staatsdepartement geplaas het. Hy het ook ‘n breedvoerige beskrywing van Breivik gegee, en ook die nommerplaatbesonderhede van die bomplanter se motor. Breivik het ook met dié motor na die eiland Utøya gereis. Agt mense is in die bomontploffing dood, terwyl 69 mense op die eiland dood is.

Volgens die verslag het die inbelsentrum van die nooddienste die wenk na die polisie se bevelsentrum deurgegee waar bykans 20 minute lank nie daaraan aandag geskenk is nie. Voorts meld die verslag dat die polisie noodplanne in plek het, maar dat die planne gebrekkig is en nie volledig uitgevoer is nie.

In ‘n interne verslag het die polisie vroeër ook reeds toegegee dat nie vinnig genoeg opgetree is nie. Benewens ‘n kommunikasieprobleem het verskeie ander sake ook skeefgeloop.

Die polisie wat na Utøya gegaan het, het ‘n te klein boortjie gebruik, wat onderweg die gees gegee het. Hierna is nie van die bote van vakansiegangers gebruik gemaak nie. Die polisiehelikopter kon ook nie gebruik word nie, want die loodse was met vakansie.

Die kommissie looi in hul verslag ook Noorweë se veiligheidsdiens. Die kommissie meen Breivik moes onder hul aandag gekom het toe hy die chemikalieë aangeskaf het om die bom mee te vervaardig.

Die kommissie is ook ongelukkig omdat die straat voor die regeringsgebou nie vir verkeer afgesper was, soos sewe jaar tevore reeds aanbeveel was nie.

Dit is veral oor die versoeke vir die sluiting van die straat vir verkeer dat Stoltenberg se kop op die blok is. Na ‘n bevinding dat die ligging en struktuur van die gebou hom uitstekend tot motorbom-aanvalle leen, het ‘n gekibbel losgebars, waaraan Stoltenberg self deelgeneem het. Hy het geargumenteer dat so ‘n bedreiging te onwaarskynlik is. Breivik se verhoor word op 24 Augustus voortgesit.

Ook gister is op eie bodem berig dat die presidensie AfriForum se pleidooie na die minister van polisie, Nathi Mthethwa, verwys het. Die nuus volg kort na die nuus van nog plaasaanvalle wat lewens geëis het, en waartydens ‘n Amerikaanse burger ernstig gewond is. Vanoggend berig Volksblad dat dié aanval die land duur aan buitelandse beleggings kan kos.

Nie die minister of die president was self by enige van hierdie aanvalle betrokke nie. Maar daar is ‘n ernstige aanklag in die volgende woorde van die TLU SA:  “Ons pleidooie by die regering val op dowe ore. Dalk sal hulle begin luister as van die groot moondhede hulle stem begin dik maak. Dit is wat TLU SA hoop om te behaal uit ’n gesprek met die Amerikaanse ambassadeur.”

Met verwysing na ‘n betoging teen landelike misdaad op 19 Junie na die Uniegebou, skryf Afriforum: “Tydens die betoging is ʼn memorandum aan die presidensie oorhandig. Dit eis ondermeer dat die regstelsel reggeruk en doeltreffend bestuur moet word; dat gevangenes nie meer kwytskelding van tronkstraf moet ontvang nie; dat plaasmoorde as prioriteitsmisdaad geklassifiseer word; en dat die regering sy onderneming gestand doen en spesialiseenhede vir landelike veiligheid instel.“ (Lees die volle memorandum hier).

Ook hier moet iemand pa (of ma) staan vir die versuim om die landelike beveiligingsplan behoorlik te implementeer. Trouens, Vrystaat Landbou het reeds ‘n skikking buite die hof bereik dat die regering onderneem het om sy verantwoordelikheid vir veiligheid teenoor die burgery, en in die besonder die plaasbewoners, na te kom.

Die onvermoë of onwilligheid tot verantwoordbaarheid is nie eie aan die Zuma-administrasie nie. Waarskynlik die mees geldige kritiek teen oud-president Nelson Mandela was dat hy ook bedenklike swak ministers aangestel het. Wanneer die publiek hulle moedeloos met hierdie nulle gespook het, het hulle hul op die presidensie beroep, en weer niks gehoor nie. Uiteindelik het dit geblyk dat sy kantoor as prosedure klagtes oor ministers na die ministers self verwys het. In verskeie departemente dra die land vandag nog die gevolge van hierdie “bestuurstyl.”

Onder Zuma se presidentskap het die land in een jaar tien plekke op die korrupsiepersepsie-indeks teruggesak. Om sout in die wonde te smeer sak die land ook op ander belangrike indekse soos die vredesindeks en die sogenaamde piesangrepubliek-indeks (indeks vir mislukte state) terug. Ook hiervoor moet iemand pa staan.

Met die aflegging van die ampseed onderneem ‘n president immers om hom ten volle te wy aan die welstand van die republiek en al sy mense. Ministers onderneem om hul amp met waardigheid en eer te beklee. Maar handboeke lê in die veld in plaas van by skole… Plaasaanval op plaasaanval vind plaas.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae