Nuuskommentaar: Van Zuma, honde en kultuur

 

Mandela en sy hond Foto: Alf Kumalo

Verwagtinge wat deur pres. Jacob Zuma se beeldpoetsers geskep is dat hy  sy tweede termyn as ANC-president wyser sal aanpak, omdat hy ‘n termyn se leerkurwe agter die blad het, en “stabiliteit” met nog ‘n termyn sou verseker, is sommer baie vroeg die nek ingeslaan met sy honde-opmerking. Die presidensie se gebruiklike poging om skadebeheer toe te pas het die situasie net vererger.

Op sosiale netwerke word die president se blaps genadeloos aan die kaak gestel. Kultuur is primêr ‘n kulturele, en nie ‘n rassesaak nie. Die mens se paadjie saam met sy beste vriend strek baie ver terug, soos paleontologiese bevindings wat aandui dat die mens minstens 30 000 jaar gelede reeds die hond in verskillende wêrelddele gedomestiseer het, en daarna bykans wêreldwyd weer en weer gedoen het. ‘n Groep paleontoloë het selfs die gedagte geopper dat die moderne mens se domestikasie van die hond aan hom ‘n mededingende voordeel bo die Neandertal besorg het, en dit tot die verdwyning van die Neandertal bygedra het.

Daar was bykans geen wêrelddeel wat die Europeërs bereik het, waar die inboorlinge nie reeds honde aangehou het nie. In Suider-Afrika is die bekende Rhodesiese rifrug in ‘n groot mate uit die inheemse hond van die Koi geteel.

Met die mens se verspreiding oor die wêreld was ‘n kulturele vermenging grootliks onafwendbaar. Die westerlinge kan heelwat na hul kultuurgoedere juis na Afrika, en spesifiek Egipte, terugvoer. Die Amerikaners is waarskynlik danksy die invoer van slawe uit Afrika met sorghum vertroud gemaak, waarvan die VSA en ander Amerikaanse lande nou die vernaamste produsente is. Verskeie kulture in die ou wêreld het gewasse wat deur die Indiane ontwikkel is, soos mielies, aartappels en patats as stapelvoedsel aangeneem.  

‘n Amerikaner skryf onlangs op die internet hoe hy bobotie mis (hy het geen idee hoe dit gespel word nie), wat hy by Suid-Afrikaanse vriende leer eet het, en wat op sy beurt uit die Ooste kom. Die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) het pas ‘n resepteboek bekend gestel van uitsonderlike resepte van minderheidskulture wat die gevaar loop om uit te sterf. Die Nederlanders vind die Afrikaanse woord “baie” ‘n baie leuke woord – ‘n woord wat ook uit Maleis gekom het.

Nie alle kulturele gebruike is goed nie. Die geharde veroweraar, Hernan Cortez en sy manne, was met afgryse vervul toe hulle deur ‘n Asteekse paleisvenster sien hoe ‘n piramide rooi van die bloed kleur soos die priesters die steeds kloppende harte van hul menslike slagoffers uitruk.     

Terwyl daar geen universele swart kultuur is, soos poligamie en eenvormige taal nie, het bitter min van die verrigtinge tydens Zuma se toespraak met enige swart kultuur verband gehou. Onder die items wat oorhandig is tel onder meer ‘n veelvertrekhuis, ‘n grassnyer en ‘n bed. Daarenteen is swart mense wat met hul honde gaan stap veel meer deel van verskeie swart kulture. Zuma se beeldpoetser, Mac Maharaj, het die saak in die koloniale taal, Engels, probeer regtimmer.

‘n Verhaal van vroeë, wêreldwye kultuurkontak waarby ook die Afrikaner inverweef is, speel hom nou in die nasionale argiewe van Djakarta, Indonesië af.

‘n Kolonie en volksplanting was nie in die Here 17 se gedagtes toe Jan van Riebeeck en onderdane na die Kaap gestuur is nie. Die uitsluitlike doel was om die reis tussen Nederland en die Oos-Indiese kolonies veiliger en draagliker te maak.

Die VOC se hoofkwartier was Batavia, vandag Djakarta, die hoofstad van hedendaagse Indonesië op die eiland Java.

Die kolonie aan die Kaap sou tot die Britse verowering daarvan ondergeskik wees aan die setel in Batavia.

Die VOC is in 1602 gestig en het soos ‘n regering opgetree. Dit het by die Nederlandse regering ‘n 21 jaar monopolie verkry vir handel in die ooste, en het die mag gehad om kolonies te stig, oorloë te voer en selfs om mense tereg te stel.  Die VOC het tussen 1602 en sy bankrotskap in 1796 sowat ‘n miljoen Europeërs na die ooste gestuur om sy oorsese ryk te help bedryf. Eers byna twee eeue na die VOC ontstaan het is die VOC se oorblywende belange deur die Nederlandse regering oorgeneem.

As hoofkwartier van die VOV het Batavia ‘n enorme argief opgebou. Die dokumentasie uit die Nederlandse tydperk – tot voor die Tweede Wêreldoorlog beslaan sowat 16 rak-kilometer bundels, waarvan twee en halwe kilometer oorspronklike geskrifte van die VOC uit die 17de en 18de eeu is. Dit is ongeveer die helfte van die VOC se geskrifte wat ook in verskeie ander lande soos Suid-Afrika (Kaapstad), Nederland (Den Haag), Sri Lanka (Colombo) en Indië (Chennia) bewaar word. 

Die sowat 25 miljoen bladsye van brondokumente en hul afskrifte is in lande geskryf soos Suid-Afrika, Jemen, Iran, Indië, Sri Lanka, Indonesië, Maleisië, die Filippyne, China, Viëtnam, Thailand, Mianmar, Taiwan, Japan en Nederland.

 

So lyk die verwoestingswerk van die inkvraat in VOC-dokumente in die argief in Djakarta. Foto: Hendrik Niemeijer.

Hoewel dit nou in Indonesië se amptelike argief bewaar word, gaan sowat tien meter per jaar onherroeplik verlore weens onvoldoende bewaringspraktyke soos voggehalte waarin die inkvraat leef en die bladsye verteer.

In 1999 is die TANAP-ooreenkoms gesluit, die afkorting vir Towards A New Age of Partnership wat ten doel het om die geskrifte behoorlik te bewaar, te katalogiseer en digitaal vas te vang. Die dokumentasie in die verskillende argiewe word met die vingers van een hand vergelyk, wat nie geskei kan word nie. En al word die dokumentasie in Suid-Afrika en Nederland behoorlik bewaar, en vorder die digitalisering flink, geld dieselfde nie die ander nie, en word ‘n deel van Suid-Afrika se opgetekende geskiedenis oorsee bedreig.

Onder die kategorieë argiefmateriaal wat aan UNESCO voorgelê is wat spesifiek in Indonesië bygehou is, tel ook kerkgeskiedenis. Die voorlegging dui ongelukkig nie aan hoeveel hiervan op die Kaap betrekking het nie.

Indonesië self het nie die geld om behoorlike voorsorg te tref nie, en waarskynlik ook nie veel van ‘n politieke wil om iets uit sy gekolonialiseerde verlede noukeurig te bewaar nie. Die dokumentasie is ook in Nederlands, ‘n taal wat die jonger Indonesiërs glad nie verstaan nie, en dus as struikelblok vir akademiese navorsing dien. Die Nederlandse regering se hand is ook toe, en die bewaringswerk wat nou onder die leiding van Nederlanders gedoen word, word grootliks deur ‘n stigting gefinansier, maar is hopeloos onvoldoende.

Die dokumentasie bevat nie net waardevolle inligting oor die kulturele verlede van voormalige Nederlandse kolonies nie, maar ook ander lande met wie handel gedryf is. Na die Thaise opgetekende geskiedenis van die 17de en 18de eeu byna geheel en al verlore gegaan het, kon dit grootliks uit die VOC-annale hersaamgestel word. In Viëtnam het geen VOC-dokumentasie oorleef nie, maar tog kan die geskiedenis goed hersaamgestel word uit duplikate wat in Djakarta en Nederland bewaar gebly het. Byna geen Oosterse land, of ander westerse koloniale regering se geskiedenis wat met die ooste verweef is, is nie in die argiewe opgeteken nie.

Benewens waardevolle inligting oor kulture van daardie tyd, bevat dit waardevolle inligting oor klimatologiese toestande wat vir onder meer die bestudering van El Nino van groot waarde sal wees.

Indien die argiewe volledig is, behoort dit ook briewe en verslae, of die afskrifte daarvan, van Jan van Riebeeck en ander bekendes soos Simon van der Stel te bevat.

Die skrywer, Jan Rabie, het in die argiewe in Kaapstad ‘n leidraad gekry oor waar sy tuisdorp, Onrus, sy naam vandaan gekry het. Die goewerneur-generaal van Batavia het in ‘n brief aan Van Riebeeck verwys na die Onruseilande wat Batavia van die see se kant beskerm het. Op een van die Onruseilande was ‘n melaatse kolonie, soos wat ook eens by Onrus in Suid-Afrika bestaan het.

Die taalman, Anton Prinsloo, wys daarop dat die Afrikaanse uitdrukking, “dadels van kom” in alle waarskynlikheid teruggevoer kan word na Herman Daendels (wisselvorm Daedels) wat as goewerneur-generaal van Batavia en later goewerneur in Ghana, die reputasie gekry het as iemand wat groot planne gehad het maar min uitgerig het.

Om breedsprakig oor kultuur en kultuurerfenisse te wees beteken dat die geskiedenis daarvan nougeset bepaal moet word, en die geskiedenis self met vakkundige integriteit hanteer moet word. Die verwringing hiervan lei tot parodieë van die kultuur wat tot misbruike lei, en lei dikwels tot anti-kulture waar wetteloosheid, drankmisbruik, sedelike verval soos buite-egtelike kinders ter wille van toelaes, algemeen voorkom.

Indien Zuma nie sy rasbeheptheid begin bêre nie, gaan hy nog verskeie kere weens onkunde die land in ‘n verleentheid stel.  En dan gaan daar dadels van kom van sy beeldpoetsers se beloftes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Japie Botha ·

Ek dink Zuma moet n Veearts gaan sien, hy’s duidelik n bietjie olik!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.