Nuuskommentaar: Verkeerdstellende aksie

Christo February buite die arbeidshof. Foto: Reint Dykema

Opsomming

Die interdik wat Solidariteit Vrydag teen die Departement van Korrektiewe Dienste se ras-aanstellingsbeleid verkry het, se belangrikheid kan nie onderskat word nie.

Waarskynlik een van die taalkundige onsinnigste probleme is dat “affirmative action” in Afrikaans met “regstellende aksie” vertaal word. Waar “affirmative action” in ‘n land toegepas word om ‘n minderheid, of minderhede, te beskerm teen ekonomiese verswelging deur ‘n meerderheid wat die politieke mag hou, sal die impak van “affirmative action” en “regstellende aksie” taamlik na-aan mekaar kom, maar selfs in die VSA kom rasgebaseerde “affirmative action” toenemend onder druk, en verskuif die fokus na “regstellende optrede” en selfs weg van ras as norm.

Dit sal nou meer korrek wees om “affirmative action”, dit wat in Suid-Afrika toegepas word, met “begunstigde aksie,” eerder as “regstellende aksie” te vertaal.

Reeds in 1994 het grondwetkenners bedenkinge oor die gebruik van die woord “affirmative action” as bedoeling van die Suid-Afrikaanse grondwet uitgespreek. In die baanbrekerswerk, Fundamental Rights in the New Constitution verkies die skrywers, Cashalia, Davis, Maduna en andere die term “corrective action.”

Dit is belangrik om te onthou dat die regstellende aksie-begrip voortspruit uit die grondwetlike verbod op onbillike diskriminasie. Soos alle ander menseregte mag ook hierdie reg beperk word, maar die grondwetlike beginsel vir beperkings verbied dit dat beperkings so uitgelê mag word dat dit die oorspronklike reg wesenlik ongedaan maak.

Die meeste wetlike bepalings van begunstigde bevoordeling spruit uit arbeidswetgewing. Die interessantheid is dat die Handves van Menseregte se bepaling oor arbeidsreg nie na hetsy begunstigde aksie of regstellende aksie verwys nie. Die arbeidsreg moet dus primêr die grondwetlike verbod op onbillike diskriminasie omarm.

Daar is ‘n die magdom internasionale verdrae wat na regstellende optrede verwys, en veral die Internasionale Konvensie vir Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte bied belangrike riglyne, soos dat sommige gestremdes nie weens hul velkleur uitgesluit mag word nie. Trouens, dit behels meer as bloot om nié beperkende maatreëls in te stel nie, maar om aktiewe maatreëls in te stel om gelyke geleenthede te skep.

Ook minderheidsregte, byvoorbeeld dié van inheemse groepe, word genoem wat ook ‘n interessante kwessie is omdat die bruin kandidaat eerder as sy swart mededinger vir die status van inheems kwalifiseer. Die volledige nuuskommentaar kan hier gelees word. 

Inleidende opmerking

Die bedoeling van hierdie volledige nuuskommentaar is nie om die uitspraak van die volvervoor tussen Solidariteit en die DKD of enige ander soortgelyke saak vooruit te loop nie, en nog minder om ‘n volledige juridiese uiteensetting van die kwessie van regstellende aksie te gee. ‘n Volledige uiteensetting sou ’n verhandeling oor verskeie regsvelde behels.

Hiermee word bloot ‘n poging aangewend om ‘n bietjie perspektief van die komplekse aard te gee.

Taalverwarring oor die begrip

Die interdik wat Solidariteit Vrydag teen die Departement van Korrektiewe Dienste se ras-aanstellingsbeleid verkry het, se belangrikheid kan nie onderskat word nie.

Kritici vra hoe dit moontlik is dat ‘n vakbond, wat ingestel is vir die belange van werkers, ‘n interdik kan kry téén regstellende aksie – met ander woorde, ‘n maatreël wat iets wat verkeerd is moet regstel.

Waarskynlik een van die taalkundige onsinnigste probleme is dat “affirmative action” in Afrikaans met “regstellende aksie” vertaal word. Waar “affirmative action” in ‘n land toegepas word om ‘n minderheid, of minderhede, te beskerm teen ekonomiese verswelging deur ‘n meerderheid wat die politieke mag hou, sal die impak van “affirmative action” en “regstellende aksie” taamlik na-aan mekaar kom, maar selfs in die VSA kom “affirmative action” toenemend onder druk, en verskuif die fokus na “regstellende optrede” en selfs weg van ras as norm.

Dit sal nou meer korrek wees om “affirmative action”, dit wat in Suid-Afrika toegepas word, met “begunstigde aksie,” eerder as “regstellende aksie” te vertaal.

Reeds in 1994 het grondwetkenners bedenkinge oor die gebruik van die woord “affirmative action” as die bedoeling in die Suid-Afrikaanse grondwet uitgespreek. In die baanbrekerswerk, Fundamental Rights in the New Constitution verkies die skrywers, Cashalia, Davis, Maduna en andere die term “corrective action.” Die skrywers gebruik telkemale die begrip “individu” voor “groep” – die veronderstelde regstellende aksie was dus nie bedoel om ‘n groep, bv. swart mense, blindelings bo individuele gevalle, bv ‘n wit seun wat in ‘n kinderhuis grootgeword het, uit te sluit nie.

Trouens, pres. Barack Obama het ook die standpunt ingeneem dat sy dogters weens hul bevoorregte opvoeding, nie vir regstellende optrede moet kwalifiseer nie, en dat ‘n wit persoon wat in moeilike sosio-ekonomiese omstandighede grootgeword het, wél behoort te kwalifiseer. Dit staan in skrille kontras met minister Tokyo Sexwale se opmerking enkele jare gelde in ‘n toespraak dat hy graag ook wil sien dat sy bruin dogters (sy vrou is wit) ook nog die voordeel van “affrimative action” moet geniet. Hier kan van regstellende aksie geen sprake wees nie, en dui dit gewoon op begunstigde aksie, ter uitsluiting van die reg van ook benadeelde wit individue – soos wit gestremdes, van regstellende optrede.

Regstellende aksie in die grondwet

Dit is belangrik om te onthou dat die regstellende aksie-begrip voortspruit uit die grondwetlike verbod op onbillike diskriminasie. Soos alle ander menseregte mag ook hierdie reg beperk word, maar die grondwetlike beginsel vir beperkings verbied dit dat beperkings so uitgelê mag word dat dit die oorspronklike reg wesenlik ongedaan maak.

In die oorgangsgrondwet is die bepaling ingesluit dat ‘n prima facie-bewyslas (met die eerste oogopslag) voldoende bewyslas van onbillike diskriminasie is tensy die teendeel bewys word. Hoewel die finale grondwet nie die begrip “prima facie” insluit nie, word dit steeds geïmpliseer in die huidige bewoording, en is dit opmerklik dat die regter wat die interdik toegestaan het, ook bevind het dat Solidariteit prima facie bewys het dat die beleid van die DKD op onbillike diskriminasie neerkom.

Die meeste wetlike bepalings van begunstigde bevoordeling spruit uit arbeidswetgewing. Die interessantheid is dat die Handves van Menseregte se bepaling oor arbeidsreg nie na hetsy begunstigde aksie of regstellende aksie verwys nie. Die arbeidsreg moet dus primêr die grondwetlike verbod op onbillike diskriminasie omarm. Voorts word die administratiefreg deur die arbeidsreg self as ‘n “hoër reg” as arbeidsreg beskou, en die administratiefreg word weer behoorlik gerig deur artikel 33 van die grondwet en die gemenereg. Gemeenregtelik ken ons die beginsel van natuurlike geregtigheid, terwyl artikel 33 (1) van die grondwet dit stel dat elkeen die reg tot administratiewe handeling het wat regmatig is, redelik en prosedureel regverdig is.

Hoofstuk 14 van die grondwet verskaf die besonderhede oor hoe Suid-Afrika by internasionale verdrae en die internasionale reg ingebind is, wat onder meer daarop neerkom dat howe by die uitleg voorkeur moet gee aan ‘n uitleg wat versoenbaar is met internasionale reg.

In die geval van Suid-Afrika is dit ingewikkeld, omdat internasionale reg fokus op regstellende aksie om ‘n minderheid teen ‘n meerderheid met politieke mag te beskerm. Van die ou Maleisiese model om die Maleise meerderheid bo die bevoorregte Chinese minderheid te bevoordeel (selfs as oorgangsreëling) is daar in die internasionale reg skynbaar min spore oor.

Die Maleisiese model word wel dikwels bespreek al het Maleisië weinig van die internasionale verdrae onderteken wat op regstellende optrede gemik is. Die Maleisiese model was nie op die benadeling van die Chinese (en in ‘n mindere mate die Indiërs gemik nie) maar op die ekonomiese bemagtiging van die Maleiers en ander inheemse groepe. Chinese en Indiërs het byvoorbeeld volle burgerskap gekry en die grondwet het enige diskriminasie teen hulle verbied. Chinese maatskappy is in effek verplig om 30 persent van hul aandeelhouding deur verkope of nuwe uitgifte in Maleiers se hande te plaas, en universiteite het ook etniese kwotas gekry om aan te voldoen. Singapoer, met sy Chinese meerderheid het egter weggebreek wat die ontleding van die impak van die sosiale ingenieurswese bemoeilik, en in 2003 is universiteitskwotas afgeskaf.

Tog is daar in die magdom internasionale verdrae wat na regstellende optrede verwys, en veral die Internasionale Konvensie vir Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte bied belangrike riglyne, soos dat sommige gestremdes nie weens hul velkleur uitgesluit mag word nie. Trouens, dit behels meer as bloot om nie beperkende maatreëls in te stel nie, maar om aktiewe maatreëls in te stel om gelyke geleenthede te skep.

Ook minderheidsregte, byvoorbeeld dié van inheemse groepe, word genoem wat ook ‘n interessante kwessie is omdat die bruin kandidaat eerder as sy swart mededinger vir die status van inheems kwalifiseer.

Wanneer die volverhoor van Solidariteit-DKD plaasvind, sal veel lig gewerp word of Suid-Afrika se grondwet en die arbeidsreg dieselfde taal oor regstellende aksie praat.

Met die baie sake oor regstellende aksie wat die staat reeds verloor het, wil dit voorkom of die arbeidsreg oor regstellende aksie uit pas met die grondwet is, of dat die burokrasie die reg verkeerd (bly) vertolk.

Wat is die posisie nou in die VSA?

Hoewel “affirmative action” in die VSA, anders as in Suid-Afrika, om minderhede soos swart, Latino’s en Rooihuide handel, is die jongste verwikkelinge minstens interessant en moontlik relevant vir Suid-Afrika. Op die oomblik handel die litigasie veral oor raskwotas by universiteite.

Die VSA is ondertekenaar van twee internasionale verdrae wat rasgebaseerde regstellende aksie moontlik maak, en het so deel van die Amerikaanse reg geword. In 1997 het Jordan Post egter reeds in ‘n vakartikel gemeen dit sal nie in alle gevalle die toets van grondwetlikheid deurstaan nie, in besonder die vyfde en 14de wysigings (Amendments). Beide hierdie wysigings is gefundeer in die Magna Carta van 1215, en handel onderskeidelik oor die misbruik van staatsgesag in regshandelinge, en die “due process” dat mense se regte nie sonder ‘n behoorlike regsproses ontneem mag word nie. In die appèlhofsaak van Administrator of Transvaal versus Traub and Others (1989) het ‘n soortgelyke beginsel in Suid-Afrika in die presedentereg neerslag gevind. Dit behels in kort dat ‘n persoon nie as “ongeskik” vir ‘n pos of bevordering bevind mag word sonder die behoorlike toepassing van die audi altaram partem-reël nie. Slegs deur dié reël toe te pas sal vasgestel kan word of die kandidaat uit die nie-aangewese groep dalk op ander gronde as ras méér vir regstellende optrede kwalifiseer as een uit die “aangewese groep.”

Rasgebaseerde regstellende optrede het reeds in die VSA se hoogste hof, die Supreme Court onder skoot gekom in die belangrike New Haven, Connecticut-brandweersaak (2009).

New Haven het alle bevorderings teruggehou omdat geen swart, en net een Latino-kandaat die bevorderingseksamen geslaag het, en die wit brandweermanne het hulle weens “omgekeerde diskriminasie” tot die hof gewend.

Die Obama-administrasie het pas ook toegetree tot ‘n saak voor die Supreme Court, in ‘n saak waarin ‘n wit vrou die Universiteit van Texas hof toe gesleep het na sy weens beweerde rassediskriminasie toegang geweier is.

Die dispuut handel oor die maatreëls wat die universiteit tref om groter swart en Latino-verteenwoordiging in sy studentegeledere te kry. Die vrou, Abigail Fischer dagvaar die universiteit vir rassediskriminasie.

Na die Supreme Court voorheen teen regstellende aksie beslis het, het die universiteit ‘n “top tien” beleid gevolg waardeur toelating gebied is aan die top tien persent van skole in sy voedingsgebied. Hierdie ras-neutrale beleid het die persentasie swart en Latino-studente laat toeneem.

In 2006 het die Supreme Court egter met die beslissende stem van regter Sandra O’Connor beslis dat universiteite ‘n besliste belang het daarby om groter diversiteit te behaal. Die Universiteit van Texas het daarna weer raskwotas ingestel.

Regter O’Connor het intussen afgetree en is vervang deur ‘n konserwatiewer regter.

Die feit dat die Supreme Court besluit het om die saak aan te hoor word wyd vertolk as ‘n voorneme om regstellende aksie in die vorm van rasgebaseerde “affirmative action” as rassediskriminasie in die ban te doen.

In sy voorlegging voor die hof het Obama se verteenwoordiger aangevoer dat ras een van die faktore behoort te wees wat universiteite mag aanwend. Die ander faktore sluit in sosio-ekonomiese omstandighede en werksondervinding.

‘n Storm het onlangs in die VSA losgebars na dit aan die lig gekom het dat Yale Law ‘n huidige kongreslid voorheen op voorkeur aangestel het om kwotas te bereik, omdat dié vrou glo deels Cherokee is. Dit blyk egter dat sou haar aanspraak op ‘n Cherokee-voorouer waar wees, sou sy 1/32ste Cherokee wees.  Lees die volledige Los Angeles Times-berig oor die Taxas-saak hier.

Enkele opmerkings oor die DKD-verweer

Die DKD se verweer vir sy “reg” om rassediskriminasie by bevordering toe te pas, is dat dit nasionale raskwotas ook op die Wes-Kaap toepas. Met die bruin bevolking wat in die Wes-Kaap ietwat meer as die helfte van die totale bevolking uitmaak, beteken dit dat aansienlike maatskaplike ingenieurswese aan die dag gelê moet word om “eilande” van nasionale verteenwoordiging in die Wes-Kaap in te stel.

Die DKD se verweer is dat dit nie diskriminerend is nie omdat dit elders in die land die bruin kwota verhoog.

By die bepaling van provinsiale grense en magte is egter verskeie faktore in gedagte gehou, waaronder dominante tale wat tot amptelike provinsiale tale gelei het,  asook ekonomiese lewensvatbaarheid. Die Wes-Kaap het dus nie toevallig ontstaan met ‘n meerderheid Afrikaanssprekend en ook bruin nie. Reeds met die opstel van die grondwetlike beginsels as voortvloeiend uit die Nasionale Vredesakkoord en die Kemptonparkse onderhandelings is riglyne in Beginsel XXI  6 (b) vervat waar provinsies sterk inspraak kry oor die kulturele  en sosio-ekonomiese aspekte wat eie aan die provinsie is.

Solidariteit se aanspraak dat DKD hom aan maatskaplike ingenieurswese skuldig maak is dus  nie sonder substansie nie.  

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae