Nuuskommentaar: Volskaalse oorlogspeletjies, kom hier ‘n kernoorlog?

Terwyl Suid-Afrika wag om te hoor of minister Trevor Manuel weer “buite konteks” aangehaal is toe hy die regering gemaan het om nie meer alles wat verbrou word voor die deur van apartheid te lê nie, speel daar in die Verre Ooste ‘n situasie hom af waarop die wêreld sy oë gerig moet hou.

Ontleders wêreldwyd besin oor die moontlikheid dat Noord-Korea se dreigemente teenoor veral die VSA tot ‘n kernoorlog kan lei. Dis ‘n sensitiewe omgewing van die wêreld waar Japan steeds die emosionele rowe van twee kernbomme in die Tweede Wêreldoorlog dra, en meer onlangse bestraling toe ‘n tsunami ‘n kernreaktor beskadig het.

Die ontledings in die media waag geen kanse deur te sê ‘n kernoorlog sal nié plaasvind nie, hoewel die kanse as bitterlik skraal beskou word. Noord-Korea kan enorme skade in veral Suid-Korea, en in besonder die hoofstad Seoel aanrig – veral as die Noorde eerste sal toeslaan.

Tog, met vandag se wapentuig en arsenale waaroor die VSA en sy bondgenote beskik kan so ‘n aanval die einde van Noord-Korea beteken, veral as dit ‘n kernoorlog word en die bondgenote ook op hierdie wyse terugslaan. Maar al hou die geallieerdes hul kernwapens op die grond of in die duikbote, die konvensionele slaankrag bly enorm.

Die vooruitsig van ‘n moontlike kernoorlog stof egter ook weer die denkers uit die tyd van die Koue Oorlog af, weliswaar effens aangepas omdat Noord-Korea nie werklik dieselfde soort bedreiging inhou soos wat die ou USSR en die VSA vir mekaar met hul kernwapenarsenale ingehou het nie.

Tog klink die terminologie bekend wanneer dit afgestof word. Terme soos interkontinentale ballistiese missiele, eerste-impak-aanvalle, en tweede impak-aanvalle is weer afgestof en word met die ou behendigheid van vervloë dae ingespan.

Twee faktore verskil egter. Daar is wel in die “ou dae” rekening gehou met die moontlikheid dat ‘n onstabiele leier van ‘n kleiner moondheid of selfs ‘n terreurgroep ‘n kernwapen sou bekom, en die kaarte deurmekaar  kan krap waar die VSA en USSR mekaar  met wedersydse vernietigingsvermoë op hul plek gehou het. Nou het daardie moontlikheid werklikheid geword in die persoon van die bloedjong Kim Jong Un. Hy is alles in een – onbeproef en dus onvoorspelbaar, as derde generasie president van die Kim-dinastie duidelik magsdronk maar goed geskool in die resep om die land se mense blindelings mee te sleur; hy hét kernwapens, hy hét missiele en hy dreig verwoed.

Niemand kan met sekerheid sê hy bluf of pers net af nie. Die ou waarheid van kernwapens besit was dat die waarde daarvan was om dit nié te gebruik nie. Die vyand moes bloot weet, of soos in die geval van die ou Suid-Afrika en Israel, net vermoed die land beskik daaroor en kan dit net dalk gebruik as die rug teen die muur is.

Die vermoede dat Kim bloot met bekpraatjies besig is, word versterk met die algemene opvatting dat Noord-Korea nie oor die vermoë, en veral missiel- en kernvermoë beskik om te doen wat dit wil doen nie. Kenners verskil bietjie oor Noord-Korea se vermoë om die VSA met aanvalle te bereik, en waar gemeen word dis dalk moontlik, word die akkuraatheid betwyfel. Dieselfde geld in ‘n mindere of meerdere mate vir die beloofde teikens van Hawaii en Gaum.

Nadat Noord-Korea in Desember verlede jaar suksesvol daarin geslaag het om ‘n voorwerp in ‘n wentelbaan te plaas, word die vraag ook al hoe meer gevra of Noord-Korea nie dalk hierdie tegnologie kan aanwend om  die VSA so met ‘n kernbom of twee te bestook nie. Die MIRV-tegnologie – ‘n veelheid kernplofkoppe wat van een vuurpyl af uit die ruimte terugkeer en ‘n veelheid teikens kan tref bestaan immers reeds dekades lank. Om slegs een plofkop “af te laai” kos slegs betreklike klein aanpassings aan Noord-Korea se bestaande tegnologie. Akkuraatheid bly skynbaar ‘n probleem, maar die VSA sal steeds nie daarvan hou dat ‘n kernbom in selfs die mees onbewoonde deel van die land ontplof nie.

Oor twee aspekte word Noord-Korea se tegnologie egter ernstig opgeneem. Met die lansering van die satelliet het Noord-Korea die vuurpyl in ‘n rigting gelanseer sodat dit nie oor ‘n buurland soos Japan of die Filippyne trek nie, maar dit sou die satelliet nie in ‘n doeltreffende wentelbaan plaas nie. Voor die vuurpyl se derde fase ontbrand het, het die segment egter eers ‘n ingewikkelde koersaanpassing gemaak en so in ‘n doeltreffende wentelbaan gekom.

Tweedens wil dit uit berigte, werklik of vir klimaatskepping deur intelligensiedienste se “stringers” in die media geplaas, voorkom of Noord-Korea oor ‘n ongelooflike vermoë beskik om missiele en vuurpyle blitsig uitmekaar te haal en weer te monteer, en so kat en muis met spioenasie-missiele te speel. Van die berigte is haas ongelooflik.

Dus kan die bondgenote werklik die kans waag dat Kim bloot bluf of afpers? Wat as daar selfs net ‘n een persent kans is dat hy onstabiel genoeg is om wel ‘n aanval te loods? Of anders gestel, kan die bondgenote waag om Noord-Korea nie eerste aan te val nie?

Met ‘n eerste aanval kan ‘n baie groot deel van Noord-Korea se gevaarlike wapentuig vernietig word voor dit gebruik word, waaronder ook hopelik die kernbomme of minstens die missiele en vuurpyle waarmee dit gedra word.

Presies wat moet Kim nog doen om sy hand finaal te oorspeel? Hy herverklaar die oorlog wat nog net met ‘n skietstilstand op die ys geplaas is, hy dreig om die skietstilstand op te skort, die rooi lyn wat tussen die bevelhebbers ingestel is om te voorkom dat ‘n misverstand tot gewapende konflik lei is verbreek, omtrent almal word links en regs beledig, Noord-Korea kondig aan dat ‘n kernaanleg wat vroeër as deel van ‘n ooreenkoms in ruil vir hulp gesluit is, weer operasioneel gemaak gaan word, daar word intensief met Iran saamgewerk, skynbaar op kern- en missieltegnologiegebied wat tot twee, in plaas van net een bedreiging kan lei…

En ontleders kan net tot by ‘n sekere punt die dreigemente tot die geïsoleerde Noord-Koreaanse idiomatiek “vertaal.” Want niemand weet of Kim se kop nie tog maar dalk raas nie.

Intussen word die wêreld verstom met media-artikels wat ongeveer net soveel data as ‘n eertydse intelligensieverslag bevat:
–       Christian Science Monitor se verslag
–       Los Angeles Times se verslag
–       Leopold Scholtz se rubriek in Die Burger
–       Greg Roberts se artikel
–       Trouw se artikel
–       Nuclear Threat Intelligence (NTI) se verslag

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae