Nuuskommentaar: Vooruitsigte ná ANC-kongres

President Jacob Zuma by Mangaung

Hoewel die herverkiesing van pres. Jacob Zuma as ANC-president die groot nuus was, en die land klaarblyklik duur gaan betaal vir die “luukse” dat so ‘n omstrede figuur so oorweldigend die pyp kon rook, het ander sake waarskynlik belangriker gevolge.

Die omvang van die verwagtinge wat nou van die sakeman, Cyril Ramaphosa, gekoester word na hy tot adjunk in Luthuli-huis verkies is, is onrealisties groot. Dit grens aan openlike wensdenkery omdat Ramaphosa in soveel opsigte as die teenpool van Zuma beskou word, en nou heel waarskynlik Zuma se opvolger sal wees. Onder die hoopvolle verwagtinge is dat Zuma grootliks sal terugtree en slegs as ‘n seremoniële president optree, met Ramaphosa wat as ‘n nie-amptelike eerste minister sal optree. Die ANC probeer dié verwagtinge blus deur dit duidelik te maak dat Ramaphosa nie voor 2014 – wanneer die volgende algemene verkiesing plaasvind, parlement toe sal gaan en sy plek as die land se adjunk-president sal inneem nie.

In die praktyk word die land egter eerder uit Luthuli-huis as uit die parlement regeer, en Ramaphosa sal vanuit die staanspoor nie-amptelik in die tuig staan. Mnr. Kgalema Motlanthe sal dus veel eerder die seremoniële posisie beklee, al word watter mooiklinkende opdrag ook al ook aan hom toevertrou. Die ANC se vernaamste motief om Motlanthe nie nou opsigtelik vir die wolwe te gooi nie, is waarskynlik die spreekwoord: “Hou jou vriende naby aan jou, en jou vyande nog nader.” Hoewel Zuma onder die afgevaardigdes na die kongres oorweldigende steun geniet het, is Motlanthe se steun onder die gewone ANC-lede waarskynlik nie veel minder as die van Zuma nie, en ‘n wegbreekaksie voor die 2014-verkiesing kan die party dan met daardie verkiesing erg knou.

Nietemin, Motlanthe sal in die geskiedenis opgeteken staan as die persoon wat kortstondig as president en as adjunk-president ingestaan het.

Onder die ander belangrike sake is die besluit dat nasionalisering “finaal” van die tafel is. Die fynskrif, saamgelees met die inhoud van die ANC se vryheidsmanifes, en die besluite oor grondhervorming, sal egter verseker dat nasionalisering as toekomstige beleid nie heeltemal van die tafel afgeval het nie. Slegs die tyd sal leer of die strategiese inkoop van die staat in bedrywe slegs as noodmaatreël bedoel is, soos wat die VSA byvoorbeeld met banke en ander bedrywe moes doen na die skouspelagtige ineenstorting van Wall Street.

Die opoffering van die beginsel van vrywillige verkoper, vrywillige koper, sal heel waarskynlik ‘n draai deur die grondwetlike hof loop, en indien die Mangaung-besluit die toets van grondwetlikheid oorleef, sal talle grondaankope waarskynlik daarna ook ‘n draai in die hof gaan maak. Die vernaamste probleem is dat die ANC horende doof bly vir die werklike oorsake van stadige grondhervorming, naamlik korrupsie en onbekwame amptenare, en dus nou die verkeerde simptome aanspreek. Nou word ‘n bykomende burokratiese instelling geskep, naamlik waardeerder-generaal, terwyl die grondwet self steeds die howe as finale arbiter stel. Hoe dit korrupsie gaan uitskakel en goedkoper as die bestaande gaan wees, is nie duidelik nie.

Die besluit dat ANC-lede wat van kommersiële misdaad soos korrupsie aangekla word, geskors, en by skuldigbevinding uit die party geskop word, is welkom. Of dit in die praktyk sal manifesteer, veral wanneer DA-gedrewe hofaksies dalk tot die hervatting van vervolging teen Zuma self lei, sal egter nog gesien moet word. As dit streng toegepas word, kan dit tenderpreneurskap ‘n ernstige knou toedien.

Die feit dat die ANC die probleme insien met sy beleid van kaderontplooiing is kwalik ‘n troos. Hoewel artikel 195 (4) van die grondwet voorsiening maak daarvoor dat “’n aantal persone” weens beleidsoorwegings in die openbare sektor aangestel kan word, open dit kwalik die deur vir grootskaalse kaderontplooiing en is ‘n verbreking van die internasionale konvensie in grondwetlike demokrasieë dat die staatsdiens a-polities en professioneel moet wees. Die kaderskole wat kaders beter moet toerus maak die beleid van kaderontplooiing nie minder ongrondwetlik nie. Ook Beeld is in sy hoofartikel  skepties oor die ANC se verbintenis tot beter openbare diens met behoud van kaderontplooiing.

Die kongres sal waarskynlik min doen om die vervreemding van minderhede van die ANC te stuit. Slegs een lid van ‘n minderheidsgemeenskap, Jesse Duarte, het die NUK se top ses gehaal, terwyl daar onder die ander tagtig lede slegs ‘n totaal van sewe mense uit minderheidsgemeenskappe verteenwoordig is. Dit sluit die spartelende Tina-Joemat Pettersson in, asook Pravin Gordan en Derek Hanekom.

Die verkiesing van die NUK word as die “nag van die lang messe” vir Zuma se teenstanders beskryf. Die kongres sal ook onthou word weens die arrestasie van vier regses wat na bewering sluipmoorde op die ANC-leierskskap tydens die kongres beplan het. Dié verwikkelinge het die onlangse suksesse van Afrikanerdiplomasie in alle waarskynlikheid erg geknou.

Daar gaan waarskynlik ook vir die SAUK nagevolge wees na dié instansie blatant as Zuma-imbongi opgetree het, en veral die kansellasie van ‘n besprekingsprogram hom klagtes by IKOSA op die lyf laat loop het.

Indien die volledige “Zumafikasie” van die ANC tot ‘n nuwe party onder sy teenstanders gaan lei, sal die slae wat Motlanthe gekry het waarskynlik die bewustheid by die ontevredenes versterk dat daar nie tot te na-aan 2014 gewag kan word om ‘n party te stig nie. Om te lank voor die tyd ‘n nuwe party te stig, hou ook probleme in, aangesien van die mees prominente lede nou parlementslede is en hul setels kwyt sal wees as hulle die ANC verlaat. Te lank voete sleep kan egter ook daartoe lei dat ontevrede voetsoolvlak-lede hulle nou by bestaande partye soos Cope, die DA en die UDM sal aansluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.