Nuuskommentaar: Vrede en die Olimpiese Spele

Vanaand is die amptelike opening van die Olimpiese Spele. Lande wat erg vyandig teenoor mekaar is, se sportlui sal onder die oë van die wêreld aan ‘n optog deelneem.

Die ideaal van vrede rondom die Olimpiese Spele is nie nuut nie. Duisende jare gelede al, met die antieke Olimpiese Spele, het oorlogvoerendes hul twiste en haat eenkant gelaat en ‘n maand lank in vrede op die aanloop van die spele, die spele self, en die afloop daarvan gefokus, en dan eers weer verder oorlog gemaak. Dat die gees van vrede nie meer geld nie, het duidelik daaruit geblyk toe die Noord-Koreaanse span afgestap het toe die organiseerders per abuis die Suid-Koreaanse vlag vertoon het. Formele vrede is nog nooit sedert die twee lande geskei is, gesluit nie, en geld daar eerder ‘n ongemaklike skietstilstand.

Daar is ook geen sprake van dat die Siriese regering en die opstandelinge nou ‘n maandlange vrede tegemoet gaan nie. Dit lyk of die byna onverklaarbare getrouheid van Sirië se grootste stap, Aleppo, aan sy tradisionele mededinger, Damaskus, nou iets van die verlede kan wees met die opstandelinge wat skielik groot dele van Aleppo verower het. Aleppo is naby aan die Turkse grens geleë en Turkye reageer skynbaar voorkomend met troepeversterkings in die omgewing. Maar dit lyk al lank of Turkye net na ‘n verskoning soek om die magte van pres. Bashar al-Assad te takel.

Dit lyk ook of Iran en die Weste onder die leiding van die VSA enige oomblik tot meer as net ‘n woorde-oorlog sal oorgaan. Onlangs het die magtigste man in Iran, die Ajatolla Ali Khameni tydens ‘n besoek aan soldate die laaste oordeel voorspel. Ingevolge die Sjiïtiese tradisie breek ‘n vredesryk aan, maar daarvoor eers ‘n tyd van onheile en oorloë. Veral ontstemmend is sy stelling dat die wêreld reeds die era van die 12de Imam beleef waartydens dit alles sal plaasvind.  Kortom, hy het die soldate geestelik op oorlogvoering voorberei. Verlede maand het sportlande van oor die wêreld by die antieke Olimpia byeengekom as deel van die IOK se Internasionale Forum vir Sport vir Vrede en die Olimpiese Staak van Vyandelikhede.

Dit is egter duidelik dat die wêreld van vandag nie tot dieselfde ideale ingebind kan word as die antieke wêreld van die Grieke nie, en dikwels eerder die titel “barbaar” verdien wat die Grieke alle nie-Grieke genoem het. Trouens, baie van die ideale van die stigters van die moderne Olimpiese Spele het reeds in die slag gebly.

Paul Joubert, senior navorser van Solidariteit, wys daarop dat Pierre de Coubertin, wat as die vader van die moderne Olimpiese Spele beskou word, nie die werklike baanbreker was nie. Die Engelsman William Brookes, het al sedert 1850 gereeld “Olimpiese Spele” in die dorpie Much Wenlock in Shropshire en op ander plekke in Engeland gereël en aangebied. Brookes het in 1889 vir De Coubertin na die Spele uitgenooi, waar De Coubertin inspirasie gekry het om die Olimpiese Spele op nog groter skaal te laat herleef. Baie van die idees en ideale van De Coubertin se Spele het hy eintlik by Brookes gekry, wat antieke Griekse ideale gekombineer het met Middeleeuse idees van hoflikheid en sportmangees.

Nog ʼn persoon wat dit al voor De Coubertin begin het, was Evangelios Zappas wat ʼn paar jaar later ook in Griekeland “Olimpiese Spele” aangebied het. Brookes en Zappas was ook in kontak met mekaar. Baie van die ideale van destyds, soos dat die spele net vir amateurs mag wees, het lank reeds in die slag gebly. Ook die vredeselement is wreed versteur. In 1972 het Palestynse terroriste op die Olimpiese dorpie in München toegeslaan en die Amerikaanse swemmer, Mark Spitz, wat pas sy sewende goue medalje en wêreldrekord sy eie gemaak het, met ‘n slagting versluier. Uiteindelik is 11 Israelse atlete en beamptes, en ‘n Wes-Duitse polisieman dood, en 5 terroriste het in die bevrydingspoging ook met hul lewens geboet.

Dit is vanjaar presies veertig jaar later, en die wêreld hou asem op dat die digte veiligheidsnetwerk wat oor die spele getrek is, sal verseker dat dié spele in vrede en in die gees van die Olimpiese ideale afgehandel sal kan word. Mag die Suid-Afrikaanse atlete baie medaljes en harte verower.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.