Nuuskommentaar: Vrede of bloedlus?

Eergister het ‘n beraad oor samehorigheid in Kliptown begin en gister klaargemaak. Gister, presies vyftig jaar gelede het ‘n slagting aan die anderkant van die kontinent plaasgevind. Daardie slagting word min of meer verswyg … dit is grootliks uit die geskiedenisboeke geweer…

Die toneel was die Algerynse stad Oran. ‘n Ruk lank het die terreurorganisasie OAS (Europeërs teen Onafhanklikheid) “moordpartye” op Arabiere geloods, aldus die Nederlandse rubriekskrywer, Sylvain Ephimenco wat self in Oran gebore is. Die Algerynse bevrydingsbeweging het in gelyke munt met terreur teruggeslaan. Om 11:15 Julie 1962 het die bloedvergieting van Europeër-slagoffers in die stad losgebars, en is eers om 17:00 beëindig.

Dit was nie soseer die 700 Europeërs wat in dié tydjie vermoor is of verdwyn het nie, skryf Ephimenco, maar die onmeetlike wreedheid waarmee dit gepaard gegaan het.

“Mensen werd de keel doorgesneden, mensen werden met scheermessen bewerkt, gemutileerd of gecastreerd alvorens te worden afgemaakt. Sommigen kwamen in zogenaamde geïmproviseerde klinieken terecht waar hun bloed werd afgetapt.”…”Het was een explosie van opgehoopte razernij.”

Haat wat oor tyd opgebou het, het oorgekook en die onmeetlike smart tot gevolg gehad. Uiteindelik is die slagting gestuit toe ‘n Arabiese aanvoerder  van ‘n Franse eenheid opdragte om in hul barakke te bly verontagsaam het en gekeer het dat ‘n lang ry vroue en kinders wat reeds in ‘n ry laat staan is om vermoor te word, ook ‘n wrede dood sterf.

Verstaanbaar is Ephimenco, gewoonlik besadig beredeneerd, dié keer emosioneel, al het sy eie gesin ‘n week voor die voorval gevlug. Suid-Afrika beleef in die vorm van plaasmoorde iets wat veel met die slagting by Oran in gemeen het, hoewel dit ‘n lang uitgerekte proses is. Soos wat die geskiedenis min of meer oor die bloedorgie by Oran swyg, so speel die regering graag volstruispolitiek oor plaasmoorde.

Pas het pres. Jacob Zuma in ‘n koerantonderhoud weer te kenne gegee dat  plaasmoorde maar deel van die gewone misdaadpatroon van Suid-Afrika is. Selfs al sou dit wees, is die Suid-Afrikaanse moordkoers van 32 per 100 000 per jaar skrikwekkend hoër as die wêreldgemiddeld van sowat 5. Maar die moordkoers onder boere en gesinslede is baie hoër as die Suid-Afrikaanse gemiddeld, met syfers wat konserwatief op sowat 100 per 100 000 per jaar geraam word, maar gewoonlik veel hoër. Die VF Plus sê in sy reaksie dit is 313 per 100 000 per jaar.

Wat wreedheid betref, staan die Suid-Afrikaanse plaasaanvalle nie vir die wreedheid in Oran terug nie. Die reaksie op Zuma se stellings was dus nie onverwags woedend nie. Dit kook behoorlik in internetkommentare. Hy het die beraad wat tydens sy onderhoud onderweg was, ernstige skade berokken. Maar dit is nie al nie. Veroordelings van Ronald Lamola se gevlamde woorde het uit regeringsgeledere nog kennelik ontbreek. Die ANC het homself as party toegevoeg om die haatspraakverhoor van Julius Malema teen te staan, en nou die appèl te dryf.

Natuurlik word polarisasie nie net van een kant af aangeblaas nie. Sommiges gaan verder as net woorde. Mense slyt hul lewens in tronke, dikwels omdat hulle deur ander beïnvloed is. Presies wat gaan dit kos om mense wat so roekeloos polarisasie aanblaas tot hul sinne te laat kom?

Is die vlammende woorde wat kort-kort gehoor word nie genoeg om mense te laat besef hulle kan iemand anders  aanstig tot “een explosie van opgehoopte razernij” en nie die gevaar loop om bloed op hul hande te hê nie. Dit is jammer dat baie politiek-geïnspireerde sprekers by die Kliptownberaad ‘n hoër premie op hul eie persepsies en ideologie as landsbelang gestel het. Christelike beginsels van naasteliefde is egter nie iets wat net by spesiale kongresse afgestof moet word nie, dis ‘n lewenswyse. So ook die strewe na die waarheid, en daarom is daar nie meer ruimte vir politieke korrektheid wat op persepsies bebou is nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae