Nuuskommentaar: Vredesindeks, Cele en Sisulu

Bheki Cele. Foto: GCIS

Drie groot, maar skynbaar onverwante nuusgebeure het gister ‘n duidelik stempel op Suid-Afrika geplaas. Die jongste wêreldvredesindeks het die lig gesien, die polisiehoof, Bheki Cele is afgedank en deur Riah Phiyega vervang, en Lindiwe Sisulu is die Verdedigingsportefeulje kwyt en na Staatsdiens en Administrasie verskuif.

Volgens die jongste Wêreldvredesindeks beklee Suid-Afrika nou die 127ste posisie uit 158 lande, na dit die vorige jaar nog die 122ste posisie en in 2007 die 98ste posisie beklee het.

Zimbabwe vaar nog swakker as Suid-Afrika in die 140ste posisie, teenoor Botswana in die 31ste posisie, Namibië in die 49ste posisie, en Angola wat vir sy skerp verbetering uitgelig word, die 95ste posisie beklee. Onder die Brics-lande, vaar Brasilië (83) en China (89) beter as Suid-Afrika, terwyl Indië (142) en Rusland (153) swakker vaar.

Ysland het eerse gekom, gevolg deur Denemarke, Nieu-Seeland, Kanada, Japan, Oostenryk, Ierland, Slovenië, Finland, Switserland en België. Die mins vreedsame lande is Somalië, Afganistan, Soedan, Irak, Rusland, Israel, Pakistan, Libië, Sirië, Nigerië en Colombia.

Suid-Afrika het vroeër vanjaar van die 38ste na die 42de posisie op die persvryheidsindeks teruggesak, en met tien plekke tot die 64de plek op die korrupsiepersepsie-indeks teruggesak. Al hierdie indekse het ‘n groot impak op beleggersvertroue, en die kreeftegang daarop is ‘n groot rede tot kommer. Ekonome kan met die beste planne ter wêreld  vorendag kom, maar as die politici dit met sake vertroebel wat die persepsie van korrupsie of onstabiliteit voed, word die ekonome se werk gesaboteer. Dié werklikheid word goed onderstreep in ‘n baie onlangse verslag van Transparency International waarin getoon word hoe korrupsie in veral Suid-Europese lande Europa se ekonomiese herstel ondergrawe.

‘n Land se posisie op die vredesindeks word nie net deur geweld soos wat in Somalië of Sirië voorkom bepaal nie, maar deur ander sake soos geweldsmisdaad, die grootte van die weermag en burgerlike protes. Suid-Afrika se posisie op die vredesindeks boer agteruit ten spyte daarvan dat die posisie se amptelik misdaadstatistiek op ‘n vermindering in belangrike aspekte dui. Nogtans staan Suid-Afrika soos ‘n seer duim uit as dit by sy moordkoers kom, wat amptelik op 32 per 100 000 per jaar staan, maar volgens die Mediese Navorsingsraad se syfers heelwat hoër moet wees.  Volgens sommige bronne is die wêreldgemiddeld in die orde van 7,6 per 100 000 per jaar. Suid-Afrika staan ook as die verkragtinghoofsetel van die wêreld bekend, met ‘n amptelike koers van seksuele oortredings van 132 per 100 000 per jaar, met belangrike instansies soos die SAPD, maatskaplike dienste en Interpol wat meen minder as een uit ‘n 100 gevalle word hoegenaamd by die polisie aangemeld.

Waar handelsmisdaad boonop jaarliks flink styg, en die land agteruit boer op die korrupsiepersepsie-indeks, is dit baie belangrik dat daar geen sweempie agterdog oor die onkreukbaarheid van die polisie se leierskorps, en uiteraard nie by ‘n enkele polisielid moet wees nie. In Suid-Afrika sit Cele se voorganger in die tronk na hy na bewering deur pres. Jacob Zuma se voorganger beskerm is, en hang daar weer ‘n wolk oor Cele self. Boonop het die saga rondom Richard Mdluli die land baie skade berokken.

Die persepsie dat Lindiwe Sisulu nie ‘n wafferse minister van Verdediging was nie, loop diep, maar so ook die persepsie dat die ANC ‘n minister as bekwaam genoeg vir die ministersamp beskou as sake nie behoorlik in ‘n gemors ontaard nie. Trouens, pres. Jacob Zuma is die eerste president uit die ANC-bewind wat darem op ‘n redelike skaal onbekwame ministers afdank, al is dit steeds hopeloos te laat.

Sisulu is egter nie afgedank nie, maar na ‘n portefeulje geskuif wat kwaai eise gaan stel aan daardie aspekte van haar mondering wat onder verdenking staan – haar vermoë om te bestuur. Die staatsdiens is juis nou in taai loononderhandelinge gewikkel, en gedagtig hoe loonsake in die SANW hanteer is, kan die moeilikheid nou in die staatsdiens verdiep.

Die SANW is lank nie meer ‘n gerespekteerde instelling wat dit was nie, soos blyk uit die voortgesette renosterstropery in die Krugerwildtuin na die SANW die grensbeveiliging by die spartelende polisie oorgeneem het. Tog wonder ‘n mens of Sisulu se skuif veel met bekwaamheidsvlakke te make het. Sy was onlangs in die nuus toe sy emosioneel geraak het tydens ‘n gedenkgeleentheid oor die soldate van die ou SAW wat gesneuwel het. Het ANC se veterane nie dalk haar kop hieroor geëis nie? Sisulu se naam het pas weer as uitdager vir Zuma uit die hoed geval, na dit voorheen ook geopper is. Wil Zuma daarom die gewapende magte in die hande van lojaliste behou, vir ingeval sak die einde van die jaar lelik skeefloop wanneer die leierskapsverkiesing plaasvind? Nathi Mthethwa word immers as minister van polisie behou, en niemand behalwe hy self het hom nog van besondere bekwaamheid beskuldig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.